
Na aanleiding van Pieter en Anton se slingerpad deur kelder en wingerd besef ek nou vir die eerste keer eers dat die term "geswael" nie net 'n figuurlike betekenis het nie. Nou ja, eenmaal 'n Vrystater ...
Dis juis aan die Grootste Afrikaanse Universiteit in daardie provinsie waar ek die eerste keer met die vrug van die wingerd deurmekaar geraak het. Dit was in die laat sewentigs, en wingerdboere had die skerpkant van die sanksiespies in hulle sye. Met dié moes hulle meer wyn in die binneland verkoop, en aan innoverende idees het dit nie ontbreek nie.
Wynproe-klubs is oral in die korporatiewe wêreld van die Hoëveld gestig waar totale vreemdelinge vinnig na die vrug van die wingerd bekeer is. Vir polisiekoffie-lojaliste was dit nogal 'n vreemde ervaring om skielik goeters wat jy jou nie eens in jou verbeelding kan voorstel nie, in jou dop te moet kan ruik en om duur drank netjies te kan uitspoeg. Maar nou ja, die einddoel was om wynsnobiste te kweek wat weer ander kan inspireer om ook so te raak. En dit, kan u raai, was die begin van die uiters suksesvolle konsep van "viral marketing" wat vandag die sg "buzz"-woord in bemarking is. Honderde duisende bottels ondrinkbare pinotages en cabernets, swaar getannien, is op niksvermoedende korporatiewe ambisieuses gedump.
Nou ja, dit was die korporatiewe wêreld. Op die plaas is die ou mense van nagmaalwyn afgespeen en met Late Harvest verlei omdat veel meer ligte wyn as gefortifiseerde wyn geabsorbeer kon word, al was die alkohol-inhoud veel laer. Sondae is die versnyding uit die yskas gehaal en langs die stomende lamsboud staangemaak. "Kry 'n bietjie wyn", sou Groot Kees vir die gaste sê, "dis lekker soet, nie hierdie suur gemors wat die grênd mense drink nie."
Op universiteit het die Kaapse wynbedryf die kerk 'n bietjie ondermyn deur wynsakke populêr te maak. Saterdagmiddae Vrystaat Stadion toe om Joggie Jansen en De Wet Ras te loop kyk met 'n propvol wynsak Late Harvest wat ingesmokkel word. Veiligheidbeamptes het toe nog net van gedokterde lemoene geweet, maar behalwe dit het 'n wynsak om jou meisie se heupe veel minder agterdog gewek as 'n lemoen tussen haar borste.
In dié dae besluit onse proffie in Bedryfsekonomie dat sy derdejaars 'n besigheid moet besoek om te sien hoe sy teorieë in die praktyk werk. En briljante navorser wat hy nie was nie, besluit hy om ons na 'n groot wynkoöperasie se kelders in die stad te neem. En hy was nie verkeerd nie, alles het goed afgeloop. Tot hy weg is.
'n Klompie studente het, teen alle normale verwagtinge in, agtergebly om met die bemarkingsmense te vergader. Dit het uitgeloop op 'n proesessie, wat 'n drinksessie geword het. Laataand vra ons uit na die swael en rypmakingsprosesse in die wynbedryf, wat op die ou end soos volg uitkristalliseer:
Oorskotte in die Kaap was groot en pryse is dus laag gehou om berge in molshope te probeer verander. Winsmarges was onder druk, en daarom moes kostes laag gehou word.
Wat die kêrels toe doen, is om die wyn in die Kaap 'n bietjie te ontwater en die konsentraat in spoorwegtankers van vlekvrye staal Bloemfontein toe te stuur. Daar aangekom, is van Bloemfontein se heerlike chloor-behandelde water weer bygevoeg en geboks. En siedaar, 'n winsgewende onderneming! Die proffie was reg.
Die probleem, sê 'n ou wat heeltemal te veel geproe het, is dat die Vrystaters so lief is vir Late Harvest dat hulle soms uit voorraad hardloop. En net daar leer hy ons wat innovasie werklik beteken:
"Nee kyk, boys, julle planne moet net nooit opraak nie. Ons vat Stein, gooi 'n bietjie saccharien by, en boks dit. Nog nooit 'n klagte gehad nie ..."
Wynsnob het ek toe nooit geraak nie.
Groetnis
Kees Bottersma

