Daar was eens op ‘n tyd ‘n gom wat in Afrikaans uitgevind is. Ek dink die naam was Vasvat of so iets. Later is daar gesê ‘hulle' het Vasvat uitgekoop omdat dit te goed was en alle ander gom uit die mark sou presteer.
Ek dink Afrikaans het op so ‘n manier gebeur dat, as dit ‘n godsdiens sou wees, dit ouens soos Angus en Thomas net so sou ontstel het as die Skeppingsverhaal in al die verskillende variasies daarvan wat deur ons ander onnosele ‘kabouters' letterlik opgeneem word, en wel in ons uitverkore variant.
Niks oor die ontstaan en groei van Afrikaans maak sin nie. Dit het gebeur. Niemand kan stry nie. Afrikaans, net soos ons, die lewe, die natuur en alle ander dinge IS, maar hoe? En hoekom?
Afrikaans IS, en so ook enige ander taal in die wêreld. Niemand kan juis verklaar waar dit begin het, hoekom dit ontwikkel het, en natuurlik ook nie Wie (dis my hoofletter, los hom uit asseblief - Dis reg! Ek los! Webvoet) daarvoor verantwoordelik is nie!
Wat ek wel weet is dat taal een van die bepalende faktore is by die voortbestaan van die brose vorm waarin my persoonlikheid groei. As ek nie Afrikaans gepraat het nie, maar sê nou maar Sepedi, was ek geheel iemand anders.
Afrikaans is ook die vorm waarin my onmiddellike mensekring bestaan, waarbinne ons mekaar leer ken. Praat is nie ‘n sintuig nie. Dis ‘n gom. Dit hou ‘n klomp mense wat mekaar andersins sou uitgemoor het, bymekaar. Taal is wel ‘n manier om jouself uit te druk, maar die Afrikaans wat ons elke dag heen en weer uitruil moet net nooit in ‘n veiligheidskluisie in ‘n bank gestoor word soos die familiejuwele nie, dan is ons in die moeilikheid.
Dit gaan met my taalgebruik baie soos met die binnekant van my kar. Dit lyk beter as dit skoon en georden is, maar die wêreld vergaan nie as ek laat slaplê nie. Die kar loop nog, en bring my van A na Z. As ek wil ry kan ek ry. Ek wil nie ingeperk word nie. Ek wil praat soos ek lus het, sodat mense my kan verstaan. En as ek voel hulle verstaan my nie, pluk ek ‘n klomp plaaslike uitdrukkings links en regs uit die lug uit en gooi dit in die poging in my praatpot.
Ry maar net tydens spitstyd-Pretoria tussen ‘n klomp wit Siyaya's in van der Waltstraat af Boomstraat se kant toe. Dis ‘Leef en laat leef'. Gee ‘n haastige Siyaya kans om voor jou in te druk, en hoor hoe die voorste passasier wat by sy oop venster uit, help kyk, vir jou "Daintjiee!" skree. Daintjie is daintjie, dis nie ‘thank you' of ‘kealeboga' nie. Dit is ‘dankie', met ‘n Pretoria-geur.
Willa


