Maandae is altyd blou, veral na ʼn naweek. Hoekom moes Maandag nou juis volg op Sondag? Kon dit nie eerder gevolg het op Dinsdag nie; dan was Dinsdae blou.
Ons manne, Diklieg, Hannes en ek het Saterdagmiddag voor, tussen en na die rugby by ons geliefkoosde drinkgat in Gobabis vasgehaak. My verskoning was dat skoonma kom kuier het, vir ʼn paar laaaaaang weke. Die ander manne het saam gedrink om my en die Bokke te ondersteun. Hoe later hoe kwater. Julle ken mos die “shooter” gedeelte van immobilisering. Wel, ons het daarby verby gevorder voor ek die tog huis toe aangepak het – ongeveer, naastenby, amper vyfuur – alhoewel die horlosie teen die kroegmuur elke uur aantoon as vyfuur, is ek baie seker dit wás vyfuur. Miskien ook nie, want dit was stikdonker.
In die stilste moontlike geraas het ek die bakkie in die waenhuis geparkeer, dwars. Uitgeklim en die blaffende hond in my luidste stem stil geskreeu. Ek meen, al die mense het geslaap, vir wat raas hy so? Soos ʼn trapsoetjies het ek die pad aangepak huis toe – langpad vir iemand wat onbevoeg is. Verby die hoenderhok, verby die hondehok, verby die hoenderhok, verby die koeistal, verby die hoenderhok, verby die waenhuis … Dertig minute aan 20 meter, ʼn nuwe rekord vir my. In ʼn geniale oomblik besluit ek om eerder deur die kombuisvenster te klim en nie die agterdeur oop te stoei nie, die mense slaap. Mos. En ek wil nie vir vroulief en verál skoonma wakker maak nie.
Met die deurklim trap ek vroulief se kietsie effens en geheel platter as die normale kat. Die gaan natuurlik met ʼn helse geskreeu gepaard.
Ek gryp die kat en druk hom die yskas in, klap terselfdertyd sy stert in die deur vas. Met ʼn sjuut! vat ek die pad kamer toe terwyl die ysige geween in my ore weergalm. Toe trap ek op Boetman se plastiese speelding, een van daai wat skriller as enige skoonma skreeu, durf jy hom net effe kneus.
Nou is my senuwees gedaan en ek krap myself van die plafon af.
Met ʼn “shit” en ʼn “hik” durf ek die gang aan, en soos dit ʼn ware dronk man betaam, wil-wil ek my blaas teen een van die mure verlig, amper op vroulief se duur geërfde Persiese gangmat. Gelukkig kom my senses tussen die dranknewels deur en stop die natlei van muur en mat.
Intussen het skoonma wakker geword van die kabaal en loer by haar kamerdeur – aan die einde en oorkant van die gang – uit. Haar gesig spierwit gesmeer met nagroom en te oulik toegedraai in ʼn spierwit flenniejapon.
Aan my en vroulief se kant van die gang hang 'n lang muurspieël. My oog vang die wit gedaante in die spieël en onwillekeurig begeef my blaas sy moed en pie vroulief se mat nat, sopnat.
Ek sak op my knieë neer, sonder dat ek wil, en vra aan die spieël: “Wie ish jy?”
Die gedaante kom stadig-sag op vroulief se mat nader gesweef, een hand uitgestrek na my. Ek gooi my arms voor my oë en dop rég agteroor. Meteens is die gedaante bo-oor my en donker oë loer van agter ʼn wit dodemasker af. Met ʼn gil en bomenslike krag spring ek regop … en daar staan die gedaante weer doer voor my. Dit is eens te veel vir my boerebloed en ek spring om, reg in die gedaante agter my vas.
Die kat se moer, nou skreeu ek soos tien katte in ʼn yskas.
Ek loop skoonmaspook onderstebo die natgeleide mat in, gesig eerste, en vat pad terug kombuis toe. Toe ek die draai skreeuende die kombuis binnestorm, het die kat op een of ander manier uit die yskas gekom, en spring ysig wit teen my bors vas.
Nou, genoeg is genoeg, en ek bedinges my kakiebroek tot ʼn nuwe skakering van kapoen.
Met voete glyend op ys … ek dink dit was ys, wen ek myself op en trek weg met ʼn paar Outdoor living boots vir wiele, deur die oop agterdeur wat vroulief stilletjies wydoop gelaat het met my stil parkering en honde geskreeu, reg in die stoeppilaar vas.
Ons wit kokketiel skrik hom boeglam waar hy op een van die stoepbalke sit en slaap en val op my kop neer. Toe vat ek maar leave van my senses en pass uit soos dit ʼn ordentlike dronk man betaam.
Nou is dit blou Maandag en die huis is in doodse stilte gebaai. Ek is te bang om uit die spaarkamer te kom en skryf hierdie storie as ʼn moontlike laaste herinnering aan my.
Vroulief, as jy miskien vandag SêNet lees: Ek is vreeslik jammer; jammer oor die mat, jammer oor die muur en ek hoop jou ma vlieg veilig terug huis toe met haar besem. Ek sien jou Dinsdag – wanneer die dag nie so blou is nie.
Swerwer


