Bokomo-brekfisbrief; 22/06/09: Kos: Chimichurri-sous - 'n alternatiewe braai-gedagte

  • 0

 

 

ʼn Ordentlike braai het na my mening basies net een reël en dis ironies van toepassing op die gaste. Jy raak nie aan jou gasheer se vuur nie! Behalwe natuurlik wanneer hy vra. "Raak nie aan jou gasheer se vuur nie" sluit onder meer die volgende in. Jy gooi nie nog hout op nie, jy gooi nie die plastieksak waarin die hout gekom het op sy vuur nie, jy tip nie jou sigaretas in sy vuur nie en jy gooi nie stompies, sellofaan van sigaretpakkies, tissues, papierservette en dies meer in die vuur nie. Soveel meer terwyl die vleis besig is om te braai. Jy raak nie aan sy rooster nie en jy raak nie aan sy vleis nie.

Kortom, hou jou hande van my vuur af!

My Pa was nie lief vir die bring-en-braai-ding nie en het dit soos die plaag vermy. Sy redes was eenvoudig. Hy het geglo mens braai nie afskeepvleis nie. As jy wil braai, dan gebruik jy die beste snitte. As jy genooi word na ʼn bring-en-braai is die kanse nul dat jy jou keurig uitgesoekte loin tjoppies ooit weer sal sien nadat dit in die communal bak verdwyn het. Jy kry mos mense wat lieslappe na ʼn braai toe bring, maar dan skaamteloos eerste die beste snitte gryp wanneer dit opskeptyd is. Ons het nooit bring-en-braai's gehou nie. Ou Jan het self vir die vleis betaal en seker gemaak hy braai waarvan hy hou.

Tye het egter verander. Kleinhandelaars buit verbruikers uit en vleis is onbekostigbaar. Ek kan nie meer bekostig om onbepaald mense te nooi vir ʼn braai en dan self die vleis te koop nie. Kan dit skaars bekostig om self te braai. So verwag ek ook nie dat ander my uitnooi en vir die vleis betaal nie. Bring-en-braai sal dit dan maar wees, potensiële probleme ten spyt.

Die Argentyne het myns insiens lank reeds ʼn geskikte oplossing. Tradisioneel braai Argentyne gewoonlik ʼn groot verskeidenheid vleissoorte gelyk. En enige snit denkbaar. Amper soos in ons townships. Vleis word net so gebraai, sonder sout of peper. Saam met die vleis bedien hulle dan ʼn spicy doopsous genaamd "Chimichurri-sous". Daar bestaan honderde variasies van dié sousie. Ek het deur trial and error een bymekaar gekry wat ek dink die lekkerste is.

Ek deel dit graag.

Neil se Chimichurri-sous

1 bossie vars pietersielie, fyngekap (enige soort)
4 of 5 lourierblare, gekneus en grof gekap (droog werk ook)
1 fyngekapte vars chilli met pitte (groen of rooi). Jy kan meer insit
8 knoffelhuisies fyngekap
3/4 koppie olyfolie (ek hou nie van te veel olie nie, verkies meer asyn)
1/2 koppie goeie wynasyn of bruin druiweasyn
1½ teelepel goeie balsamiese asyn
3 - 5 teelepels suurlemoensap (ʼn vars lemmetjie se sap is skaars maar beter)
1 tl varsgemaalde swartpeper
1 tl growwe seesout na smaak
1 tl cayenne peper
3 tl paprika of smoked paprika
1 tl droë origanum

Meng alles en gooi in 'n glasfles; skud verwoed sodat dit lekker kan meng. Sit in yskas ten minste 24 uur voor gebruik. Hoe langer, hoe beter, maar nie meer as drie dae nie.

Braai nou jou vleis sonder marinade. Gooi net sout en peper wanneer dit van die vuur afkom. Sit vleis saam met die Chimichurri-sous voor. Gooi die sous in aparte bakkies en gebruik dit soos 'n doopsous of sprinkelsous vir die vleis. Ons eet gewoonlik ʼn ordentlike groen slaai, ʼn nice tamatiesambal, Tzatziki en geroosterde pitabroodjies en tortilla wraps saam met die vleis en sous. Heerlik!

Groetnis

Neil Kroese

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top