Bokomo-brekfisbrief; 22/07/09: Oom Izak se Fordjie

  • 0

Melt, om vir jou van Izak De Villiers te vertel, moet ek eers 'n storie vertel. Dís die kinkel in die kabel.

'n Vriend van my het vroeg in 2000 'n reuse plaas duskant Benoni besit. 'n Welvarende man, 'n ryk man. Groot van gestalte en groot van aansien. In dié spesifieke jaar, 2000, neem hy en sy eggenote lang verlof, gaan toer die wêreld vir twee volle maande, laat die plaas in die hande van sy bekwame swart voorman. Kort voor sy vertrek installeer hy nie een nie, maar vier spilpunte, die grond word geploeg en voorberei. In sy afwesigheid moet sy volk spit en plant.

Twee maande later en met minder - heelwat minder - geld in sy bankrekening, keer vriend terug van sy uitgerekte reis. Hy ry in die styl wat hom toekom terug plaas toe en sluk amper sy valstande in toe hy oor die laaste stofbult sy spogplaas wil bewonder. Oral staan plakkershutte tussen sy spilpunte, vyftig diep. Hoenders, honde en varke sloeg deur dorre aarde, klein kindertjies met flenterklere staan in die stofpad en bedel, sý pad. Vriend, met 'n hart wat wil aanslaan, stop voor sy spoghuis, en merk dat sy gegote ysterheining verwyder is, so ook die koperdeurknop aan die voordeur.

Sy swart voorman staan en wag hom in met 'n trek van 'n bang kleuter op sy gesig.

"Meneer," hyg-skreeu hy nog voordat vriend sy voet aan wal gesit het, "hulle het net een nag gekom terwyl ons geslaap het. Die volgende môre was daar seker honderd van hulle. Ons kon niks doen nie, hulle sê die government het gesê as 'n plaas nie bewoon word nie, mag hulle intrek."

Vriend het al die moontlike gedoen. Gedreig, gedagvaar, hofbevele, mondelingse bevele, huil en soebat het niks gehelp nie. Die polisie het nie gekom nie, die balju het sy skouers opgehaal en die Landbank was skielik doof. Intussen het vriend se drade verdwyn, sy spilpunte is gesteel, sy beeste het weggeraak, selfs die huis se daksinke het minder geraak. Sy eens pragtige Mercedes het sonder wiele gestaan, daar waar eens 'n stoor was. Die laaste strooi was toe hulle een oggend wakker word en vind die Mercedes se motor het in die nag pad gevat, sonder wiele en sonder sy bakwerk. Vriend het die Landbank gebel en vertel wat hulle met die plaas kon doen, sy laaste paar goedjies op 'n gehuurde lorrie gelaai en hy en sy vrou het in naderende armoede in Benoni gaan woon.

'n Man van Durban het in dié dae die Landbank gebel en gevra of hy die bankrotplaas kan koop. Die Landbank se waarskuwing dat die plakkerskamp nou twee honderd en vyftig hutte groot was en dat daar niks meer op die plaas oor was wat gebruik kon word nie, het die man nie gekwel nie. Hy wou en hy het.

Verlede jaar het Vriend gehoor dié man boer vooruitstrewend op sy gewese bankrotplaas en hy wou gaan kyk. Een Saterdagmiddag het hy my gevra om saam met hom te ry. Oor die laaste stofbult het vriend ampertjies sy tande ingesluk - daar het die plaas uitgestrek gelê, 'n spogplaas in elke opsig. Landery op landery, spilpunt op spilpunt, en geen plakkershut in sig nie. Digby die opstal het ons sy gewese swart voorman opgemerk. Ek het stil van die pad getrek en Vriend het gewese voorman nadergewink.

"Philemon, waar is al die plakkers?" het hy gevra.

"Middag meneer, hulle is weg, so 3 jaar terug."

"Hoe het hierdie man hulle hier afgekry, het hy hulle geslaan met die sambok?"

"Nee, meneer."

"Het hy hulle met die polisie verwyder, het hy sy honde op hulle gesit, het hy op hulle geskiet?" vra Vriend alles in een.

"Nee, meneer, hulle het self getrek."

"Getrek, self ... hoe het hy dit reggekry?"

"Hene, meneer, hierdie man ... hierdie man, hy kán steel!"

Hoe bring dit ons by Izak de Villiers? Hene, Melt, hierdie man ... hierdie man kán 'n storie vertel (en die karretjie waarmee ons na die plaas gery het, was 'n 1976 Ford Escort met 'n roeskol op die deur.)

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top