Ons redigeer hierdie weergawe ter wille van spasie:
Jan Smuts-lughawe. Internasionale vertrekke. Laaste sekuriteitspunt voor jy hierdie land verlaat. Hier geld my woord, al is ek ʼn doodgewone man as ek op straat is. Hel, as ek terugdink aan al die strepe wat ons vir soveel mense getrek het, dan kry ek soms skaam. Ek onthou hoe die uitsondering-lugwaardinne nie rubber tools (dis nou die soort wat die manlike orgaan vervang) in hul bagasie gehad het nie. Veral die SAL girls het maar die rubberhulpmiddels so met hulle saamgeneem. Ons het altyd gewed op watter redery se girls die mooiste was. Ek staan steeds by TAP se girls bloot omdat hulle hooftooisels my kniege lam gemaak het. Fok, maar hulle was mooi! Jammer, maar ʼn mooi vrou bly maar mooi. Toevallig, ʼn mooi man is ook maar net so bewonderenswaardig!
En, soos gewoonte maar was doerie tyd, kry ons ʼn radio dat hier ʼn VIP op pad is. Staan regop! Wees paraat! Vir Pik het ons nooit geparaat nie, synde die man reeds op die plane begin tiep het.
So bekyk ek hierdie klein man wat so half wegraak tussen die gewone Sondagaandskare. Daar bo by "incheck". Af met die roltrap. Pers bekleedsel. Pers mus. Wie de donner moet ons nou weer VIP? Biskop Tutu, vertel 'sant my. Moenie opslip nie!
Fok dit, man! Hy is mens soos ek, die wurms wat my vreet gaan hom ook verorber! Of so het ek gedink.
Snaaks genoeg het Die Biskop geduldig in die tou gestaan. Onnodig. Enigeen wat enigiets weet van lughawens sal jou kan vertel dat ʼn groot deel van die oponthoud eintlik doelbewus sielkundig is. Hulle soek juis die manne wat begin sweet en rondstaan so tussen die deursoekery deur. Eendag meer hieroor.
Aaahh, hier kom die VIP! Die Biskop homself! Hier gaan ons vanaand ʼn BA-vlug vir sommer lank vertraag! Die Kort man met die sagte stem stap deur en die metaalverklikker skree ten hemele!
"Sorry sir, you cannot go through. You must take off all the metal on your body & place it in the basket." Geen scene, geen hoe-ha nie. Biskop Tutu haal maar die kruise af en sit dit getrou in die mandjie. Met sy weer deurstap plaas Oester die kaartjieknipper so neffens teen die verklikker en soos die Biskop deurstap skree dit! Enigste oplossing as ʼn metaalverklikker bly afgaan is ʼn "body search". Agter in die kamers. En ek gaan seker maak ek doen die search!
Lank, lank nadat die vlug moes vertrek het, het Biskop Tutu eers opgeklim. Sien, toe ek hom vertel hoe ons hom gevang het, kon hierdie groot man nie anders as om eers vir lank met ons te staan en lag nie. Ek het oor en oor om verskoning gevra dat ek hom so te na gekom het, maar hy het, bleddie (en ek sê dit in absolute piëteit) platjie wat hy self maar is, dit so opgevat. Ek bewaar nog steeds die inskrywing wat hy in my sakboek gemaak het daardie aand, en nee, sy spesifieke woorde het niks met niemand uit te waai nie.
Ek onthou, nee, ek ag dit as een van die hoogtepunte uit hierdie kort tyd op aarde dat hierdie Groot Mens my lank, lank na die tyd weer gekontak het. Lank nadat ek sleg gevoel het oor die streep wat ek as jongeling op hom getrek het. Ek sien hom as ʼn Mens, soos wat hy gesien wil word. Nee. Ek is verkeerd. Ek neig om hom op ʼn troon te plaas. ʼn Troon waarop hy nooit wou gewees het nie. Is dit grootsheid? Ek dink nogal dit is! Soos Pa altyd gesê het: "Kyk af, grondwaarts as jy met jou meerdere praat."
Ek dink nie wurms gaan ooit die voorreg hê om aan Tutu te knaag nie. Ek dink as daar ʼn hemel is, is sy kaartjie reguit vooruit bespreek. Ek sal nie daar wees nie, maar ek is seker dat Petrus die musikante lank lank voor die tyd hul snare sal laat instel vir die koms van hierdie groot MENS!
Biskop Tutu, mag ek, naas Afrikaan, die wens uitspreek dat ek U 120ste verjaarsdag mag beleef. Dankie dat U hierdie jongeling die moeite werd geag het om saam met hom ʼn koffie of twee te drink! En nee, U weet ons is nie almal so nie. U het dit self aan hierdie oestermannetjie so verduidelik.
oester
NS: "There are more things in heaven & earth than meets our imagination" – Shakespeare, was dit?


