Bokomo-brekfisbrief; 24/03/2010: Mans, mans...ai tog!

  • 0

Vrouens sal seker nooit daardie man-ding van macho-wees verstaan nie!

Verlede week trakteer ek en manlief twee van ons jare lange vriende. Soos ons gewoonte is met almal wat vir ons in die mooie Swakopmund kom kuier, neem ons hulle vir ‘n piekniek in die duine. Omdat die son laat ondergaan, ry ons eers so teen halfvyf, want daar is niks so lekker as ‘n sondonnertjie in die mooiste plek op die aarde nie! Ons ry heel maklik, want ons bly al langs die voet van die duine ... niks gesukkel met sand en vassittery nie. Oor die eerste boggie, stel ek voor ons moet net daar piekniek. Manlief kry ‘n verbete trek op sy gesig en ry nog ‘n halfuur verder. Ek en my vriendin kyk net vir mekaar, want ons ken daai man-ding ... laat hulle nie voorsê nie!

Toe ons uiteindelik tot stilstand kom, na wat voel soos ure, maak ons onsself tuis op ons piekniekkombers, met ‘n lekker wyntjie, soutbeskuitjies, kaas en die hele tutti. Die manne besluit om net daar naby teen die duine af te gly met ons duinplanke. Hulle neem die voertuig en ry tot binne sigafstand. Ek en vriendin lê heerlik op ons mae op die warm sandduin vir hulle en kyk. Twee suksesvolle glye later, klim hulle in die voertuig en verdwyn oor die horison. Ons maak nog grappies en planne as hulle ons daar sou los. Ons sal sommer ‘n gat in die warm duin grou, ons mooi toemaak met die piekniekkombers en tafeldoek. Ons het genoeg kos en water ook vir ‘n hele ruk.

Na ‘n lang ruk begin dit skemer raak en daar is geen teken van ons helde in hul wit ysterperd nie. Later hoor ons ‘n benoude geroep en een wuif vanaf ‘n duin dat ons moet kom help stoot. Daar gekom, kry ons twee baie verleë, sandbesmeerde manne, besig om met ‘n graaf te spit ... die voertuig lê tot op sy pens vasgeval. Vriendin en ek kyk net vir mekaar en dink by ons sigselwers ... ons het dit sien kom! Ons sê niks en val halfhartig langs mekaar in om te stoot, roer daai stuk staal geen aks nie en besluit dis nou dit ... ons is hier vir die nag.

Ons helde seg nee, ons moet stap tot buite die duine en vriende bel om ons te kom haal. Gewapen met net ‘n toortsie begin hulle sommer stap, dink nie eers aan kos of water nie! Ek gryp ‘n tienliter bottel water en vriendin die oorblywende kos en ons twee se baadjies. Raai wat, die manne het niks warm saamgebring nie en die GPS wat my altyd so irriteer lê ook by die huis! Dis net ‘n wonderwerk dat die selfoon saamgekom het.

Uiteindelik kry ons ‘n sein en kommandeer iemand op om ons te kom haal, maar waar? Sandduin nommer vyf op die tweede sandkorrel regs! Die flits moet nou doen en ons sal SOS sodra ons die reddingsvoertuig hoor. Intussen het dit piknagdonker geword en die sterre is so naby, dat dit voel of mens hulle kan pluk. So stap ons in die wonderlike nagstilte met net die ope hemelruim en sekerlik ‘n paar sesoog-krapspinnekoppe (giftigste spinnekop op aarde), skerpioene en woestynadders, wat uit ons pad skarrel. Sjoe!

Na ‘n oor-en-weer bellery en geflitsery, daag ons redder op en sit ons styf ingedruk in sy bakkie op pad huis toe, na ‘n lekker warm stort, ‘n stywe dop Amarula en twee Panado's elk vir die pyn! My arm was ‘n meter langer gerek van die waterbottel se gewig en in ‘n totale spasma!

Ons het omtrent tien kilometer gestap, nooit gekerm of paniekerig geraak nie, grappies gemaak en steeds die mooi om ons raakgesien. Dit kon veel slegter afgeloop het en manlief het agterna gesê as ons seun so ‘n stupid ding gedoen het, sou hy sy kop goed vir hom gewas het ... sê Pappie. He, he!

Groetnis,

Perdebytjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top