Bokomo-brekfisbrief; 24/10/2010: 'n Huisie by die see

  • 0

Aan die begin van elke jaar is die briewekolomme in tydskrifte gewoonlik vol klagtes van mense wat aan kusdorpe woon. Die geteem van Martie Martelgat oor familie en verlangse vriende wat nooit van hulle laat hoor nie, maar wat oor die Kerstyd kom afpak vir ’n gratis vakansie. Martie wat haar afsloof, en almal hou vakansie behalwe sy.

Verskoon tog as ek nie meer simpatiek klink met Martie nie. Dit is dan ook die trant van die volgende vlaag briewe, min of geen simpatie. Kersfees is dan die tyd vir welwillendheid, om te gee. Sy kan mos maar net bloot die huiswerk verdeel, as iemand tuis genoeg is om homself vir vakansie te nooi, is hulle tuis genoeg om te help kosmaak en skoonmaak. Martie kan ook ’n kruidenierslysie saamgee as die gaste uitgaan, hulle kan dit wat nodig is vir die aandete saambring, en sommer betaal ook. Dan kan Martie heerlik uitrus terwyl die gaste uit is, en wanneer hulle terugkom, kan almal help om kos te maak.

Toe ons ’n groot stad vir ’n klein kusdorpie verruil het, het almal ons gewaarsku. Kyk maar hoe gaan mense julle skielik toepak, veral oor Kersfees, was die algemene mening. Nie my familie nie, het ek gedink. My familie kuier graag, en almal was nog altyd welkom by mekaar. Die wat wil kom kuier, sal meer as welkom wees. As kind was elke Kersfees was altyd ’n reuse-familiebyeenkoms, met die klem op kuier. Die kos ’n spanpoging, maklik en lekker. Die presente was maar ter wille van die kinders.

So was dit toe ook. Al ons familie het al kom kuier, en dit was nog elke keer ’n heerlike ervaring om iemand op die lughawe te ontmoet, of die volgelaaide kar te sien intrek vir die eerste keer. Almal help met alles, en ek moet net keer of hulle koop meer as wat ons vir die volgende maand kan opeet. Almal pink ’n traan as die vakansie verby is.

Ons eerste Kersfees by die see was die huis nog nie klaar ingerig nie, maar die klomp jong volwasse kinders en susters-kinders wat kom kuier het, het glad nie omgegee nie, ek dink hulle het dalk nie eers agtergekom nie! Dit was ’n groter plesier om hulle hier te hê as wat dit werk was. Dink net, ek hoef nie in lang toue te staan in winkels of banke nie, ek kon bloot die kinders stuur. Hulle het die brood gesmeer en die braaiwerk gedoen, slaai gemaak. Hulle geselskap was slim en skerp.

Verlede jaar Kersfeestyd was ons huis weer vol – nie net die kinders nie, maar ook ons krulkop kleinkind, wat nou vakansies by ouma en oupa by die see kan kom kuier. Ons was ook nou deel van die ouma-en-oupa-garde wat trots met hulle kleinkinders in die strate en op die strand paradeer.

Hierdie jaar is ek egter nie baie opgewonde om die Kersversierings in die winkels te sien nie. Kersfees is om die draai, en ons gaan alleen wees. Heeltemal alleen.

Maar.

Ek het ’n man met wie ek dit kan deel, en ek het ’n diepe dankbaarheid in my hart daarvoor. In jou herfsblaarjare is jy elke dag dankbaar dat jy nog nou maat by jou het.

MaanKind

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top