Ek en my liefie besluit om van die kortnawekie 'n langnawekie te maak, af te suiker see toe en sommer so met die afgaan by my pa aan te gaan. Ou-HJ is al aggentagentig en my ma 'n besige vierentaggentig. Aangekom, gegroet en koffie en beskuit. Die gewone.
Ek kan sien die oukêrel is nie lekker nie en vra na sy gesondheid en dies meer. Nee, alles gaan goed, hy voel goed en bly aan die gang. Ek ken die ou blikskottel en hou maar die gesprek by die gemeenplase. My liefie reken die bedonderdgeit is geneties. Ek praat en vra oor die weer en die bure en die honde, kallers en kleinkinders en dié se kinders. Gemaklike praatgoed.
My kinders en dié se teelprogrammetjie was die vorige naweek daar. Dit was glo lekker om hulle weer te sien.
"Die kinders word groot", reken Ouma-HJ.
"Woelig", brom Ou-HJ.
"Nou vanwaar die nukkerigheid?"
Ma-HJ lag so onderlangs en Ou-HJ wil-wil so 'n rooierigheid om sy baard bloos. Sy vertel dat hulle gister dorp toe is om 'n paar onnodighede te gaan koop. Daar is mos nie meer regte winkels nie, net so 'n groot kompleks, die "shopping centre". Dis darem gerieflik met dié dat daar genoeg maklike parkering naby die ingang is. Met baie mense wat in en uit. Die plan was dat dit net 'n vinnige koop gaan wees en, anders as gewoonlik, dress hulle nie op nie. Dis nou Ou-HJ. Ma-HJ is altyd opgedress.
So met die stop vra Ou-HJ wat die kopery gaan behels. Ma-HJ verduidelik en die lysie word al hoe langer en Ou-HJ al hoe meer bedonderd. Ek dog dit gaan gou wees! Ma-HJ besef dat sy sal moet mooitrap. Die ou man hou nie daarvan om agter enigeen aan te drentel nie. Sy been word glo seer. By die huis loop hy die vlaktes vol, maar as dit by dorp kom raak hy steeks. Geneties, mompel my liefie.
Regby die ingang bemerk sy 'n hardewarewinkel. En dis waar die boervrou 'n plan maak. Die eerste beginsel van goeie manbestuur is om die pes uit die pad te kry. Sy drafstap daar in en koop een van daai driehoek-kampstoeltjies, dié wat soos 'n baaisiekel se saal lyk. "Ou-HJ, nou sit jy net hier in die koelte van die afdak. Ek gaan gou die goete koop." Ou-HJ reken ook dis 'n goeie plan. Hy kan die mense sit en beskou. Die haastiges en die snaakses en die wulpses en so aan. Ewe waardig sak hy sy grote gat op die klein stoeltjie neer en beskou die wêreld.
Ma-HJ loop koop haar dinge en 'n uur later kom sy aan met 'n tou mense draende aan haar pakkies waar sy Ou-HJ gelos het. Die stoeltjie is daar, maar hy nie. Sy kry hom waar hy penorent langs die motor staan en wag.
"En nou?"
"Ek sit nie daar nie!"
"Maar hoekom nie, liefie?"
"Die mense is mal! Almal wat verbykom, wil vir my geld gee!"
HJ


