Ek het nog nooit 'n blinde man in die oë gekyk en met hom gesels nie. Ek onthou jare gelede het ek vir Koos voor Wecke & Voigts in Windhoek gewag. Voor die winkelvenster vol kleur en vorms het 'n blinde man sy Bybel luid met die punte van sy vingers gelees. Ek het na hom gekyk en hom gesien. My gewete se hande het my hart gewurg. Ek het vir hom 'n paar munte as offer van my gewete in sy blikkie gegooi. Ek het 'n pen geneem en agterop 'n uiteetstrokie vir Koos 'n liedjie geskryf. Sommer net daar waar baie mense kyk maar nie sien nie:
Die man lees sy Bybel in braille
Die woord is skoon maar die blaaie vuil
Die wat verby loop word blind en doof
vir hierdie man se groot geloofDie son skyn maar jy is blind
Die wit moet jou pad vir jou vind
Ek wonder soms hoe jy droom
Of is selfs daardie prentjie skoonDie rykes se gewetes
Koop elke dag sy etes
langs die pad van hoop
Kan hy nou sy brood ook koopDie blik wat vra word vol
genoeg vir brood vleis en wol
Maar die blik van hom bly leeg
want dis die oë wat die swaarste weeg
Net voor Kersfees sê Koos dat James kom kuier. James is 'n blinde man. Koos het hom op een of ander Bluesaand in Johannesburg ontmoet. Ek is skielik ʼn baie bekommerde vrou. Ek begin wonder hoe hy gaan weet as daar dalk 'n krulstertskerpioen sy kamer met hom wil deel. Ek begin goetertjies wat in sy pad mag wees wegpak.
Twee dae na Kersfees, klop hulle aan ons deur. Ek en die kinders kyk na die blinde man. Met die tyd kom ek agter dat hy nie kan kyk nie, maar ek kom ook agter hy sien beter as wat die meeste mense sien. James se kuiertjie word mettertyd van my mooiste onthoutye. Ons sit saans onder die sterre en hy en André (sy broer) sing die mooiste liedjies. Soms sing hy van Lucas se liedjies en soms van sy eie liedjies. Die sterre bly skyn asof almal kan sien.
Een aand sê Kobus vir my dat ek mos maar die bord wat effens getjip is vir James kan gee. Hy sal nie weet nie. "Ek sal weet en ek sal voel asof ek hom te na kom, die lewe gaan soms oor dit wat jy weet, nie oor dit wat jy sien nie," het ek ewe wys vir hom 'n lewenslessie geleer.
"Wat eet ons vanaand"? het James gevra.
"Blindevinke," het ek geantwoord sonder om te dink!
"Hoekom is die vinke blind?" het James laggend gevra!
"Ek weet net hulle is blind, want hulle het almal wit stokkie (tandestokkies) by hulle" het ek pittig geantwoord. James se humor het my oë wyer oopgemaak.
Oujaarsaand het ek gesorg dat James die liedjietolletjie in sy klapper kry. Toe ek en hy die klapper trek, trek die klank van 'n Kersliedjie na sy ore. Ek en hy gesels Oujaar uit. Ons gesels die hele nag deur. Ons lag en ons huil. Die sterre luister. Ek kan hom vra hoe hy droom. Ek kan hom vra hoe mense droom wat nog nooit gesien het nie.
Ek staan later die oggend om 'n hoekie om hom skrik te maak. My poging is geslaagd. Net daarna kry ek hom waar hy alleen op die stoep staan en vir oulaas oor die Kalahari uitkyk.
"Ek wil nie gaan nie" sê hy. Ek wil ook nie hê hy moet nou weer teruggaan op sy spoor wat hierheen loop nie. Ek weet ek het 'n mens ontmoet wat nie kan kyk nie, maar hy kan so goed sien. Hy het blindelings in my hart kom woon. Sommer 'n kaalvoetspoor daar gelos.
Hulle was omtrent drie dae weg, toe begin ek lag. Ek wonder skielik hoekom ek om 'n hoekie gestaan het om hom skrik te maak ....
Wini


