Noudat die Kakhuis weer in 'n biologiese katarsis verkeer en faal om die verskil tussen 'n penis en vagina aan te toon, gun my asb die geleentheid om te bewys dat mens nie 'n homoseksuele ou se manlikheid in twyfel moet trek nie.
In die vroeë negentigerjare het ek en mev van Winkel gereeld die Kaapse naglewe aangedurf. Dit was natuurlik voor die geboorte van die klein Klutte, en ons kon dit bekostig om elke naweek soos twee Seepunt-hoere die aand weg te suip.
Met hierdie partytjiesessies tel mens noodgedwonge die een vreemde karakter na die ander op. Dit is toe waar ons Herr van Vollenhoven en sy meisie, juffrou Schmidt, raaksuip. Van Vollenhoven was een van hierdie regte Duitse kapokhaantjies en na so paar sopies hardehout het ons jolig in die een of ander kroeg uit volle bors die "Schneewaltzer" begin sing.
Ongelukkig het die Van Vollenhoven- en Van Winkel-gespuis sommer bo-op die tafel begin tiete skud, en soos ons die Sneeuwals dans, mors ons die gekleurde shooters die hele kroeg vol. Die twee mans wat langs ons gesit het, het ons afkeurend aangekyk en die een vuil woord na die ander toegesnou.
Ou Van Vollenhoven verloor toe in die middel van die een of ander Duitse Bier-anthem sy balans, ploeg agteroor en kom holderstebolder bo-op een van die mans se skoot te lande. Dit is toe net daar waar die ander ene opstaan en sy vuiste bult.
"Gee pad uit ons kroeg voordat ek julle donner!" is al wat hy sê. Soos wat die hele skare se koppe na ons kant toe draai, besef ek met 'n yslike skok dat daar slegs mans teenwoordig is. So 'n paar van hulle staan hand om die lyf, en 'n koue rilling trek by my ruggraat af. Hierdie is nie 'n straight kroeg nie, Klut!
Van Vollenhoven het ook duidelik die boodskap gekry, maar pleks daarvan om te vlug, begin hy die gespierde man aan te vat. Duitse vloekwoorde vlieg heen en weer en juffrou Schmidt tree ook tot die geveg toe. Mev van Winkel het maar die hasepad gekies (in daardie jare het sy nog nie Thai Boks ontdek nie). Ek probeer tussenbeide tree, en tot my uiterse skok besluit van Vollenhoven om die spierpaleis die M-woord toe te snou.
Tot vandag toe nog weet ek nie hoe dit gebeur het nie, maar toe ek my weer kon kry, trek Van Vollenhoven soos 'n vrot vel deur die lug en val by die deur uit. Toe ek nog dink daaraan om te koes, kry ek 'n knieknop in my maag. Terwyl die wind fisies uit my seile gehaal is, volg die gespierde homoseksuele man sy kniehou op met 'n opstopper wat tot vandag toe nog my neus effe krom laat verkeer.
Bebloed en steeds besope strompel ons die straat af. Mev van Winkel was natuurlik die donder in en vir twee weke moes ek sonder seks klaarkom. Vir Van Vollenhoven en Schmidt het ons nooit weer gesien nie.
Ons het egter so ʼn paar weke later weer by die klein gay-kroegie begin kuier en wonderlike vriende gemaak. Selfs die man wat ons gebliksem het, was daar en hy het verskoning gevra vir sy optrede. Die een lessie wat ek daaruit geleer het, is om glad nie die feit dat 'n gay man steeds ʼn man bly in twyfel te trek nie. Gaan staan en soek kak met hom in sy eie huis, en jy sal gewis in die hospitaal beland.
Mag die Here alle gay mense meer seën as straight mense.
Klut van Winkel


