Bokomo-brekfisbrief; 22/10/2010: Die lewensredders

  • 0

Ek het, ek reken, al my bydrae gemaak tot die najaag van die onbelangrike. Die vanuit retrospektiewe insig, mundane. So spandeer ek in my jonge dae ‘n jaar of wat in ‘n kusdorpie. In daardie dae ‘n patetiese gehuggie van ‘n seedorpie wat soos ‘n benoude krap aan ‘n rotserige kus klou. Daar gaan net mooi niks aan nie. Net met langvakansies stort ‘n golf van binnelanders op die plekkie neer.

Vir die klomp plaaslike strandlopers (ons) is dit dan soos die paradys. Een verskil. Nie net een Eva nie. Meer as wat ons selfs met onse matelose jongmensenergie kan baasraak. Die spreekwoordelike “hond in ‘n inryteater” is gepas.

Daar is egter twee probleme met die prentjie. Pa’s en kêrels. Die pa’s kry oombliklik so ‘n moordlustige kyk in die oog as hy een van ons wind en son verwaaide langharige gedrogte binne ‘n honderd meter van syse dogter gewaar en die kêrels maak geen geheim daarvan nie dat hulle heel bereid is om die moord onmiddellik te volbring. 

Die kêrels is dan ook meestal sulke frisserige kortharige lummels wat lyk asof hulle nou net van ‘n trekker afgeklim het. Wat lyk asof hulle ‘n skaap met een hand kan optel en sonder seremonie op ‘n trok gooi. Wat lyk asof hulle ‘n maer strandloper branderplankryer se nek kort duskant syse newwermaaind kan afdraai. Wat bloos as hulle ‘n nuwe meisie ontmoet.

‘n Plan moet gemaak worre.

Loop ons te vertelle (dis nou aan Oom Kiwi, die dorpsklerk) dat ons lewensredders moet kry. Sien, hy wil mos nie dat die spul binnelanders loop staan en versuip in sy dorp nie. Dit nou met die strome en die waters wat so wild en onvoorspelbaar is. En dat ons klomp strandlopers net die manne is om die takie te verrig. Hy het die afvaardiging met matelose wantroue aangegluur maar kon nie eintlik met ‘n teenargument vorendag kom nie. Hy kon nie swem nie en hy het geweet dat ons heeldag en aldag in die waters was. En dat ons sy strand en die se nukke beter as hyselwers geken het.

Hy kan nie meer as tien Rand per dag betaal nie seg hy. Ons moet hou om nie uit te bars van die lag nie. Ons sou dit verniet gedoen het! Wil hy weet wat ons nodig het. Dis nou om die lewensredderprentjie professioneel te laat lyk sien.

Myse jonger broer reken ‘n katrol is nodig. Ene met ‘n langerige tou. Ou Kiwi sê hy sal sien wat hy kan doen. Hy kan sweis.

“En stoele” seg ek.

“Wat wil julle met stoele?”

Om op te sit. Professioneel.”

“Rooi kossies” probeer Johnnie.

“Julle kan julle eie verdomde rooi kossies koop.”

En paaltjies met vlaggies. Om onse gebied af te pen en ook om te wys waar die spul binnelanders mag swem. “Dis reg so,” sê Kiwi. En eerstehulp! Kiwi meld dat hy die brandweertrokkie se eerstehulpkassie sal opkommandeer.

So pen ons onse kleim af en lê rond. Die Evas en die mammas en die pappas bekyk en bespreek die nuwigheid. Die strand vorder! Daar is nou selfs  lewensredders! Die kêrels brom van langhaar boomrokers en messtekers as hulle verbyloop. Die kleim en die vlaggies en die rooi kossies lyk amptelik genoeg sodat hulle nie kom sukkel nie.

Binne ‘n paar dae versamel ons ‘n paar soepele Evalyfies binne die kleim.  Baie soos ‘n rooibokrammetjie sy wyfies op ‘n knop jaag.

Daar is iets drasties verkeerd met ‘n binnelander by die see. Sodra hulle op die strand kom kan hulle nie anders as om te hardloop nie. My flippen hel, die see gaan tog nêrens heen nie. Waarom hol? Ons het maar net gewonder.

Dis nie harde werk nie. So deur die loop van sondeurdrenkte dae vind ons verlore snotneusies, soek beursies, smeer roompies aan giggelende verbrande lyfies, behandel bloublasie strepe, blaas op fluitjies as die binnelanders wil uitbreek en gooi met gereelde tussenpose ‘n plank in die pad van ‘n golf. Word betaal om rond te lê. Die mammas loer onrustig na hulle se dogters in die kampie. Die pappas troos hulle daaraan dat ons lewensredders is. Salig is hulle.

In die dae was dit heel wettig om jouse boot sommer daar eenkant langs die swemstrand te waters te laat. Meeste booters weet wat hulle doen. Hoe om deur die laaste paar groot branding die see in te kom. As die see rof is moet jy jou storie ken. 

Hoe om weer terug op die sand te kom.

Almal geniet hulle selwers.

So arriveer ‘n binnelander met sy nuwe bootdierasie. Splinternuut uit die boks uit. Ons kon sommer sien dat hy nie so mooi van weet nie. Uiteindelik kry hy die booterasie dobberend in die vlakwater en die gesin bestyg die ding. Pa die skipper, mamma se gesette lyf laat die ding skoon skeef drywe en die teelprogrammetjie klouter en klou soos apies.

My broer stamp aan my; “Kyk daar. ‘n Rand ‘sidebet’ hy maak dit nie.”

Ons krap die gordels met die  die “rescue tubes” onder die sand uit en pluk ons handdoeke en bier van die katrol af. Johnnie trek selfs sy hand onder die Evatjie se toppie uit.

Pa die skipper trek die “volume control” vol oop en tref die eerste groot golf. Daai boot lyk asof hy maan toe wil. Mammie en apies spat soos ‘n klomp vervaarde vinkies en een groot kalkoen van die boot af. Die water daar is heupvlak maar as mens paniekbevange raak versuip jy in badwater.

Dit was nie veel van ‘n reddingspoging nie. Dit was inhol en gryp en aangee. Ons vat al drie die mamma aan. Pa die skipper help homselwers. Miskien moes hy soos ‘n dapper skipper maar met syse boot vergaan het. Daai mamma vloek hom, sy boot en sy voorgeslagte ter helle. Die boot lê versuip en rondrol in die branders. Die plaaslike skippers sukkel ure om die ding uit die see te kry.

Dis nou met die petalje waar onse statuur as lewensredders ‘n eerste hupstoot kry.

Die volgende dag red ons ‘n brak. Die harige stadsbrakkie klouter saam met sy basie op die rotse rond. Ons verwiller die klein snotkop maar die brak vat die pad. ‘n Kruipergolf piets hom van die rots af. Johnnie lê toevallig so ‘n paar meter daarvandaan op sy plank sy bierslaap en slaap.

“Johnnie!” gil ons.

“Wat?”

“Red die hond!”

“Wat?”

“Die hond magtag! Red die hond!”

Die arme brak spartel. Dis nie ‘n plaasdam nie. Johnnie kry die diertjie aan die nek beet en bring hom uit.

Oy vei. Die Evatjies kompeteer nou om deel van die harem to word. Niks, maar niks kikker aan ‘n Evatjie se hartjie soos ‘n ‘held’ wat ‘n brak red nie! ‘n Held is ‘n held al is hy ‘n gesuipte held.

Die kêrels moet hulleselwers maar besighou met strandkrieket en voetbol.

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top