Bokomo-brekfisbrief; 23/02/09: Krok en Oester: 'n Diep Demokratiese gemeenskap

  • 0

 

 

Ek wou nou al 'n ruk lank iets oor julle idees rakende 'n diep demokratiese gemeenskap skrywe, maar die tyd was ongelukkig beperk. Siende dat politici ons soos gewoonlik diep teleurstel, voel ek al hoe meer gemotiveer om my heil in die gemeenskap eerder as in die politiek te gaan soek.

Die afgelope Desembervakansie was ek bevoorreg om die oord Londolozi in die Sabi Sands wildreservaat te besoek. Op die oog af sal mense moontlik hierdie oord as 'n kontantkoei beskou en aanneem dat die eienaars miljoene maak uit die bedryf wat grootliks internasionale toeriste teiken.

Tydens my verblyf het ek egter vinnig agtergekom dat hierdie klein gemeenskappie in die middel van die wildernis 'n Utopia vir sy mense geword het. 'n Plek waar ieder en elk hulle kennis en vaardighede kan ontgin en aanwend ten einde die voortbestaan van hulle gemeenskap te verseker.

As 'n mens so terugdelf in die geskiedenis van die gebied, kom jy tot die slotsom dat al die probleme wat soveel wantroue tussen onderskeie rassegroepe in die land laat ontstaan het, ook daar van toepassing was. Die Tayler- en Varty-families het sowat tagtig jaar gelede ook die grond geproklameer en 'n jagplaas begin.

Soos wat die tye egter aanbeweeg het, het die jonger geslagte al hoe meer die belangrikheid van natuurbewaring en toerisme begin insien. Die plaaslike bevolking se kennis en vaardighede rakende die wildernis kon nie onderskat word nie, en hulle is stelselmatig betrek om uiteindelik 'n onmisbare rol in die sukses van die oord te speel.

Aangesien Londolozi homself as 'n internasionale bestemming posisioneer, het die belangrikheid vir opleiding en onderrig van die gemeenskap 'n noodsaaklikheid geword. Van die oomblik wat jy uit jou voertuig klim, word jy gegroet deur al die personeellede wat jou tydens jou verblyf gaan vergesel. Almal handhaaf 'n besonderse hoë vlak van die Engelse taal en hulle hoflikheid is 'n belewenis.

Later die middag ontmoet ons vir Renias Mhlongo. Renias se kennis van die veld en natuur is ongelooflik. Renias vertel ons hoe hy verskeie kere die VSA besoek het op uitnodiging van wildbewaarders van verskeie reservate in Kalifornië. Renias het binne oomblikke bere en bergleeus opgespoor, wat die Amerikaners gaande gehad het. Renias se vader is al in Suid-Amerika gewees om 'n jaguar te track. Dan bieg Renias dat hy as jong man vir oorlewing 'n wilddief was. Genadiglik het die Varty's hom en sy vader ontdek en die waarde wat toerisme vir die hele gemeenskap kan inhou, deel van hulle lewensfilosofie gemaak.

Die kamp spog met 'n skool en al die personeel kry daagliks drie etes. Hulle word aangemoedig om met die besoekers te sosialiseer en dit is duidelik dat hulle gemaklik is met die verskillende gebruike en kulture van internasionale gaste. Meeste personeellede praat goeie Afrikaans ook!

Die mense van Londolozi word as 'n familie beskou. Hulle bestuur grotendeels die plek op hulle eie en die sukses is voor die handliggend. Die professionaliteit en gasvryheid is absoluut te danke aan die filosofie en opvoeding wat die Varty's bereid was om in die gemeenskap te stort.

Ek dink dat hierdie as 'n klein voorbeeld kan dien hoe ons land sukses kan behaal, onafhanklik van die regering en sy foute.

Miskien kan ons Nelson Mandela se woorde ter harte neem: "During my long walk to freedom, I had the rare privilege to visit Londolozi. There I saw people of all races living in harmony amidst the beauty that Mother Nature offers. Londolozi represents a model of the dream I cherish for the future of nature preservation in our country."

Groete

FB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top