Ek dra nie veel by op LitNet nie, maar lees dit graag en ek moet erken party dae kan ek nie glo hoe party mense mekaar niks gun nie, nie eers 'n opinie nie ...
Ek werk in 'n personeelagentskap in Londen. Ons is 'n klein onafhanklike agentskap naby die Abbey Road studios. Aangesien ons so klein is, ken almal mekaar se families, ens.
My baas se ma is 'n Joodse dame, sy is nou 95. Sy het groot geword in Pole en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog vlug sy en haar familie en kruip vir 'n hele ruk suksesvol weg. Na 'n tyd is haar ouers en meeste familie egter konsentrasiekampe toe gestuur en sy en haar suster is die enigstes wat Auschwitz ontvlug en op 'n wonderbaarlike manier in Oostenryk veiligheid bereik het. Na die einde van die oorlog vind hul ook uit dat hulle die enigste oorlewendes is van hul hele nabye en uitgebreide familie, absoluut niemand het oorleef nie. Hulle het hulself vir paar jaar in Israel gevestig en toe later Engeland toe gekom.
Vandag is sy 95 jaar oud, bly nog alleen en onafhanklik in haar woonstelletjie, het meeste visie in haar oë verloor, maar dit stop haar nie. Drie dae 'n week werk sy as 'n vrywilliger by die Britse Hartstigting se welsynswinkel. Sy klim self op die bus, gaan werk toe (en as sy gaan laat wees, bel sy ons, sodat ons haar baas kan laat weet!) Die res van die tyd is sy betrokke by vele ander organisasies en gaan ook jaarliks op 'n see vakansie saam die ander Holocaust oorlewendes in Londen.
Ek dink mens moet definitief daarna streef om so voltyds te leef ... mens leef net een keer en glo my sy LEEF baie meer as die meeste van ons.
Groete,
Pikkie


