Bokomo-brekfisbrief; 24/07/09: Die uitwerking van abba op die baba, vir Leandré

  • 0

 

 

Daardie laatlammetjie wat ek as tjokker gesien het hoe my ma haar abba, het toe later 'n lid van Mensa en Toastmasters geword. Haar diepte-persepsie moet ook reg wees, want na haar man oorlede is, ry sy die hele land deur met 'n yslike Volvo. (Vergelyk dit nou met my Uno!) Maar miskien het dit haar groei beperk, want sy is 'n buksie van 'n mens.

My ma het ook dikwels vertel van die goeie verhoudings wat daar in haar kinderjare op Ugie tussen die kleurgroepe was. Hulle was lief en altyd beleef met mekaar. Tans het ek 'n man wat al omtrent dertig jaar lank vir my los werkies doen - sedert ek verhuis het, net een keer per maand. Ons bederf hom, sal party mense sê. As hy hier kom, kry hy eers sy bord kos en sit aan ons tafel en eet en tussen die werk deur kan hy vir homself koffie maak in die kombuis. Dan kry hy ook elke maand naas sy loon, 'n geskenkpakkie. Daar is gewoonlik 'n pakkie sigarette, 'n koekie seep en tandepasta in, soms 'n paar skoene. Onlangs het ek hom weer 'n nog splinternuwe goedkoop radio gegee wat ek vir my gekoop het om tydens kragonderbrekings te hoor wat in die wêreld aangaan. Dit is ook nie sy eerste radio nie, maar hulle hou nie lank nie, want hy haal hulle uitmekaar!

Na die Transkei-tydperk het my pa 'n assuransie-agent geword en is hy 'n paar keer verplaas, so ons het nie oor 'n lang tydperk verhoudings met die bediendes opgebou nie. Behalwe vir Stefaans, wat saam met ons van Elliot na Aliwal-Noord verhuis het. Toe ons na so drie jaar weer terug is Elliot toe, het hy egter op Aliwal agtergebly. Ek onthou toe ek nog heel klein was, het hy my soms gewas waar ek dan kaal in 'n skottel water in die warm kombuis met sy koolstoof staan.

Maar daar is iets waaroor ek vandag nog effens skuldig voel: Ons is later in Oos-Londen en my pa word aangestel as bestuurder van 'n ander versekeringsmaatskappy. Hy moet toe swart agente werf om in die Transkei te werk. Ek kom een middag met my sak oor my skouer van die skool af en hier staan 'n jong swart man in die oop garage en wag vir my pa. Welgeklee en goed op Engels. Ek gesels toe 'n bietjie met hom en bied hom 'n sigaret aan uit my pakkie wat ek sommer in my skoolbaadjie se sak dra. Dit blyk toe hy is self 'n onderwyser. Ek kan nie die gesprek onthou nie, maar ek het wel die gevoel gekry daar was by hom, en by my, 'n mate van ongemak omdat hy in die garage moes staan en wag. Ek kon dit nie destyds verstaan nie, want my pa het vlot Xhosa gepraat en het altyd gemaklik met hulle oor die weg gekom. My ma kon ook redelike Xhosa praat. Maar later het ek wel verstaan - my ma was alleen by die huis en dit sou seker suspisie by die bure gewek het as sy met hom in die huis gesit en gesels het.

Die treurmare gaan aan. My pa koop vir hom 'n scooter en na 'n paar lesse - sommer in die straat - moet hy daarmee Umtata toe ry, met 'n sak vol dokumente. Net buite Oos-Londen val hy, darem seker nie erg beseer nie, sover ek weet.

Nou ja, so gaan die lewe toe aan. Ek raak nou al bejaard en dinge in die land lyk vir my sleg, as ons maar net vroeër begin het om hulle in die regeringskuns en administrasie op te lei ...

Groete

Varkspek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top