Bokomo-brekfisbrief; 23/06/08: Vergifnis is 'n sinnelose voorstel ...

  • 0

Verlede week se absolute wrede en moorddadige berigte in Beeld het my ontstel, bloot omdat die geweld sommer net so rondom my gebeur het. Sommer net so klinies, koud, afskuwelik en vir geen rede dan gewoon sielloos en dood nie. Van die slagoffers is dood, mense wat gewoonweg bestaan het en gewoonweg probeer het om ʼn lewe te maak.

Die pragtige jong meisie, hier aan die onderpunt van ons straat, is ʼn fotografie-student. Alewig met haar kamera doenig om haar passie uit te lewe, soekend na foto’s en dinge, stokke en takke en skaduwee en goed wat in ʼn komposisie kan verfoto word. ʼn Student, ʼn pragtige kind, sy het iets om voor te lewe. In haar jeans en ponytail, die 1960 Volla, driepoot, rugsak en langlenskamera. Soms kry ek haar duskant my erf buitekant, weggekruip, dan is haar “mission” weer voëls wat ek so lok na my tuin wat sy die waterput afneem waar hulle op die granietklip bad …

Meer as een keer is die gesiggie vol stof, gewapen met een of ander “energy mix” botteltjie wat sy so suig, ongemaklike posisies wat sy staan en loer. Sy en my bullterriër moes ʼn liefdesverhouding gehad het, want dié pas haar op as sy hier in die struike kom wegkruip. Hy lê en loer waaksaam by haar voete, nugter weet wat in die koppie aangaan, maar absoluut gereed om haar te beskerm indien een voël dalk nie sy plek ken nie …

Sy het ook ʼn ding met my rooi hoenderhaan gehad – dié het haar so goed geken en haar kort-kort tot groot vermaak van die kleuterskool se kinders oorkant die straat uitgedaag tot ʼn geveg teen die heining, dan sak die man op sy knie, vere in die nek omhoog, kop blou gedruk soos wat hy die bloed na die gesig oppomp … en al wat ʼn kind is aan die oorkant laat kraai het van die lag as sy dit regkry om hom te laat gemaak storm.

Sy het Woensdagmiddag hier in ons gegoede buurt haar laaste foto geneem. ʼn Moordenaar, ʼn misdadiger het die reg om haar eers van haar klein lyfie se regte te ontneem en, asof dit nie aaklig genoeg is nie, daarna haar van haar ywerige lewe ontneem.

“Melanie, mag jy nou baie foto’s neem, foto’s van die aarde, van die baie mooi ruimtes, van al die mooi voëls op die aarde, die bome en waters. Mag jy die mooiste komposisies kry van vryheid, van pynloosheid, van plekke wat nie verliese het nie. Mag jou stokke nou kruis by die paaie van die nalewe, jou rigtings net na Bo loop en mag die helderste van kleure in jou lense vasgevang word … maar rus in vrede, nie in die herinnering van hoe jy hiervandaan vertrek het nie.”

Tuis, hier tuis deel ek ʼn onbekende verlies van iets so mooi, so opreg, so onskuldig, so verrykend vir die aarde en ons omgewing, vir my menswees, ʼn vriend vir my diere …

Ek weet nie of sy vir die hond oor wie sy so erg was, kom kuier het nie. Dié het gister vir lank daar in die bos gelê, wou om die dood nie daar uit nie, asof sy die hoenderhaan nooit weer sommer net so wil kom koggel nie.

Ek lees die volgende want ek soek wysheid:

“One of the reasons people cling to their hate so stubbornly is because they sense, once hate is gone, they will be forced to deal with pain.” – James Baldwin, novelist, writer (1924-1987).

“If you hate a person, you hate something in him that is part of yourself. What isn’t part of ourselves doesn’t disturb us.” – Hermann Hesse, German poet, painter (1877-1962) from Demian.

“Revenge is fuelled by rage and hate, qualities that need to be constrained, not encouraged. It’s one thing to be human; it’s another to be humane.” – Michael Josephson.

Ek is nie bevoeg genoeg om groter as my haat te wees nie, ek haat, ek haat onverwyld en ek, ek wil vergelding sien tot en met die wreedste, bloedigste en hoogste prys. Ek wil fokkol weet van vergifnis …

Wat ʼn sinnelose voorstel as daar elke 23 sekondes in Suid-Afrika iemand verkrag word …

Pierre van Niekerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top