Bokomo-brekfisbrief; 22/09/2010: Liefde verjaar nie

  • 0

Met 'n sigaret in die een hand en 'n whisky in die ander sit ek en kyk na die foto. Dit voel soos gister wat ons daar gestaan het, met die see agter ons. Hand-ommie-lyf, skoon skeel van verlief wees. Maar dis amper 'n duisend jaar terug, of so voel dit vir my in elk geval.

My hare is yl, my pens is al te boep, die bloed in my lyf is dun. Ek kry vlekke op my arms en hande en ek loop nie meer so maklik nie.

Jy het plooie om jou kykers, jou blonde hare wil-wil grys raak, jou stem is al amper die van 'n ou lady s'n.

Maar jy is nog net so mooi soos toe. Soos 'n duisend jaar terug, daai dag wat ek jou gevra het om maar vir altyd so saam met my na die see te loop kyk.

Kort daarna het ons die kontrak geteken. For ever and ever, till death do us part. Gelukkig staan daai kontrak nog. Die einde is hopelik nog 'n paar myl weg.

Die liefde het ook nog nie verjaar nie.

"Dankie" is al wat 'n ou man kan kwytraak.

Ben

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top