Bokomo-brekfisbrief; 22/09/08: Bipolêr

  • 0

 

 

In plaas daarvan om ook geleerde dinge oor bipolariteit te sê, vertel ek maar my storie om te illustreer:

ʼn Sak vol kaartjies

Saterdagoggend voor die Klein Karoo Nasionale Kunstefees begin, is ek in die greep van een van my maniese opwindings en ek projekteer my binnewêreld op die een daarbuite: ek weet toe net dis my missie om na die fees te gaan. Computicket weet presies wat ek bedoel en verkoop 'n magdom kaartjies aan my. Geld is onbelangrik - dis net papier, net papier. By die CNA koop ek 'n notaboek van 192 blanko bladsye, wat my joernaal gaan word, wat die meesterstuk gaan huisves wat by volgende jaar se fees die lig sal sien ...

My arme gesinnetjie is in 'n harwar: my wederhelf bak driftig beskuit wat my aan haar moet anker. Sy waarsku dringend, "Pasop vir slegte vrouens! Ek wil nie Kaapse goggos hier in my huis hê nie. As daai drange jou oorval, doop 'n beskuit in warm koffie, kou stadig en sluk hom af ..."

My gryse moeder verkondig vol insig oor die telefoon aan haar skoonsus in Schweizer-Reneke, Joni gaan KKNK. Hy's weer mal in sy kop. Ons gaan nie 'n oog toemaak nie." Wat sy nie weet nie, is dat dit die beste plek is om mal te wees.

Weg is ek. Alleen. My droomwa, ʼn Ford Husky bakkie, voer my deur die wêreld en ek drink die landskap in; alles gloei intens in my bewussyn. Moegheid bestaan nie. Dertien uur later slaan ek kamp op by Beaufort-Wes.

Slaap ontwyk my en deur die nag word euforie agitasie. In hierdie bui pak ek Dinsdagoggend op en land twee uur later op Oudtshoorn. Die bel bars. Meneer Fortuin jaag my weg van die karavaanpark en die ander parke is ook vol. Ek ry doelloos rond en gaan staan oplaas langs 'n begraafplaas. Terwyl ek suutjies langs my bakkie piepie, dink ek: "Wat de donner soek ek hier? Stupid, stupid, stupid!"

Terug na meneer Fortuin se kamp. Gelukkig is hy met ete en gee sy vroulike assistent my die reg om onder 'n onopge-eisde boom staan te maak. Sy het seker die smeking in my oë gesien en dalkies het sy 'n sagte plekkie vir weggooi-brakkies.

Dinsdagaand, die tweede nag van die ekskursie, laai ek weer en Woensdagoggend staan ek op met my psigiese wyser op +1, twee minder as die +3 waarmee ek weggespring het.

So 'n entjie van my tent af kry ek bure wat 'n bungalo betrek. Die mooiste goudbruin jongvrou is besig om met 'n trompoppie-septer te oefen. Twee kaalgat kleintjies skarrel om haar heen. 'n Vinnige skietgebed: "Ag laat dit tog haar boetie en sussie wees en laat die ou met sy love gap wat daar eenkant op 'n drom slaan tog haar pappie wees."

Ek gaan maak kennis. Wilson, die dromslaner, vertel hulle neem deel aan 'n item. Hy doen die drom en sy vrou doen die stok. Sy vrou! Ek nooi Wilson vir koffie en beskuit.

Ek doop die beskuit stadig in my koffie, kou en sluk hom in.

Nog iets gebeur. Dawid de Waal en sy vrou Lenie word my onmiddellike bure. Amper word ons een gesin, want Dawid se karavaantenttoue strek tot in my voortuin. Ons begin gesels. Eintlik praat net Dawid. Hy lê in besonderhede uit hoe hy vyf kinders en 'n vrou laat leer het. Hy's 'n ou wat die septer swaai en die antwoorde ken. Sy vrou is daar om hom te bedien. Meester, nee, koning Dawid. Maar sy vrou is geen Batseba nie; eerder 'n Lea.

Woensdagaand gaan slaap ek vol afwagting vir die Fees die volgende dag.

Donderdag kom. Ek gaan kyk na twee vertonings; altwee laat my net alleen voel. By my tent wil Dawid nie ophou praat nie. Ek speel behoorlik wegkruipertjie en vlug na die amfiteater waar dinge verniet gedoen word. Gospelmusiek word afgewissel deur 'n begeesterde vrou wat so preek dat die alleenheid my wurg en bed toe stuur met 'n psigiese telling van -3.

Vrydag kyk ek die wêreld so, slaan tent af en ry terug, terug huis toe; 'n man met 'n leë beursie, verskeie onbenutte feeskaartjies en 'n blanko notaboek waarin daar dalk eendag, eendag 'n storie sal staan.

Joni

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top