Bokomo-brekfisbrief; 22/04/2010: Celsus en sensuur

  • 0

Die christelike godsdiens het as 'n sekte van die tradisionele Joodse godsdiens ontstaan. Destyds was daar talle soortgelyke sektes. Baie Jode het genoeg van die geskiedenis geweet om bonatuurlike aansprake deur en oor Jesus te verwerp. Paulus het sommige van hierdie sektariese opvattings op so 'n manier vertolk (bv deur die besnydenis met die doop te vervang) dat dit mettertyd 'n onderskeibare godsdiens vir veral nie-Jode geword het. Die grondslag vir die verspreiding en formulering van die christelike godsdiens is deur Paulus gelê.

Die Bybel van die Katolieke, Ortodokse en Protestantse Kerk(e) verskil, maar hulle almal is die resultaat van keuses wat deur mense uit beskikbare tekste (vanselfsprekend geskryf deur mense) gemaak is. Die tekste wat verwerp is, word as apokrief, dus as verdag of ongeloofwaardig, beskou. Namate die Kerk aan godsdienstige en staatkundige mag gewen het, is moeite gedoen om goedgekeurde Bybeltekste en ondersteunende geskrifte te bewaar. Insgelyks is geskrifte wat nie die Kerk se goedkeuring weggedra het nie, nie net verwaarloos nie, maar aktief bestry, bv deur hulle te vernietig.

As gevolg hiervan het talle verdienstelike religieuse en ook nie-religieuse geskrifte vir die nageslag verlore gegaan. (Hierdie soort sensuur sou deesdae 'n misdaad teen die mensdom genoem kon word; veral as daar groter waardering vir geestelike sake was.) Omdat Platonisme meer geredelik met die christelike godsdiens versoen kon word, was die Kerk meer geneë om die geskrifte van Plato (427-347 vC) as die van Aristoteles (384-322 vC) te bewaar. Veral die dominikaan Thomas van Aquino (1225-1274) het egter daarin geslaag om ook Aristoteles se wysbegeerte te verchristelik. Hieruit blyk die selfsugtige kortsigtigheid van die aanvanklike verwaarlosing van Aristoteles se geskrifte in die destydse christelike Europa. Van die beste Aristoteliese tekste waaroor ons tans beskik, is in Moslemlande bewaar.

Daar word soms beweer dat burgeroorloë wreder as ander oorloë is. Ewe-eens het faksiegevegte oor bv teksvertolking binne die Kerk sulke ernstige afmetings aangeneem dat ketters en hulle geskrifte soms verbrand is. Wat eens kettery was, kan later dogmatiese evangelie word, soos die geval van bv Martin Luther aantoon. Maar ook nie-christene en hulle geskrifte is in die ban gedoen of verbrand. Van die geskrifte wat verlore gegaan het, sou waardevolle inligting oor bv die aanvangsdekades en eerste eeue van die Kerk kon verskaf. Weens hierdie afwesige dokumentasie glo baie mense bv steeds dat Petrus die eerste pous was.

'n Vroeë werk wat die christelike godsdiens gekritiseer het, Celsus se Die ware woord (178), het verlore gegaan, gevolglik is Celsus grootliks onbekend. Al waarom ons van hom weet, is omdat die kerkvader Origines (185-254) sewe dekades later gevra is om kommentaar op hierdie geskrif te lewer. Origines se kommentaar, Contra Celsum (248), het as pro-christelike dokument bewaar gebly. Daarin haal hy telkens uitgebreid uit Celsus se werk aan voordat hy met sy teenargumente kom. Theodor Keim het eeue later Celsus se oorspronklike teks aan die hand van Origines se werk probeer gerekonstrueer, dit in Duits vertaal en in 1873 gepubliseer.

Celsus beweer dat Jesus die buite-egtelike kind van 'n Romeinse soldaat was en dat sy geboorte nie die vervulling van Ou Testamentiese profesieë was nie. Hy betwis die waarheid van die Opstanding en die Wederkoms. Die Bybelse wonderwerke word enersyds deur hom ontken en andersyds aan towery toegeskryf. Celsus beweer dat die Bybeltekste onbetroubaar is. In sy kommentaar verwerp Origines die aantyging dat daar foute in die Bybel is, maar in van sy ander geskrifte stem hy eintlik met Celsus saam deur die betroubaarheid van kopieerwerk te kritiseer.

Volgens Celsus word teenstrydige standpunte in die Bybel aangetref en dit is in sy tyd in strydende christenfaksies weerspieël. Hy doen 'n beroep op christene om hulle nie van die samelewing te distansieer nie en eerder goeie burgers te word. In sy teks is daar aanduidings dat hy goed met die judaïsme en gnostiek bekend was. Soos Celsus het die Gnostici hulle eerder deur die rede as deur die geloof laat lei, wat myns insiens 'n stap in die regte rigting is, al was dit in hulle geval eerder mistieke of intuïtiewe as wysgerige of wetenskaplike kennis.

Die uitwissing van rekords kan meebring dat die prestasies van individue en groepe nie deur die nageslag in herinnering geroep, gewaardeer en voortgesit kan word nie. Sodanige sensuur kom steeds voor en nie net elders nie. Gevalle is bekend van Afrikaanse boeke en ander Afrikaanse rekords wat in die nuwe Suid-Afrika sistematies en op groot skaal uit openbare en semi-openbare (bv onderwys-) versamelings verwyder word. Daar is gerugte van nog sodanige sensuur, asook van soortgelyke beplande wandade. Die tyd het aangebreek dat Afrikaanse kultuurinstansies kennis hiervan neem, die saak deeglik ondersoek en die nodige stappe doen; wat kan insluit dat 'n streep in die sand getrek word. Afrikaners en Afrikaans verdien om meer as 'n voetnoot in die geskiedenis te wees.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top