22 Augustus 2010 – Die dag toe die Athlone-torings, of soos ons dit beter geken het as die Sout- en Peperpotte, ingeplof het. Dis nou nie eintlik waaroor my storie gaan nie, dis net dat ek altyd moet onthou dat dit die dag was wat die stad van Kaapstad vir ewig verander het. Ek sal my nou nie uitlaat om te sê of dit goed of sleg is nie, al wat ek weet is dat die twee torings al vanaf iewers in die vyftigs as landmerk in die Kaap gedien het.
Laas nag het dit, sover ek weet, heeltyd gesous. Ek het in die nag net twee maal wakker geword en toe het dit so gereën en toe ek vanoggend opstaan ook nog eenstryk deur. Reënweer was vir my nog nooit ‘n probleem nie, inteendeel, dis my gunsteling-soort weer.
Ek dink toe ver terug, aan ‘n dag, die kinders was nog klein, toe ons in die Kaap met vakansie was. Die familie het verniet gewaarsku dat dit nie lekker by die strand gaan wees nie, maar daaraan het ons vir ons weinig gesteur. Wie het gesê dit moet net altyd son en saffier wees as ‘n mens wil see toe gaan? Ons was nog altyd lief vir die see, in al sy gedaantes. Ek het darem ook nie verniet doer bo, heel bo, teen die Weskus se rotse die eerste 7jaar van my lewe deurgebring nie. Daar het mens die mishoring meer dikwels as ‘n kerkklok gehoor. Daardie keer met die kinders, was dit net ons gesinnetjie wat alleen daar op Melkbos se strand gestap het. Dit was so spesiaal, ek onthou dit tot vandag toe. Dis ook nie waaroor my storie gaan nie.
So met die reën en als, dink ek dat dit vandag ‘n dag vir uitry is, so al langs die see. Dan hoef my ou man tog nie weer net teen sy eie kamermure of my sitkamermure vas te kyk nie. Hy kla nooit daaroor nie, eintlik verkies hy dit so. Maar tog, ek onthou hoe hy dit in sy staat van apatie geniet het toe ons die keer uitgery het Kalkbaai toe. Net daar besluit ek toe, ek gaan hom bietjie vroeër as gewoonlik oplaai, dan ry ons uit Bloubergstrand toe. Van ons jongdae af, ons geliefkoosde strand. Selfs in die dae toe daar nog net hier en daar ‘n verdwaalde huisie teen Blaauwbergweg gestaan het. Dis nog voordat daar so ‘n plek soos Table View was.
Ek laai hom op, hy sê niks. Niks van bly wees of iets nie, maar dit ken ek nou al. Ons ry uit, eers hier al langs die druiwepriële deur, groen velde en pragtige plekke. Die Kaap is mooi, al reën dit ook, juis dan. So ry ons en ek wys vir hom dinge uit. Hy knik sy kop. Ons gaan draai so daar by
Hy raak toe honger, hy is altyd honger as hy weet ons gaan uiteet. Draai om en ry maar weer so kuier-kuier terug. Hy sê dankie, dit was lekker. Dit op sigself, is baie werd. Ons kom heel betyds by die restaurant aan en bestel vir ons ‘n botteltjie wit en droog, sommer die huiswyn. Gewoonlik neem ons ‘n Drosdyhof, maar hierdie is ‘n dag vir ander dinge. Die etiket op die bottel trek dadelik my aandag, die naam Sixpence, Chenin Blanc Semillon klink interessant, ‘n sixpence is mos hoeka ‘n ding wat my gedagtes nou weer na ander ver stories toe wil laat gaan. Onder die naam, staan die volgende:
Sixpence was my name...
sheperd was my fame.
Remember my name
to enjoy it again ...
Natuurlik moet ek die bottel ook omdraai, ek lees mos altyd alles – tot die voubiljet by gom, pille, salf, ag enige iets. Die mense het goeters daar geskryf omdat hulle wil hê ons moet dit lees. Dis gewoonlik vol spelfoute en ook taalfoute, maar ek lees. Ek het ‘n vriend, dalk lees hy hier, wat sê as hy lank moet wag by ‘n plek, soos bv Binnelandse Sake, dan lees hy al hulle brosjures, maak al die foute reg en gee dit vir hulle terug. Of hulle kennis neem daarvan of nie, raak hom nie, maar hy het sy tyd nuttig verwyl. Wag nou, hierdie storie wil al in ‘n ander rigting neuk, soos ‘n ding met ‘n eie verstand.
Nietemin, agter op die bottel staan daar die volgende:
Many decades ago a legendary sheperd walked the fields of the valley.
His name was Sixpence.
Today the vineyards surrounding the old kraal and Sixpence’s cottage are still referred to as Sixpence’s Vineyards.
It is his legacy.
Wat ‘n ou mooi storietjie, dink ek. Dit was ‘n heel aangename wyntjie en dit was ook net asof die kos vandag lekkerder was as op ander dae. So het ons maar op ons eie manier hierdie dag, waarop die
Lidia


