Bokomo-brekfisbrief; 24/11/2010: Eenvoud

  • 0

Ons is pas terug van 'n wonderlike toer na Kaokoland, in die Noordweste van Namibië. Dit was net ek, manlief en 'n toergids, gebore en getoë in Namibië. Op ons hele reis het ons net drie motors teëgekom en die gids was elke keer heel teleurgesteld daaroor. Daar is nog min plekke op aarde waar die sotlikste spesie ooit, (verskoon my sinisme) se pote nog nie sy sinnelose voetspore laat insink het nie! Kaokoland is een van hulle, maar dis seker ook net 'n kwessie van tyd, voordat die moegoes dit ook kom bederf, net om te kan sê hulle was daar.

Die landskap is eenvoudig asemrowend, wisselend van grys reusagtige bergreekse, kaal oop vlaktes, goudgeel gras, geharde plante, rivierbeddings met ou Kameeldoring- en Anabome, plekke waar klippe soos reuse albasters vir kilometers gesaai lê, sonsondergange wat trane in die oë bring, sterre wat net 'n armlengte van 'n mens in die lug flonker en natuurlik … die STILTE!

Die lekkerste was die eenvoud waarmee ons gids die toer aangebied het. Die kombuisgereedskap het bestaan uit drie van elk messe, vurke, lepels, blikbekers en 'n papkommetjie. Een tafeldoek met vier klippe op die hoeke is saans netjies op die tafel uitgesprei. Ons enigste lig was een van daardie goedkoop lanterntjies met die glaskante, waarin jy 'n gewone ou “Lighthouse Brand”-kers staanmaak … geen sissende gaslampe, wat in jou oë skyn en die naggeluide verdof en arme niksvermoedende insekte 'n gruwelike branddood laat sterf nie!

Ons tentjie kon binne twee minute staangemaak word en elkeen het 'n bedrol gekry, met 'n lekker sagte matras, warm kombers en twee kussings. Soggens rol jy die spulletjie op, maak dit vas met 'n belt, gooi dit op die voertuig se dak..geen sweet! Met die minimum kakieklere, genoeg ondergoedjies en 'n ou pienk skottel met drie liter water elke oggend en aand, het ons mekaar nie geruik nie!

Dit was naderhand skoon lekker om nie te dink aan hare was, grimering, pommades en poeiers nie! Dis definitief nie aan te bevele vir dames wat haardroërs iewers wil inprop en soos safari-modepoppies wil paradeer nie. Ek het elke oggend my haarstyl verander…een oggend papnat agteroor soos 'n “Elvis Lick”, die volgende dag sommer vingers deurgetrek en 'n pet bo-oor die boskasie! Genadiglik was daar geen spieëls in sig nie en my reisgenote het baie taktvol geswyg net soos ek oor hulle!

Ons toergids het net so onder die sterre geslaap en saans die heerlikste kos voorgesit met die minimum moeite. Sy enigste kookgerei, was een ou “Hart” pot, 'n pan en 'n blikketel. Sy kookgereedskap was ook minimaal.  As die ou kersie amper opgebrand het, plak hy net nog 'n stuk bo-op die ou een en ons het weer lig vir twee aande!

In my volgende brief sal ek vertel van die wonderlike woestynolifante, swartrenosters en woestynleeus waarmee ons paaie gekruis het!

Groetnis

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top