Bokomo-brekfisbrief; 24/08/09: Schnauz se Oxbloods

  • 0

Schnauzie,

Om mee af te skop: Ek hoop dit gaan ’n wonderlike en onvergeetlike troue vir jou dogter en jou aanstaande skoonseun wees!

Jy het my skoon gaande gehad met jou vertelling oor die paar “oxblood” Florsheim Imperial pebble grain brogues wat gepolish word vir die troue. Ek kan beaam dat R78 in 1978 ’n allemintige klomp geld was. Net ter vergelyking: in daardie jaar was my studiefooie R275 gewees en die koshuisfooi aan die universiteit R550 – vir die hele jaar.

Nes Schnauz het ek egter ook ’n swakte vir goeie skoene, en dis werklik ’n belegging. Ek kan vir jou elke paar skoene in my kas se storie vertel. In dieselfde jaar wat Schnauz sy Oxbloods gekoop het, het ek goue Bally-sandale vir ’n vreeslike fancy formele huisfunksie gekoop – nie cheap goud nie, dis goud met so ’n effense brons ondertoon. My ma het ’n sjampanjekleurige satyntawwertjie gemaak op een van YSL se patrone wat mens nog destyds kon koop om jou eie designer-nommertjies te fabriseer. Julle weet net nie hoe mooi daai kombinasie was nie – met my ma se fake trou-pêrels om alles af te rond!

Nou die dag ruk ek hulle toe weer uit die skoenkas uit vir ’n grand occasion, maar julle sal dit nie glo nie: die hakke is só hoog dat ek wraggies nie meer daarmee kon loop nie! My kinders het gelê soos hul lag. Ek het hulle nou nie gemeet nie, maar dis bepaald 10 of 12 cm. Dit het my werklik met verwondering oor my jeugdige ‘frivoliteit’ (askuus, miss Jelleke) gelaat. Hemel, het ek toe by myselwers gewonder, hoe op deeske aarde het jy dit reggekry om ganse nagte in die goetertjies om te dans? Maar ek hou hulle steeds. Hulle is te mooi om weg te gooi ...

Goeie skoene is ’n belegging, want dit hou, is nie uit goedkoop materiaal gemaak wat jou voete laat brand nie, en so kan mens voortgaan om die lof te besing van goeie (en mooi!) skoene. Vakmanskap, design en kwaliteitmateriaal is dit wat goeie skoene eenvoudig bo goedkoop gemors laat uittroon.

Gelukkig het Meneer Pou net so ’n swakte vir ’n mooi skoen. Een keer het ons op ’n vakansie in Italië in een van daardie vreeslike grênd inkopiestrate ’n skoenwinkel ontdek wat op die punt was om toe te maak. Die eienaar was verskriklik vies vir die verhuurder van sy winkel wat die huur so onbetaamlik opgestoot het dat hy dan gedwing sou wees om so ’n reusehap van sy eie profyt vir die verhoogde huur af te staan, dat hy besluit het om liewer die winkel toe te maak. So land ons toe te midde van Bruno Magli’s en Umberto Romagnoli’s vir tot 70% minder as hulle normale prys ... hemel op aarde!

Die Bruno Mali’s wat ek gekry het, het ’n volle 20 jaar lank diens gedoen vir elke elegante geleentheid tot ek laas jaar na ’n helse troue 3 uur die oggend in die donkerte op pad terug na ons blyplek toe ’n trappie misgekyk het. Nou is die een skoen sonder ’n hak. En lag nou maar, maar ek het amper ter afskeid die goue neusie van die skoen gesoen. Miskien moes ek dit laat raam het: die heel Bruno en die haklose Bruno met die verlore hak daarnaas – julle weet, in een van daardie driedimensionele rame. Dit sou mos ’n baie veelseggende stukkie moderne kuns kon wees.

Die Romagnoli’s het ek nog. Hulle is nog net drie of vier keer aangetrek. Ek is seker dat Marie Antoinette met haar passie vir skoene ook mal oor hulle sou wees. Ook swart en goud, leer oor die neus en dan fyn oorkruisde bandjies wat met ’n goue bandjie agter vasgevang word.

Natuurlik was ek doodnuuskierig oor hoe sulke Oxbloods lyk, en het toe eers prentjies gegoogle van Schnauz se skoene. En toe kom ek agter daar is ganse skoen-besete klubs wat op die internet bestaan – MANS. Ek het nooit kon dink dat mans net so ydel as vrouens is nie.

Geskoeide groete,

Pouveer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top