Bokomo-brekfisbrief; 23/01/2010: Thula-Thula

  • 0

Na aanleiding van Ludolf Parker se brief en Pouveer se reaksie oor Annalie Botes se boek, het ek gewonder oor die wyse waarop die media belangrike issues onder mense se aandag bring. Dis waar wat Pouveer skryf, hierdie dinge gebeur baie meer as wat mens dink en is destyds toegesmeer deur families. Dankie tog dat kinders vandag meer ingelig is en beter toegerus is om uit sulke situasies te ontsnap.

Dit was nodig dat daar meer openlik oor molestering gepraat en geskryf word. Dis waarom boeke soos Dis ek, Anna absoluut nodig was. Die vraag is, waarom dit so eksplisiet doen soos Annalie Botes? Is dit om sensasie? Ek het ál Annalie se ander boeke gelees en sy skryf onverbeterlik, maar toe ek die hype rondom die eksplisiete beskrywings in die boek hoor, het ek besluit om dit nie te lees nie.

So ook my dogters en vriendinne.

Ek het Swartskaap deur Odette Schoeman in Desember gelees. Dit was uitstekend, maar wat dit onderskei van die ander boeke oor molestering, is die feit dat die hoofkarakter, Claudie, ten spyte van die feit dat ‘onuitspreeklike' ongeregtighede teen haar gepleeg word, nie stilbly nie en het sy 'n innerlike krag wat maak dat sy nie 'n victim bly nie. Ek wil Odette gelukwens met die insig waarmee sy skryf op so 'n jong ouderdom, en wat die boek uitsonder is die feit dat jy nie voel daar is geen hoop vir Claudie nie.

Ek sou graag wou hoor wat ander mense wat al drie boeke gelees het, daarvan dink.

Vega

(Ek hou daarvan dat daar weer gesprekke rondom boeke is. Ek hoop julle is nie te skaam om meer gereeld oor letterkunde vir my te skryf nie, al is die onderwerpe sensitief van aard. Webvoet)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top