Bokomo-brekfisbrief; 22/08/09: Winterkoue Karwag

  • 0

Ek besluit een aand ’n paar weke terug om vir ons KFC te gaan koop vir aandete. Dis snerpend koud, die Drive Thru se tou staan amper ’n kilometer ver en ek besluit om sommer die winkel in te hardloop (hardloop oor die koue). Die wit karwag skreeu nog, “Ek sal mooi kyk na die kar, meneer!”

Ek staan bibberend binne die KFC en plaas my bestelling, ’n heerlike maaltyd vir ons gesin. Die bestelling neem nie te lank nie en ek is daar uit, stop die karwag R5.00 in die hand en maak vir die huis. Ek was seker so vyf minute lank op pad toe ek skielik, sonder enige ooglopende rede, aan die karwag begin dink.

Hoe lank staan hy al daar in die koue vanaand?
Hoeveel vyfrande het hy gekry?
Hoeveel tweerande?
Hoeveel het vir hom niks gegee nie?
Het hy al vanaand geëet?
Het hy ’n vrou en kinders?
Het hulle al geëet??

Ek draai om en ry terug na die KFC. Roep hom nader en bestudeer sy gesig (soos ons mos maar maak, vir enige tekens van drankmisbruik). Ek sien niks en vra hom sommer, “Luister ou, drink jy?” Nee, ek lieg, my vraag aan hom was, “Suip jy?” Hy kyk my in die oë en sê, “Nee.” Ek vra of hy getroud is en kinders het. Ja, hy is getroud en daar is drie kinders by die “huis” - ses, agt en elf jaar oud.

Ek gee hom my hele bestelling KFC en druk ’n paar note in sy hand. Yskoue skurwe hande ...

Ek ry terug huis toe en dink aan soveel arm, seer en stukkende mense. Ag, Here mag ek tog ’n klein verskil in sy lewe gemaak het vanaand, prewel ek.

Ek en my gesin eet boereworsrolletjies vir aandete - heerlik!

Later, stap ek op kamer toe om te gaan stort en inkruip – en verbeel ek my, of was daar ’n glimlag op oorlede pa se gesig toe ek langs sy foto verbystap?

Deon Swanepoel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top