Bokomo-brekfisbrief; 24/09/08: My hoog en laag lewe

  • 0

 

 

Ek was vir 23 jaar getroud met 'n pragtige vrou wat op 31-jarige ouderdom gediagnoseer is met die bipolêre siektetoestand. Al die manifestasies en simptome soos in die boek genoem word, en meer, is deur ons ervaar.

Met die eerste afbraak was ons totaal onvoorbereid, en ek het gedink dat die maniese fase permanent was en gevolglik dat ons lewe onherroeplik verander het. Wel, ons lewe het verander, maar die fase was genadiglik tydelik. Ongelukkig het ons nooit hiervan herstel nie. Mag ek hier motiveer, nie om my huidige posisie te regverdig nie, maar eerder om ander lyers en geaffekteerdes se horisonne dalk te verbreed.

Soos u tereg noem, het sy in hierdie eerste afbraak so goed gevoel dat daar nie 'n manier was hoe ons haar by 'n dokter of psigiater kon kry nie, en ekself was so onkundig dat ek nie geweet het hoe om die situasie te hanteer nie. Enersyds het ons so veel dinge gedaan gekry, want sy kon die werk van drie of vier dae binne een dag afhandel, en my ook nog uithelp. Aan die ander kant was daar die geïrriteerdheid wat soms by aggressie omgedraai het. (Verbale aggressie was heelpad deel van haar lyding). Toe sy ineenstort was daar gelukkig 'n ondersteuningsnetwerk vir ons wat ons by die beste psigiaters uitgekry het. Na veertien dae is sy ontslaan en het gesink in daai diep put van depressie wat vir ons as gesinslede meer houdbaar was, maar vir haar so pynlik omdat dit so teen alles ingedruis het wat sy was.

In hierdie periode het ek alles probeer oplees oor bipolêre gemoedsteuring, en ek het haar ook probeer help om te verstaan wat aan die gebeur was. Ongelukkig het ek dit soms oordoen, want sy wou my as haar man beleef, en nie as dokter, psigiater, toesighouer of medikasie-polisie nie. Met die weke het stabiliteit gekom, en na so 18 maande het die hele traumatiese proses hom herhaal. Ek was voorbereid want ek kon die tekens sien, maar sy het my nie geglo nie. Gelukkig het sy elke keer wanneer 'n afbraak ure weg was, haar na my gewend en kon ek die leiding neem. Laat ek byvoeg dat sy elke keer gehospitaliseer is onder dwang, of op 'n hofbevel (sertifisering). En dat sy telkens baie vinnig gereageer het op medikasie en binne 14 dae ontslaan is.

Ek het vinnig agtergekom dat die verloop van die siekte 'n bepaalde patroon gehad het. 'n Periode van stabiliteit, gevolg deur 'n fase van hipomanie, waar veral gesagstrukture aangeval is, en uit ons kultuur is die man die laaste gesagstruktuur! Dan die spandabelrigheid, verlies aan inhibisies, slaaploosheid en die hele lys. Gelukkig het ek eers baie later uitgevind van die riskante verhoudinge wat sy ook aangegaan het. Dan was sy ook so ongedurig met my dat sy byna elke keer 'n egskeidingsgeding begin het.

Nadat sy gewoonlik ontslaan is uit die hospitaal, het sy by haar ouers, wat in 'n ander stad woon, en wat ongelukkig ook nie insig in die siekte getoon het, of dit wou aanvaar nie, gaan bly, soms vir ses maande op 'n keer. Dan het sy teruggekom en ons het probeer aangaan met ons lewe, maar ongelukkig sonder om die spoke van die verlede sinvol aan te spreek of te begrawe. Al meer toenemend het sy en haar familie my begin aanspreeklik hou vir haar afbrake, as sou ek dan daarmee vir die hospitaliseringsperiode my mr Hyde-persoonlikheid vrye teuels gee. En die periodes dat sy by hulle gebly het, het al langer geword. Met die jare heen het die manifestasies al meer intens geword, en om haar beeld te poets het sy aan almal wat wou luister vertel dat ek twee horings en 'n pylstert het. My vriendekring het verklein, u weet tog hoe oortuigend sy sou kon wees, soveel so dat ekself byna geglo het dat ek die probleem is, en het.

Ons het twee seuns en genadiglik was hulle nog elke keer die pyn van die finale afbraak gespaar, maar omdat die kondisie so permanent is, het ek tydens hulle kinderjare min aandag aan hulle kon spandeer omdat ek net op haar gefokus het. Ek het na vele jare begin rebelleer, want my put was ook nie bodemloos nie.

