Bokomo-brekfisbrief; 23/01/09: Menswaardigheid en die ware vrou

  • 0

 

 

Die polemiek oor Minki en kie se foto’s het my laat dink aan een van my dorpie se karakters. Ek skryf haar verhaal sonder haar medewete, maar sy sal nie omgee nie. Trouens, ek glo nie eers sy kan haar naam skryf nie.

Raaitjie was ’n verleentheid vir haarself en almal rondom haar. Byna altyd onder die invloed van die plastiek bottel met die rooi proppie, want die met die geel proppie gee glo hoofpyn. Van jongs af was dit my probleem om ou Raai te bedien as sy die slag ’n soutkantjie of ’n stukkie babelaas wors wou koop, want vloek en skel was haar manier om aandag te kry. Ek het haar fyn snaar geken en deur daarop te tokkel kon ek haar gou beheer.

Ou Koos, ’n luie mens, het besluit dat ’n week te lank is om te wag vir ’n loon en los verfwerkies sou kon voorsien in sy daaglikse wynbehoefte, want die verfreuk pak mos op jou bors en al wat daarvoor help is ’n dop. Omstandighede het die gesin in die bosse laat nesskop. Omstandighede was haglik, maar steeds was Bacchus koning . Ek gee haar ’n 20 liter plastiese kan om vars water na haar bostuiste te kan dra en wat was haar reaksie. “Magtig man, in die kan sal ek lekker sakhare (konfaan) kan brou.”

Vrydae het haar hel toegeneem, want Koos wou geld hê vir nog drank. Die afvlerk kinders na wie sy moet omsien moet gevoed word en haar loon as tuiswerker kan nie aan almal voorsien nie.

Raai sou nooit soos Minki en kie op voorblaaie kon verskyn nie, haar gesig is nie deur plastiese chirurgie verander nie, maar deur die vuiste van ’n dronk man.

Ek het julle mos vertel van Raai se fyn snaar. Raai kry ’n HOP-huisie, in ’n mooi kleur geverf en daar skop die fyn snaar in.

Sy kom spesiaal slaghuis toe om my die volgende mee te deel:

“Jong ek het ’n huis gekry. Weet jy hoe lekker is dit om nie meer op jou kooi nat te reën nie? Sien jy nog die Raaitjie-meid wat so vloek en skel en langs jou slaghuis tiep? Sy is weg, hier voor jou staan ’n nuwe Raaitjie.”

Raaitjie, jy was eerste om te simpatiseer toe my seun sterf. Raaitjie vir jou en al die bruin vrouens in die land kan ’n monument gebou word vir die manier hoe ’n eie dak oor jou kop die ware vrou in jou kon uitbring.

Mosselbos

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top