Dis tog snaaks hoe 'n mens soms skielik grepe uit jou kinderdae so helder onthou. Elize Voges was so 'n onthoukind. Ek en sy het altyd in die parkie gaan speel. Die parkie was so 'n blok van ons huis af. Elize se huis het amper langs die parkie gestaan. Dit was die plek waar ons kon swaai en rondomtalie draai, totdat die blou lug en al die wolke saam met ons draai. Dit was ook die plek waar ons kon besin oor die lewe sonder dat enige ore om hoekies luister. Grootmensore.
Ek het gewoonlik my rokkie in my broekie ingebondel voordat ek sierlike wawiele gedoen het. My vlegsels se punte het oor die grond gesleep. Elize het langbroeke gedra. Langbroeke is nie vroueklere nie. My pa het so gesê. Elize kon wawiele doen sodat net haar enkels uitsteek. Haar hare was kort. Sy het altyd 'n aliceband gedra. My hare was lank soos die prente van die vroue in die Kinderbybel.
Elize se ma het gewerk. Sy het by Woolworths in Bellville gewerk. Sy het soggens lipstiffie aan haar lippe gesmeer en dan het sy met die bus tot by haar werk gery. 'n Bruin vrou het bedags na Elize gekyk. Saans het haar ma vir hulle winkelkoek gebring. My ma het nie gewerk nie. Sy het na ons gekyk. Sondae mag ek nie met 'n naald en gare gewerk het nie. Ek mag ook nie met 'n skêr geknip het nie. My ma't gesê dat 'n mens in Liewe Jesus se oë steek as mens op 'n Sondag met sulke goed werk. Dit het nie saakgemaak as ma die skaapboud Sondae met 'n mes gesny het nie. Dit het nie getel nie. As Ma nie kyk nie, het ek geknip en met 'n naald gewerk. Ek het net die punt van die skêr en die punt van die naald grond se kant toe laat wys. Dit was reg om in die duiwel se oë te steek, het ek gedink. Hy was mos 'n mannetjie wat diep in die aarde gewoon het.
"Hoe lyk dit in die hemel?" het ek eendag vir Elize gevra. Ma het gesê sy's vroeg ryp, vroeg vrot. Sy weet te veel. Ek het aan 'n froetang gekou en na haar gekyk. Sy het van die swaai afgespring en reg voor my kom staan. "Jy sal nie weet nie. Ons gaan die hele liewe dag lank hallelujas sing en palmtakke swaai" het sy geantwoord. "Ek kan nie sing nie" het ek bangerig gesê. "Dit weet almal. Dit sal maar vir jou neuk om die hekke van die jemel oop te kry. Jy sal jou woorde moet begin leer. Ek het Maandag in die saal gesien jy maak jou mond net so oop en toe soos 'n vis as jy sing. Die liewe jeretjie weet alles. Hy sien jy wil nie jou woorde leer nie," het sy gesê. "Gaan daar swings en sulke goed in die hemel wees" het ek braaf gevra. "Is jy mal! Dis nie 'n plek vir speletjies nie. Die liewe Here gaan die hele tyd verse uit die Bybel uit lees," het sy vies geantwoord. "Hoekom dan? Ons sal mos klaar in die hemel wees. Dan's die Bybel mos nie meer nodig nie," het ek snip geantwoord. "Jy's seker reg" het sy geantwoord. "Die Here gaan ons maar seker toets".
Ons het geswaai en die klein blommetjies het uit ons hare geval. Ek het my knieë in hakke verander en onderstebo aan die boonste spar van die klimraam gehang. "Ek weet nie of ek van die hemel gaan hou nie" het ek gesê. My rok het oor my gesiggie gehang en Elize kon nie die bang in my oë sien nie. Ek was bang vir die oë van God wat nooit knip nie. Die oë wat alles sien.
Na al die jare, kon niemand nog ooit vir my sê hoe dit in die hemel lyk nie. Ek weet nog steeds nie of daar swings in die hemel is nie.
In MM Walters se boek Sprekende van God lees ek nou die dag die volgende:
XXXIX
Is die lamp wat doodgeblaas word anders
daaraan toe as vóór hy aangesteek is?
Wat maak dit saak of ons hier-wees
eindig of in der wese nooit begin nie?
Dood is net om nie te wees nie
en die nie-wees-nie sal dieselfde wees
as wat dit was vóór ons gebore is.
En as daar tormente gaan volg hierná
moes daar ook pyne gewees het hiervóór
en daarvan kan ons niks onthou nie.
Ons weet net van die lyding tussenin,
maar weerskante heers die duisternis
en die groot stilte van nie wees nie.
Skielik wonder ek nie meer of daar swings in die hemel is nie. Ek wonder sommer of daar wel 'n hemel is ...
Ek sien weer hoe Elize 'n gesteelde lukwart in haar kies druk en ek hoor weer hoe sing sy "As hy weer kom, as hy weer kom, kom haal hy sy pêrels". Ek sien hoe sy die blink lukwartpit spoeg dat dit lyk asof dit oor die rantjie van die ewigheid val ... Die ewigheid wat tydloos iewers vir ons lê en wag ... of is die ewigheid net 'n ewige donker stilte? Ek wonder of Elize nog weet ...
Bron: MM Walters; Sprekende van God
Wini Esterhuizen


