Bokomo-brekfisbrief; 23/07/09: Vir Varkspek, oor baba-abba

  • 0

 

 

Hey, engeltjie!

Jou pragtige herinneringe aan Transkei het my gevul met heimwee oor 'n vergange tyd in diep Apartheid toe daar soms, ten spyte van alles, 'n besondere band tussen twee vrouens van min of meer dieselfde ouderdom kon bestaan, ongeag of die een beige en die ander een caramel-coloured was.

Die mooi Engelsman en ek het skoolgehou op Morgenzon in die Oos-Transvaal, by die Hoëveldse Hoër Landbouskool. Ons het 'n koshuiswoonstel gehad, en op 'n dag het daar 'n kort, gesellige, dik, liggeel Zoeloevrou by die agterdeur gestaan. "Ek soek hom die piece job, Makoti", het sy gesê. Die Makoti, die bruid, (ek) was al hartlik gatvol vir babadoeke (daar was nog nie weggooidoeke van enige aard nie, ook nie babygro's nie, ons het ons eie babygro-pakkies gebrei!) en het dadelik die meriete van 'n tuishelper ingesien.

So het Martha Mbata in my lewe gekom. "Ek loop daar by baas Danie sy kaias, daar waar oubaas Pokkelenberg hy het gasterwe by die weerlig", het sy verduidelik en almal sou dadelik weet waar Martha bly, op Danie Erasmus se plaas, daar waar die bekende voetspoor van Daniël Pokkelenberg Erasmus is, in sy spore doodgeslaan deur die weerlig nadat hy uit woede, hartseer en frustrasie 'n skoot na die hemel afgetrek het toe sy stoetdiere in 'n Hoëveldse donderstorm omgekom het. Dit was die laaste keer dat Martha sou loop. Ons het haar elke oggend voor skool gaan haal en weer in die middag gaan aflaai, reg voor haar beskeie kaia. Ons het onsself die argwaan van die hele onderwysgemeenskap op die hals gehaal omdat ons haar dubbel die normale loon betaal het, vir haar kruideniersware en babakos gekoop het, en haar hele kaia uitgemeubileer het, sodat sy ook menswaardig met haar antieke man, wat al te oud was om te werk, kon leef. "'n Mens bederf hulle nie so nie," het 'n stywe vrou met 'n spitsneus gesê. "Hulle moet hulle plek ken." Ek het haar op en af gekyk, gedink, "Gaan skyt." Ek het Martha ingestop met alles wat haar vrouehart - net soos my eie vrouehart - begeer het. Martha het lekkerruikgoed, deodorant, snoepgoed en die helderste plastiekarmbande wat die Indiërwinkel gehad het, begeer en gekry.

Sien, Martha was 'n genade-geskenk. Ons het so saam-saam babas gehad. My Buksie was toe ses maande oud, en haar Petros was ook ses maande oud. Toe ek vyf jaar later vir Yvette kry, my rooikop-meisiekind wie se Zoeloe-bynaam dadelik "Moriri o chilli" (die kop wat brand) was, het sy haar Julia gehad, en kon ons saam popspeel met ons nuwe babadogtertjies. Sy was 'n Ovambo-meisie wat op veertienjarige ouderdom vir 'n paar beeste verkoop is aan 'n 42-jarige Zoeloeman (nie lobola nie, omdat sy nie 'n Zoeloe was nie.) Haar aangeleerde huistaal was wel Zoeloe, maar sy het een dag, tydens 'n radioprogram oor die Chrissiesmeer-Boesmans (die San), opgewonde begin saampraat, en toe kom ek agter sy klik en kliek en klap vlot in wat destyds Boesmantaal (Khoi-San) genoem is. "Ek prat hom goed, darie ene, dis my tata se taal," het sy gesê.

Sy was ook gebou soos 'n tipiese San vrou, besonder kort, met dun beentjies en 'n mooi dik lyf, met 'n stewige agterkwart waarop 'n baba rustig en tevrede ge-abba kon word. Haar vel was geel, nie bruin nie, en haar klein, laggende rosyntjiebruin ogies het verdwyn in 'n gesig met 'n wipneusie en plooie wat reeds op dertigjarige ouderdom sterk begin wys het.

Haar woorde aan my sal ek nooit vergeet nie. Boesman-wysheid van 'n ma wat toe al van visuele persepsie en perspektief geweet het. "Ons moenie die Mafoeta'tjie (vet seuntjie, vir my maergat wit baba) so baie pepa nie, Makoti," het sy gesê toe Buksie een dag huil en sy armpies na haar uitsteek om ge-abba te word. "Ons moenie die Mafoeta'tjie so baie pepa nie, hy sal nie sien nie."

"Hoe meen jy, Martha?" het ek gevra, wel wetend dat daar gesê word dat swart kinders nie goed ontwikkelde diepte-persepsie het nie. "Kyk, die bybie hy sit op my rug, ek pepa hom so baie, hy sien net my rok, heeldag. Hy sien nie ver nie, hy kan nie die bome en die pad mooi doer anderkant sien nie, en as hy draai sy kop, hy sien net die kant van die pad, so hy sal nie sien as hy groot is nie, sy oge hy kyk nie ver nie."

San-wysheid, wat verklaar waarom moderne swart kinders, wat gewoonlik deur susters, ouma's, tantes en ander vroulike familie tuis ge-abba word terwyl die ma werk, op skool soveel perseptuele probleme het, en geweldig sukkel met vakke soos tegniese tekene en kuns. Hulle het net eenvoudig bitter min of geen diepte-persepsie nie, en sommige mense verklaar dis ook die rede dat hulle sommer oënskynlik blindelings voor jou kar instap oor die pad - hulle kan nie die afstand van die bewegende, aankomende voertuig akkuraat skat omdat hulle nie die nodige diepte-persepsie het nie, as gevolg van die oordadige ge-abba as babas! Watter skrikwekkende gevolge dit vir bestuurders inhou, kan 'n mens net daaraan dink en sidder.

Martha het die Mafoeta'tjie toe maar minder gepepa en meer gesleep, sy het hom op 'n kussing in 'n kartonboks laat sit en met twee ander kussings mooi gestut en vasgepak, met 'n babakombersie toegemaak en die hele boks vol speelgoed gegooi. Sy het heeldag met hom Zoeloe gepraat, en op driejarige ouderdom was hy net so vlot in Zoeloe as wat hy was in die Engels wat sy pa hom geleer en die Afrikaans wat hy by my gehoor het. Met 'n kort toutjie aan die boks, het sy hom saamgetrek waar sy ook al in die woonstel gewerk het, en die speelgoed wat hy met groot vreugde uitgegooi het, weer opgetel en teruggepak het sodat hy dit weer kon uitgooi. So het sy daagliks my kind se oog-hand-koördinasie en growwe motoriese beweging bevorder. In haar onkunde was ou Martha die beste kinderopvoeder ooit, en Buksie, hy sien. Hy sien ver, danksy 'n Ovambo-vrou se insig en liefde vir 'n wit kind wat nie haar eie was nie. Viva, Martha Mbata, viva! Ek eer jou nagedagtenis.

Joy en blessings, Varkspek en almal wat ooit gepepa was.

Leandré

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top