Bokomo-brekfisbrief; 24/07/08: Jan Watsenaam (Ag, en nie vir sensitiewe ogies nie, ok?)

  • 0

Ek kan nie durf waag om sy regte naam te gebruik nie. Nie dat hy sal omgee nie, maar omdat ek sal. En jammer, Dana, maar soms is dit beter om dinge so half "weg te steek" ter wille van die onderwerp of dalk ter wille van die boodskapper.

Jan het rof grootgeraak. Sy pa het geglo dat ʼn klong harde bene moet kou om hom reg te kry "vir die lewe". Ek kan nie stry of saamstem daarmee nie, synde dit mos maar ʼn persoonlike ding is. Ek onthou hoe die kinders van kleins af moes sien kom klaar. Nie dat daar ooit gebrek was wat kos en klere betref nie – terloops, hulle het altyd sommer groot kardoese by oom Sias gekoop. Met ʼn pienk melkie by.

Maar hulle moes werk. Seewerk. Of enige ander werk wat hul pa goed gedink het. Elke dag soos die skool uitgekom het, is hulle reguit see toe. Die boeksakke het soms sommer op die Ford bly lê, of as dinge goed gegaan het, hier by die kombuisdeur, om dit die volgende oggend net weer te gryp. Skoolgaan was net daar omdat die wet dit voorgeskryf het. Gewoonlik het die skole hier teen 12 jaar moed opgegee en nie verder briewe geskryf of "huisbesoek" gedoen nie. By verskeie geleenthede is predikante, skoolhoofde en ander Do-gooders met dreigemente van erge geweld verwilder. Dié dalk waarom hulle almal net standerd vyf gemaak het, of ten minste probeer maak het.

Maar Jan was anders. Hy was regtig rof. Altyd die groot kakmaker. Hy het nie net een van sy pa se bakkies gesteel nie, hy het hulle afgeskryf. Gereeld. En dan moes hy buk vir die "fan belt". Pa het gereeld gekeer en gesê: "Jy gaan die kinders nog doodslaan", maar hulle moes mos "taai" groot raak.

Ek onthou die dag toe hulle kom vertel van arme ou Martha. Sy het Jan se pa feitlik met die hand grootgemaak en het maar ʼn plekkie vir die kinders gehad synde hul ma lankal die loop geneem het (en nee, sy is nooit misbruik nie, sy het net eenvoudig gatvol geraak. Eendag meer oor haar). Martha het die dag opgedaag om darem vir die klogoed ʼn warm ete te maak en die huis half ordelik te kry. Jan se pa was op daardie stadium op pad Joeys toe om te gaan aflewer en het die kinders mooi verduidelik om nie vir enigeen wat nie antwoord die deur oop te maak nie. Met Martha se geklop vroegoggend het Jan duidelik eerste ontwaak. Op sy vrae het niemand geantwoord nie (wie anders gaan nou in Brandwag vroegoggend juis daar klop?). Al antwoord is pa se "koeëlgeweer". Martha het my jare later vertel dat as sy nie toevallig op daardie oomblik weggestaan het nie, sou Jan haar morsdood geskiet het dwarsdeur die deur.

Dit het blykbaar baie spook gekos, want sy pa wou opsluit sy hande afkap op oom Bok se kapblok. Freek vertel nou nog hoe hy moes pleit vir Jan se hanne: "Hege, K, jy kannie die klong se hanne afkap nie, hoe gan hy dan wegk?"

En ek dink dis waar Jan sy knou weg het, want van daardie dag af was hy regtig rof. ʼn Kar hou eenvoudig nie by hom nie, hy jaag aan wat ander mense diep in die staat se sorg sou besorg, hy gaan deur vrouens soos ek deur Sakkies, hy oorleef waar ander lankal sou afgesterf het. ʼn jaar of wat gelede het hy, wat ons gedink het, sy Nemesis teëgekom. Hy het op pad Brandwag toe eers ʼn witpil of wat gerook en toe besluit om ʼn paar girls te gaan opsoek. Met ʼn Ford-bakkie. Hy het lank na die tyd in Grootte Schuur wakker geword. Met skroewe in sy rug en bene. Dokters het gesê hy sal nooit weer loop of werk nie.

Dokters is duidelik nie meer wat hul was nie, want Jan se streke raak by die dag erger, ten spyte van hul diagnose. Ek het dit op rekord hoe ek hom R5 000 betaal het die oggend (Desember 2007) en hy so teen vieruur die middag kom R50 leen vir petrol, en dan’t hy nie eens ʼn paar skoene om te wys vir die geld nie. Ek wonder soms of hy nie veel minder bekommernisse as ek het nie.

Baie mense het hulle al ontferm oor Jan. Hom aan huis geneem en "die goeie weg" probeer wys. En so op ʼn streep moed opgegee. Want soos Moeder sê: "Daar is nie salf aan Jan te smeer nie."

Nou vertel die manne: Nee, dis die girls. Hulle maak hom gerook en sodra hy omval, dan skud hulle hom. Ek weet nie want ek het dit nie gesien gebeur nie.

Die manne vertel ook dat hy ʼn stomp in sy kies dra, want hy is eenvoudig ongelooflik lucky. Hulle sê hy gee ʼn landdros net een kyk en dan tol hy sy saak, al weet die landdros hy is so skuldig soos môre die heel dag.

Ek weet nie, want ek glo nie aan toorgoed nie. Ek dink eerder dis meer ʼn tipe seën wat die man ontvang om te kompenseer vir ʼn harde kinderlewe. Is dit dalk ook ʼn vorm van toorgoed of bygeloof?

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top