Bokomo-brekfisbrief; 22/05/2010: Betty

  • 0

Betty,

Dit is nie haar regte naam nie, ek verswyg dit eerder ter wille van haar nagedagtenis en moontlike oorlewende vriende en familie.

Haar ma was Sjinees en volgens wat ek gehoor het was haar pa 'n kleurling, maar dit is nie seker nie en ek ken niemand wat ek nou kan vra nie. Sy was 'n mooi vrou, selfs nog in haar veertigs toe ek haar in omtrent 1980 ontmoet het. Weens die wette van daardie apartheidsjare kon haar ouers nie trou nie. Daar was ongelukkigheid en onstabiliteit in die huis, miskien aangehelp deur die stryd teen regeringswette en as meisie van so sewentien het sy weggeloop uit Johannesburg na Mosambiek.

'n Mooi vrou moet soms haar bates gebruik om te oorleef en dit kon Betty goed doen. So het sy dan met verloop van tyd op 'n skip beland onder "versorging" van die matrose en in Port Elizabeth is sy aan wal gesmokkel, waar haar toekomstige tuiste sou wees. Dit was 'n lewe van drank en prostitusie, nagklubs en skepe. Toe ek hulle leer ken het (bloot platonies) was die prostitute hier in PE in 'n hele subkultuur georganiseer, of miskien het dit sommer so gebeur sonder dat iemand probeer organiseer het. En daar was nogal groot lojaliteit en sorg onderling. Betty is ook van tyd tot tyd in 'n inrigting opgeneem, ek meen dit was weens drank, want sy kon haar nogal erg aan Bacchus vergryp.

Soos enige vrou het sy ook 'n kindjie van haar eie begeer, maar nooit self kinders gehad nie, miskien was daar fout. Toe gebeur dit dat sy 'n vriendin se kind moet oppas, terwyl die vriendin op 'n skip met matrose kerjakker. Sy vat die kans en verdwyn met die kind. Drie dae lank het hulle na haar gesoek en spoor haar toe uiteindelik op waar sy agter in 'n hotel in 'n klein kamertjie ingetrek het, en moederlik oor die baba kloek.

Die polisie is nooit ingeroep nie. Nee, sê Charlene, die baba se ma, hulle kon dit nie aan haar doen nie. Sy het geweet die baba is veilig by Betty en die polisie sou haar waarskynlik mishandel het, dalk self vermoor het, oor die tatoeëermerk op haar rug.

"Watse tatoeëermerk dan", wou ek weet. "is dit vieslike tekens, vuil woorde?"

Die antwoord kom en ek besef dit is vol betekenis gelaai, meer as net wat die woorde sê.

Agter op haar rug was getatoeëer: "John Vorster is 'n p**s!"

Betty is omstreeks 1996 oorlede, blykbaar weens haar lewer.

Groete,

Tiens Pretorius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top