Bokomo-brekfisbrief; 23/10/2010: Ouma en Oupa kuier op Kathu

  • 0

Ons het altyd naby my skoonouers gebly, en kon dikwels kuier sonder dat ons in dieselfde huis hoef te bly. Ons was al saam met vakansie, maar noudat ons hier op Kathu bly het hulle kom kuier en twee weke saam in skoondogter (dis nou ekke) se huis kom bly. Ouma is ’n groot vrou en het ’n teenwoordigheid met hoofletters. Sy is ’n voorslag-huisvrou, maar het nooit leer bestuur nie, met die gevolg dat haar wêreldjie maar klein is en haar lewe om haar man en kinders gedraai het en niks anders nie. Ek het al voorheen geskryf dat dit haar lank geneem het om my te aanvaar as goed genoeg vir haar oudste seun, veral omdat ek ’n werkende ma is en nie hou van kook of huisskoonmaak nie.

Vanaf die dag wat hul hier arriveer het was dit nogal ’n uitdaging. Eerstens moes ek leer om af te skaal tot hulle stadige pas. Ouma en Oupa het dadelik tuisgeraak en Oupa het begin om alles wat stukkend was reg te maak. My grassnyer het ’n nuwe lem gekry, my tuinslang is herstel en alles wat moes vas kom (soos panne se handvatsels) is vasgedraai. Dit was wonderlik om ’n inwonende handy man te hê, maar dit was bietjie moeilik om die hele tyd te hoor hoekom probeer ek dit nie sus of so nie? Nodeloos om te sê dat my kombuis ’n ongemaklike plek vir my geword het en ek maar oorgegee het in haar bekwame hande. Snaaks hoe ’n mens al is jy al vyftig, altyd ’n kind in jou ouers se oë bly. Die moeilikste was om elke dag weer na dieselfde stories van Ouma te luister omdat ek nie die hart het om vir haar te sê dat sy dit reeds twee maal vertel het nie. Ek hoop om te leer uit hierdie ondervinding sodat ek nie my kinders eendag grensloos irriteer wanneer ek oud is nie.

Oupa kan nie meer te goed hoor nie. Dan sê Ouma: ”Kyk die duiwe, Oupa” dan antwoord hy: ”Nee dankie ek is nie nou lus vir druiwe nie.” ”DUIWE!! man, ek het nie gesê druiwe nie!”  en so gaan dit heeldag. My dogter wat ’n badkamer met hulle moes deel het maar gelief geneem om in twee glase met valstande vas te kyk vroeg elke more. Ek mag seker nie noem van die druppels die wêreld vol in die toilet nie, mens praat mos nie oor sulke goed nie.

Na een week was als gedoen, ek bly in ’n nuwe huis wat nog nie so baie herstelwerk het nie en het hulle alles gesien wat in die dorp te sien is. Oupa en Ouma het toe op die stoep gaan sit en Chinese Checkers speel. Nie so goeie idee nie. Vyf en vyftig jaar speel hulle al die speletjie en dit eindig altyd in ’n stryery. Ouma het nog nooit gewen nie en na elke spel sê sy baie woedend dat Oupa kroek. Nou sit hulle net.

Vra my dogter: ”Hou Oupa van Chinese Checkers?” ”Nee nie eintlik nie,” antwoord hy. ”Nou hoekom speel Oupa dit?”  ”Want jou Ouma hou so baie daarvan!” Ten einde raad het ons besluit om vir ’n paar dae Augrabies Nasionale Park toe te gaan. Ons het in die pragtigste gastehuis genaamd Ikaia (mag ek dit noem?), in Keimoes oorgebly.  Dit was die moeite werd. Die pragtige area om Keimoes en Kakamas op die wal van die Oranjerivier en al die oulike padstalletjies en eetplekkies het dit vir die twee ou mense ’n onvergeetlike ervaring gemaak. Ek sluit 'n foto van kameelperde by Augrabies in. Vandag is hulle huistoe en my lewe kon terugkeer na normale pas. (As jy Kathu normaal kan noem!)

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top