Bokomo-brekfisbrief; 24/06/08: Stemme

  • 0

Daar is min dinge wat so sag op die oor is as ʼn mooi stem. Ek onthou "die man in die Winston-fliekadvertensies" se stem. Oorverdowend in Sterland1. Hoe het hy nou weer gesê? Iets soos: "Winston, taste the adventure!" Vandag se politiek korrekte generasie sal sekerlik agteroor val as hulle sulke advertensies moet beskou. Snaaks dat die sigaretadvertensies altyd so "over the top" grootse goeters was. Wie kan dan nou die Camel man vergeet? Winfield s'n (soos so baie van hulle) het altyd afgesluit met so ʼn behaaglike, diep teug terwyl hy oor een of ander vlakte of canyon tuur. Die Camel man het boonop so ʼn keteltjie op ʼn vuurtjie gehad ...

So met die terugstap het ons baie gepraat oor hoe hierdie man moes gelyk het, en tot vandag toe weet ek nie. Selle storie met so baie van ons radiostemme, veral die van lank terug. Die "minister van middernagsake – mevrou Alexander se jongste en mooiste" was sulke goeie geselskap in die stil nagte. Tog kan ek nie onthou hoe die man gelyk het nie, en ek wil half tog nog steeds nie weet nie. Dalk verander die sien van sy gesig die beeld wat ek destyds oor hom gevorm het?

Nou dink ek aan een van Pa se kliënte. Elke aand klokslag hier teen 8 uur se kant het hy gebel. Absolute genie, top ingenieur, skatryk sakeman met ʼn brein so skerp soos ʼn minora-lem. Maar die absolute toonbeeld van nederigheid. Die twee het dan letterlik vir ure en nagte om gesels, en ek wonder tog of hulle nie dalk die oplossing vir die wêreld se probleme gevind het en dit eenvoudig vir hulself gehou het nie. (Dalk is dit hoekom Pa so half ongeërg lag as ons oor Mnr X praat). Almal het altyd geweet dit is Mr X, maar ons het altyd baklei en vir die foon gehardloop om te antwoord. Ons wou eenvoudig daardie STEM hoor! Kyk, selfs die Winston-man kan gaan slaap, want hierdie man HET ʼn stem gehad. Sag, bedaard, met daardie effense diepheid wat ʼn seker waarborg is om vrouens se knieë lam te maak. Wel, dit het altyd moeder en ander dames wat in die huis was s'n gedoen. Pa het altyd net gelag en gesê dat ons nie kan praat voor ons nie ʼn gesig by die stem gevoeg het nie.

Soos dit maar moes gebeur het, het ons een dag vir Mnr X ontmoet. Ek wil nou nie lelik wees nie, maar die man was beslis nie ʼn oil painting nie. Kort, baie dun, en, regtig, letterlik skreeulelik!

Pa het altyd gesê dat, omdat hierdie man so "gestraf" is met sy aansien, hy toe maar in oormaat geseën is met sy stem. Met Mnr X se begrafnis was daar inderdaad ʼn hele paar vrouens: Pragtige mense wat, soos hulle sê: Al hul groentetjies opgeëet het in hul jongdae.

Smaak my dit was tog die stem wat die knoop deurgehaak het, of so hou ek daarvan om daaraan te dink ...

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top