Bokomo-brekfisbrief; 22/11/08: Skielik-skieter: My perspektief as die ma van 'n vermoorde kind

  • 0

 

 

Tot dusver het ek die mediaberiggewing oor die Skielik-skieter grotendeels vermy. Nie omdat ek nie belanggestel het nie, maar omdat dit vir my letterlik ʼn geval is van cutting too close to the bone for comfort.

Die verskillende skrywes en uiteenlopende standpunte in verband daarmee op SêNet het my egter laat besluit om ook my perspektief, soos dit ontwikkel het oor twintig jaar, te gee.

In die Rapport van 6 Maart 1988 was ons pragtige kind se gesiggie voorbladnuus onder die opskrif "Kimberley geruk deur gru-moord."

Sy is ʼn maand voor haar negende verjaardag vermoor deur Piet Smith*, ʼn sestienjarige "jeugdige," die seun van lidmate van ons gemeente wat ʼn paar huise van ons af in dieselfde straat gewoon het. Ons het die mense gereeld by die kerk gesien, maar was nie bevriend met hulle nie. Ek kan onomwonde sê dat ons lewens absoluut onherroeplik verander het, dat ons na twintig jaar steeds daagliks na haar verlang en oor haar treur. Dis vandag steeds onbeskryflik traumaties om te weet sy's deel van die moordstatistiek.

Die beskuldigde is twaalf jaar gevangenisstraf opgelê, maar in 1994 begenadig deur die nuwe staatspresident en na ses jaar vrygelaat met ʼn opgeskorte vonnis vir die res van die tyd.

Na sy bekentenis het verskeie mense ons gebel om te sê dat hulle voor sy inhegtenisname reeds vermoed het dat dit hy was. Hy was ʼn aangenome kind en het skynbaar van vroeg af gedragsprobleme getoon. Sy graad 3-onderwyseres het hom jare tevore reeds met die skoolhoof bespreek, ens ens. Dus, mense het gesien daar is fout, dit selfs gerapporteer, maar iewers langs die pad het dit uitgefizzle en geen verdere stappe is geneem nie.

Die stelsel het my kind hopeloos gefaal. Dit het die dood van ʼn geliefde, onskuldige, talentvolle kind gekos voordat die erns van die krake wat van jongs af gewys het, besef is.

Verstaan my nou baie mooi, ek kom nie op vir die Skielik-skieter nie. Vir baie jare het ek gedink dat ek Piet Smith sou kon vrekskiet sonder om ‘n oog te knip, indien ek hom iewers sou raakloop. Dalk sal ek nog steeds kan, ek weet nie. Maar ek hoop nou nie meer dat ek hom sal raakloop nie.

My gesonde verstand sê egter ook vandag vir my dat daar iewers in sy verwysingsraamwerk, soos waarskynlik ook in die Skielik-skieter s'n, faktore was wat aanleiding gegee het tot die treurspel. Geen mens word tog seker gebore met ʼn bloudruk om te moor, klaar gereed vir die uitvoer daarvan, in sy/haar gene nie.

Dit IS versagtende omstandighede, of ek, jy en die hele Suid-Afrika dit wil weet of nie.

Dis ʼn lang pad wat iemand soos ek moes loop om so te begin dink sonder om myself net te paai. Christene en ander gelowiges verwag van jou om veel gouer te begin vergewe.

Ek gaan nie meer lieg deur te sê ek het al vergewe nie. Ek is seker God verstaan dat ek nog tyd nodig het.

Vir almal wat so graag bemoedig (stroperig/goedbedoeld/onkundig) dat tyd die wonde sal heel, net die volgende: Ja, die wonde kry naderhand rowe oor, maar onder daai rowe BLY DIT SEER.

Ook ʼn Limerickskrywer

NS - * Piet Smith is ʼn skuilnaam.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top