Maandag staan ek op OR Tambo Internasionaal by die sigaretafdeling van die “Duty Free”-winkel. Ek was reeds daar maar hulle het nie Chesterfield verkoop nie. Het toe na die Cosmic Candy-winkel geloop om te koop, maar hulle vra R35 ’n pakkie. Kom toe maar terug en rook nou Camel vir die volgende paar dae.
’n Ou kom staan langs my en ons raak aan die praat. “Waarheen gaan jy” vra hy.
“ Kinshasa, DRK” sê ek.
“O nee, dis ’n dump. Maak seker jy hou altyd jou geld naby jou.”
Ek dog, maar doen jy dit nie altyd nie drol, maar sê niks. So maak hy die plek sleg en ek besluit om eerder te loop.
’n Paar ure later land ek in Kinshasa. Die lughawegebou is vervalle, maar dit vat my seker 10 minute en ek is deur doeane sonder enige stories. Sukkel bietjie om die deur na buite te kry, trek ’n poliesman nader, maar hy verstaan nie Engels nie. Ek sê “Sortie?” en hy wys my gou waar om uit te gaan.
Niemand deursoek my nie, en ek kry skaars ’n kyk.
Buite wag Norwal vir my, en sê Paul – wat glimlaggend met sy duime omhoog naderkom – sal my kantoor toe vat. Die paaie val letterlik uitmekaar uit, en ek skud my longe uit. Op ’n stadium staan ons 20 minute op een plek en Paul sê iets in Frans en draai onseremonieel in aankomende verkeer om en ons ry ’n ander pad. Na ek “bonjour” vir Paul by die lughawe gesê het, klink dit my hy het aangeneem ek verstaan Frans en verduidelik soos ons ry van die plekke. Ek het op ’n stadium probeer iets vra in Engels, maar geen reaksie gekry nie, so ek neem toe aan hy verstaan Engels soos ek Frans verstaan.
Min weet ek dat ek ry in die ambassadeur van die DRK na Brittanje se motor. Nog minder dat ek in sy huis gaan bly vir die volgende twee weke. Woensdagoggend ontmoet ek die man. Wat ’n ongelooflike ou. Toe hy hoor ek kom van Johannesburg raak hy aan die praat oor Suid-Afrika, die ongelooflike oorgang wat ons gehad het. Die “magic” van Madiba, en vir die eerste keer in ’n lang tyd, sit ek in ’n plek waar niemand ’n slegte woord oor ons praat nie. Dit was werklik ’n oomblik van ongelooflike trots en ook ’n besef van wat sommige (ek glo die oorgrote meerderheid) van ons vriende in Afrika van ons dink.
Kinshasa is ongelukkig die mees vervalle plek in Afrika waar ek nog was. Die feit dat dit vervalle is, maak egter geen verskil aan die mense se optrede teenoor my nie. Ek word behoorlik op die hande gedra, en alhoewel die taal ’n probleem is, kom mens tog reg op ’n sekere manier.
Daar is bouery wat aan die gang is, en pogings om reg te maak wat stukkend is. Na hulle uit ’n oorlog gekom het, kan mens beswaarlik dink dit moet binne ’n paar jaar reggemaak wees. Daar is weer verkiesings hier in November, en na ek met ’n hele paar mense gepraat het, die ambassadeur inkluis, glo ek dat dit nie die voorbeeld van die Ivoorkus sal volg nie.
Die mense hier is gatvol vir oorlog, en wil net aangaan met hulle lewens. Ek hoop van harte dat hulle reg is.
O, en die ou se persepsie? As jy iets sleg wil sien in alles, gaan jy dit wragtig regkry.
Andries Wolmarans


