Bokomo-brekfisbrief; 23/08/2010: Leuens

  • 0

Ek het nie bewyse dat mense deesdae meer lieg nie, bloot omdat ek basies net hierdie generasie as verwysing het. Maar vir my is dit asof mense al meer en meer lieg en bedrieg. Of die waarheid buig. Hier praat ek nie van politici nie, want hulle is bloot skuim. Ek praat van doodgewone mense in hul daaglikse omgang met mekaar. Besighede, amptenare, en sommer die deursnee outjie wat jy teëkom. En persone wat veronderstel is om vir jou lief te wees.

Hoe kan 'n persoon di  een dag vir iemand se jy is lief vir hom/haar om die volgende dag te verkondig hoe hy/sy die wit waks uit jou irriteer? Hoe werk dit dat daar altoos voorwaardes is vir die uitspreek of uitleef van dit wat basies menswees veronderstel is om te wees? Ek wonder oor die ding dat mense rondvertel dat Jannie my vriend is vir wie ek alles sal doen maar die dag as jy op Jannie se knoppie druk daar altyd verskoning gesoek word?

Dalk begin die lieg reeds by geboorte. Jy word van kleins af vertel vanaf die kansels van al die feëverhale, jy word van kleins af geleer of vind dit deur harde ondervinding uit dat jy moet oorleef in hierdie gebroke wêreld. En so word die leuen onbewustelik tot iets groter verhef. Jy lieg nie regtig nie, maar jy doen alles wat jy kan om altyd die beste, die oorwinnaar te wees. In die sakewêreld is dit basies 'n wêreld waar handskoene nie nodig is nie. En jy spandeer jou dag en dae om om nie meer net te oorleef nie maar om te heers, ongeag wie onder le. Ongeag wat jy self inboet in die proses.

Ons jaag om ons verpligtinge wat ons self gekies het na te kom. Ons trap en laat ander glo dat dit die regte manier van doen is, omdat dit oorlewing is. Ons probeer leef,want iewers aan die einde van die jaar kan ons afskakel as ons genoeg pennies bymekaar gemaak het om die vakansie aan die kus te finansier. Ons jaag ons lewe om om bloot eendag as ons oud en afgeleef en lank nie meer in staat daartoe is om dit wat ons jare lank voor gespook het te geniet nie, toe te vertrou aan die ondankbare nageslag. Om te eindig as 'n dankbare oumens iewers in 'n tehuis. Dankbaar in die wete dat jy tog versorg sal wees omdat jy jou hele lewe daarvoor gespook het.

My vraag is baie basies: Wat is die sin daarin om te leef as jy nie meer die Groot Geel ene kan sien ondergaan nie? Waarom hoegenaamd nog moeite doen om te jaag en tekere te gaan as 'n brander net mooi is as jy vir jou vakansie kom? Waarom die moeite en hoofpyn deurgaan om jou strandhuisie iewers te laat bou as jy so verstrengel is dat jy eenvoudig nie in staat is om selfs vir net een dag weer daardie kind wat jy was te kan wees nie?

Ek kyk na die doodgewone vissermanne en die armes en ek wonder. Wat het hulle dat mense tot die einde van die aarde sal gaan om te hê? Wat is dit dat hulle lag duidelik sigbaar is in hul oë? Waarom glo ek eerder die arm drenkeling as die mooiste Yuppie (bestaan hierdie woord nog?)? Wat het hulle wat die designer blinkprater nie het nie? Of dalk moet ek eerder vra: Wat het hulle nie?

Hulle het nie die gejaag na geld nie. Hulle lag kliphard as iets snaaks is. Hulle huil dat jy nulle 'n blok ver kan hoor. Hulle drink hul brandewyn of Sakkies en wonder nie oor dit waaraan niemand in elk geval iets kan doen nie. Hulle leef. En  die leuens kan jy sommer duidelik uitken, want hulle is nie gewoond om stories te spin nie. Het nie nodig om iemand te beïndruk nie.

Wat jy sien is wat jy kry.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top