Onder die dak van ons huis is ’n mossienes wat al ’n hele paar seisoene deur dieselfde paartjie gebruik word. Waar ander mense met mag en mening die neste verwyder en gate toestop, ongeag of daar kleingoed in die nessie sit en vergaan van honger, volg ek ’n beleid van leef en laat leef.
Mossies word oor die algemeen maar baie gering geskat en dis seker een van die min voëltjies op aarde wat deur elke Jan Rap en sy maat uitgeken word. Kyk egter mooi na hulle en sien wat ’n pragtige voëltjie dit is, veral die mannetjie met sy swart beffie en spierwit C-vormige gesigmerke. Ek praat spesifiek van die huismossie, want daar is ses soorte mossies in Suidelike Afrika.
Hierdie afgelope seisoen het ek al vier kleingoed onder die nes opgetel en begrawe in my diere-begraafplaas voor in my tuin. Daar lê alreeds ’n hadida, verskeie paddas, Koi-visse wat uit ons visdam gespring het, babamuisies, rotte, akkedissies, geitjies … almal word met deernis daar weggelê onder die vrugbare kombers van klam blare en sagte grond.
Gister was dit amper weer sulke tyd as dit nie vir ons tuinier, Obed se oplettendheid was nie. Deur die jare het ek hom voortdurend bewus gemaak van die lewe om hom in die tuin. Waar hy aanvanklik alles verbrysel het en met gif wou verdelg, is hy nou heeltemal ingestel op elke lewende wesentjie se teenwoordigheid en funksie. Die gevolg is dat ek gedurig geroep word om te “kom kyk”. Glo my, hy doen interessante waarnemings!
Nietemin ek word weer buitentoe geroep en staar met afgryse hoe ons mossievroutjie verwoed spartel by die ingang van haar nes onder die dak. Gou word die leer nader gebring en versigtig maak Obed die verwarde voëltjie los. Saam met haar kom ’n hele boskasie goeters waarin sy verstrengel geraak het. Dit het ons ’n goeie sewe minute gekos om alles versigtig los te sny. Die gemors het bestaan uit stukke ‘sellotape’, garingdrade, hare, plastiekrepe en ander plantmateriaal. Haar een ou toontjie het al begin blou word soos die taai plakgoed al hoe vaster gewoel het. Toe ons haar laat los, was daar vreugde in die swiep van haar vlerkies en uitbundige tjilp geluidjies.
Deur mense se onnadenkendheid speel sulke voorvalle daagliks af. Dink voor jy volgende keer garedrade weggooi. Knip dit liewer in klein stukkies en sorg tog dat plakgoed veilig toegewoel is waar ons geveerde vriende dit nie kan kry nie … Veral nou met al die Kersgeskenk-toedraaisels en die blink tinsel op die kersbome.
Heerlike Feesgroete aan julle almal!
Perdebytjie


