Gegroet Yuri,
Dit is inderdaad 'n hartseerding wat jy hier aanraak. Nie net die gemmerbier per se nie, maar die feit dat al daardie gewoontes en tradisies wat uit soveel liefde en deernis kom totaal en al aan die uitsterf is. Vandag se "tradisionele resepteboeke" is mos hoofsaaklik Huisgenoot se Wenresepte, wat uiteraard nie veel meer bevat as 120 maniere vir die gebruik van pakkies bruin uiesop nie. (Weet jy daar bestaan 'n hele donnerse resepteboek wat bestaan uit 101 resepte wat met soppoeier gemaak word?) Sies!
My familie van ouerkant kom almal uit die Swartland. My oupas en oumas was almal kinders van die depressie en het swaarkry geken. Dit is ironies hoe baie van hierdie tradisies en gewoontes waarna ek vandag verlang gebore is uit die ysere wil om te oorleef tydens bitter bitter swaar tye. Die tekort aan vries- en yskaste het seker ook 'n rol gespeel, maar wat ek kan onthou uit my ouma se geselsies het dit maar balladruk gegaan met die mense op die plase tydens die depressie. Ek het al genoem van die vyekonfyt, suurlemoenstroop, bokkoms en so aan. Die dinge was eie aan die Weskus en Swartlandstreek. Iets wat ek vandag vreeslik mis is regte boerbeskuit en daai groot soetsuurdeegbrode. My Ma kan nog bak maar beweer haar oond is nie meer goed genoeg nie. Persoonlik dink ek sy is, en op 69 seker heeltemal tereg, eenvoudig nie meer lus vir die gesukkel nie. Ons het al aangebied om vir haar 'n nuwe stoof te koop maar dit het ook nie gehelp nie. En dis nie asof jy haar kan vra om jou te wys hoe om die kos te maak nie. Ag, my kind, dis net bietjie van dit en knippie van dat en knypie hiervan (ja, daar is 'n verskil tussen knippie en knypie ...). So kom mens nooit regtig uit by die smaak waaraan jy gewoond is nie. Maar ek werk daaraan en het reeds haar beesstertbredie, waterblomme, tamatiebredie , koolbredie en groenboontjiebredie onder die knie. Is nog 'n bietjie min vir 'n resepteboek, maar ons werk daaraan.
Een ding wat my aandag trek in jou brief. Daai donker gemmerbier met skop. Ek ken dit nie en het dit nog nooit geproe nie. Dink jy mens kan dit iewers in die Kaap kry? Antie Bienie wat al 45 jaar ons huishouding behartig maak so 'n mother van 'n bier uit pynappelskille, suiker en bietjie gis en louwater. Antie Bienie en haar man Simon self sit nie hul monde aan 'n ding wat skop nie. Soms laat sy die bier bietjie lank staan en ontwikkel die storie 'n allemintige skop. Van die skop hou hulle nie en bring die bier dan maar vir my en vroulief om te drink. (So much for stereotypes then, hé?)
Maar sal dit nie wonderlik wees as mense iewers bymekaar kan kom en daardie ou tradisies en gebruike uit vervloeë dae vir die nageslag kan bewaar nie? Jy weet, uit die dae voor 1949 toe almal net Suid-Afrikaners was wat saam afgekak het en saam gehuil het en saam gelag het.
Neil Kroese