My ervaringe tydens ons huwelik het vir my die volgende kwessies na vore gebring:

• Die siektetoestand word ingekleur deur die persoon se persoonlikheid en ander omstandigheidsfaktore, soos agtergrond, kultuur, posisie en oortuigings.
• Die gewoonlik hoë vlak van intelligensie maak dit vir die lyer moontlik om vele van die simptome te verberg.
• Die vermoë om te manipuleer is (tong in die kies) amper onwettig.
• Haar wil om altyd in beheer te wees het haar verskriklik antagonisties gemaak teenoor mense wat haar goed geken het, en wat veral aan haar kon uitwys dat 'n maniese fase aan die kom was.
• Haar godsdienstige belewing tydens die aanloop tot die maniese fase het haar gewoonlik oortuig dat medikasie nie nodig is nie. 'n Ander uitvloeisel hiervan was ook dat sy geglo het dat sy omtrent die enigste goeie mens onder die son is, en die ander is duiwels van een of ander graad. Die grootste duiwel was altyd ek.
• Haar trots het haar in die stabiele periodes daarvan weerhou om haar probleem in te sien of selfs daaroor te praat. Sy het nog altyd haar medikasie teen haar sin gebruik.
• Met die jare heen het sy fisies aggressief begin raak, soveel so dat ek soms vir my lewe gevrees het en 'n paar keer aangerand is.
• Sy was nie in staat om in enige langtermynverhouding wat op wedersydse toegewings gebaseer is, en wat tussen begrensde mense aangegaan word, te volhou nie.
• Dit het soms deurgeskemer dat haar persoonlikheid gedy het op konflik. Enige situasie het gewoonlik tot konflik gelei.
• Haar kreatiwiteit is ook noemenswaardig, soos haar welwillendheid, bv die weggee van selfone aan behoeftiges, die gebruik van kredietkaarte om vir ander te koop.
• Hierdie lysie kan nog aangevul word, maar hierdie is nie 'n treurmare nie.

Op grond van my ervaring, en ook van twee ander kennisse waarvan ek bewus is, het ek die volgende afleiding gemaak:

• Dit is nie moontlik vir die bipolêre persoon om in 'n langdurige verhouding wat toenemend gemakliker behoort te word, te bly nie. Nie net as gevolg van die verlaging in inhibisies wat lei tot ontoepaslike seksuele gedrag nie, maar veral as gevolg van die onvermoë om met ander saam te leef in 'n verhouding wat aangegaan word tussen mense en nie gode nie.
• Die probleem met die aanvaarding van gesag (nie gedwonge gesag nie) soos beliggaam in die samelewingstrukture en professionele wêreld is 'n ewe belemmerende faktor wat 'n baie swaar premie op ons verhouding geplaas het, en ook op ons plek in die samelewing.
• As gevolg van die feit dat sy affairs gehad het met baie van my vriende - of sal ek op grond daarvan hulle kennisse noem? - reken ek dat konstante en konsekwente sosiaal aanvaarde gedrag nooit moontlik sal wees nie.
• Hoe wreed dit ookal mag klink, daar is 'n lewe duskant en anderkant maniese depressie, en dis totaal onmoontlik om dit die sentrum van almal se heelal te maak.
• Die partners van lyers aan die psigose is ewe hulpbehoewend, en soms meer, omdat hulle al die vangwerk moet doen, en in menige gevalle agterna moet gaan skoonvee.

As ek hiermee te kenne gegee het dat ek oplossings en antwoorde het, vra ek om verskoning, want dis nie die geval nie. Anders sou ons nie na 'n interessante en soms opwindende huwelik van 23 jaar geskei het nie. En ek weet nie of ek vandag gelukkiger of ongelukkiger is nie, maar dis nie die kwessie nie. Ek kan darem saans huis toe kom en dit nog vind soos ek dit vanoggend verlaat het. En ek hoef nie gedurig oor my skouer te loer nie. En ek kan maar soms praat sonder om voor die inkwisisie te verskyn, en so af en toe onredelik optree en nie verkwalik word vir die olieprys of die droogte in die karoo nie. Maar ek wonder nog elke dag wat sy maak, en wie haar vang as sy struikel, of wie vir haar sê dat die son skyn en dat sy mag opstaan, al sien sy dit nie. Ek mis haar impulsiwiteit, en ook die intensiteit waarmee ons geleef het, maar dit sou my seker al teen hierdie tyd laat sterretjies poets het. En ek bid dat sy 'n beter man as ek sal kry, een met meer geduld, meer insig wat sal volg as sy ly, en sal lei as sy wil volg.

My apologie aan al die ander lyers aan maniese depressie. Ek het geleer dat mens nie kan stereotipeer nie omdat daar so baie veranderlikes is, maar tog is daar 'n lyn wat deurloop, en vir ons was dit 'n verdelende lyn. En tog is ek wyser na my ervaring, en dis genoeg.

As jy in God glo, vra ek jou om vir haar en vir almal wat deur die siektetoestand geraak word, te bid.

Dankie vir jou tyd, wie jy ookal is.

Daniel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top