Bokomo-brekfisbrief; 24/09/2010: Tweegesprek

  • 0

Dis fokken moeilik om heeldag te sit en woorde op ‘n skerm te laat verskyn. Ja, regtig. As jy my nie glo nie gaan sit voor jou rekenaar en skryf vir my 1 000 woorde oor die sekslewe van ‘n hommelby. Nie so maklik nie, is dit?

Vir die wat dit wel reggekry het om 1 000 woorde te skryf oor die sekslewe van die hommelby, ek sal dit graag wil lees.

Ek is ‘n skrywer. ‘n Outeur, ‘n skepper en ‘n god binne my eie wêreld. Ek kan twee mense op ‘n slag uitwis deur net my vinger op die delete-sleutel te druk, of duisende mense deur vier woorde te skryf.

Jammer dat ek wéér onderbreek, maar wat was die vier woorde, Karakter?

Alex, moet jy nie dalk dit self uitdink nie?

Ja, maar dis altyd makliker om jou karakter vir jou te laat praat. Jy wat ook ‘n skrywer     is moet dit mos weet.

Soveel as wat ek dit haat om dit te erken, jy het ‘n goeie punt beet. Terug na die vier woorde wat ek vroeër genoem het voor jy my in die rede geval het. Die vier woorde was: “Die bom het ontplof”. Ek kon ook gesê het: “Ek wis jou uit”, of ook “Jou einde is nou”. Al drie sal werk.

Jy het gesê “duisende mense”, reg?

Ja, ek het. Hoekom? Moet jy nou weer iets daarby sê?

Ja, weereens jammer. Jy het ook gesê die alternatiewe sin kon wees: “Ek wis jou uit”.

Dis verkeerd.

Volgens jou. Volgens jou tydens een van jou skrywersblok episodes is alles wat ek mos sê gewoonlik ‘n pot kak. Skryf dan oor wat ek gesê het, Mnr B.

“Ek wis jou uit” klink net verkeerd. Wie gaan in ‘n storie dit sê? Dit klink net nie reg nie.  Dis asof dit die hele balans van die storie uitgooi. Geen storie se begin, middel of einde sê: “Ek wis jou uit” nie. Dink daaraan.

Wat sou jy gesê het?

Erm …

Presies.

Moet jy so moeilik wees?

En moet jy so vol kak wees?

Ek’s ‘n kunstenaar, ek mag moeilik wees. Ek trek al klaar by my agtste koppie koffie en ek’s moeg gesit op die stoel.

Besef jy dat ek moet terug lees in die storie om uit te vind waaroor ek begin die ding skryf het?

Ek is aan die skryf hier, Karakter.

Maar ek tog ook. Jy is nie die enigste persoon aan die woord nie, alhoewel jy dalk die een is wat op die sleutelbord tik.

Waar. As ek weer terug lees wonder ek of ek nie die hele ding moet uitwis nie. Dis sover 450 woorde se heen en weer kakpraat wat niemand dalk gaan lees nie. Ja, dis       lekker om ‘n gesprek met jou te hê, maar ek begin nou te wonder.

Waaroor wonder jy?

Jou sinne word al hoe korter. Jy het al hoe minder dinge om te sê. Plus, jy is ek. En ek is jy. Dit freak my uit. Om die waarheid te sê dis besig om met my kop rond te fok, en         ek wonder of ek nie myself more by Weskoppies moet inboek nie.

Miskien is die Weskoppies idee nie ‘n slegte een nie, maar vir ander redes. Jy is moers onstabiel partykeer. Ek voel mos. Soos jy sê, ek’s deel van jou, en ek kan voel wat jy voel en met tye weet ek wat jy dink.

Wat bedoel jy daarmee?

Ek is jy. Jy het dit self gesê.

Nee. Jy is ‘n Karakter wat ek tien minute terug gemaak het.

Okei. Ek is ‘n karakter wat jy gemaak het. Maar, van waar af praat ek as ek nie deel is van jou nie? Jy is besig om my ‘n stem te gee.

Waarmee jy min doen! Ons trek nou al by 645 woorde en jy maak nog steeds geen        sin nie.

Met ‘n stem kom krag. Jy weet dat stories die wêreld kan verander.

Ja, en onthou dit. Ek is die Skrywer. Nie jy nie.

Krag, Skrywer, krag.

Myne.

Voel jy dit?

Voel ek wat?

Lomerig? Buite jouself? Of eerder, binne jouself?

Nee. Ek voel fine. Daar’s …

…niks fout nie.

Jammer daaroor. Ek’s nou weer fine. Ek het ‘n drang om die storie uit te wis, maar ek verkies om dit eerder hier te hou. Onthou: Woorde is krag. Ek hou nie daarvan om ‘n storie net so uit te wis nie. Wat van al die karakters wat daarin vasgevang is?

Papierbestaan

Deur AE

Ek dink ek moet my storie oorbegin. Ek mag mos. Ek is die Skrywer.

Alex B Broadway

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top