Bokomo-brekfisbrief; 22/01/09: Oor baas-onnie Bok, blou boude en ’n bokkerop-opvoeding

  • 0

Ja, laat ons ons legendariese onderwysers onthou. Hulle het ons denke gevorm en soms ook ons boude vol littekens vervorm. Ek moes wonder hoekom Ellen Keet juis vir my in haar brief vra of ek die Amasone-ikoon Bok – later die liewe, tingerige tannie Christie – van Senekal onthou. Weet Ellen moontlik dat ek die een was met die meeste blou sebrastrepe van daardie magtige rottang? Ek het immers nooit vir Ellen gewys nie, net by my seunspelle gebrêg.

Bok het nie Duits by ons ingeslaan nie, sy het dit ingemoer. Sy het my onverbiddelik soos my Nemesis van laer- tot hoërskool agtervolg. Aristoteles het Nemesis beskryf as “’n pynlike reaksie op iemand anders se onverdiende goeie geluk”. Oor die pynlikheid was daar nooit twyfel nie, maar oor die goeie geluk ’n groot vraagteken.

Dit was die dae voordat skole papperige sissies sonder lyfstraf begin grootmaak het – vandaar die bokkerop waarmee ons vandag sit. Bok het selfs vir die meisies ’n dik lineaal vir handtugtiging gehad. Op hoërskool het sy spoedig besef dat sy te klein was om die massiewe rugbyspelers behoorlik te martel en het sy terstond ’n lae koffietafel voor in die klas geplaas. Sodra sy daar opgeklim het, het groot broeke begin bewe. Nadat sy haar drie allerkragtige bofhoue van hoog bo haar kop geswaai het, het geen groot slot meer ’n droë oog of ’n dapper glimlag gehad nie.

Ellen noem hoe Bok ’n stommerik na ’n verkeerde antwoord met ’n swartbordborsel sou gooi. In die Bybelklas op laerskool het sy haar so bloedig vererg vir ’n dom antwoord van die vent voor my dat sy ’n groot houtpasser gegryp het, dié soort wat vir sirkels op die bord gebruik is. Die missiel het my net-net gemis en die groot ruit agter my in flarde laat spat. Toe was Bok éérs die hel in vir die idioot.

Sy het haar slaanvernuf gereeld in dié klas geoefen. Pak kry in die Bybelklas? Waarom nie – daar is nie belangriker feite wat sy by jou kon indril nie. Net Sors kon haar onder kry. Hy het al byna outomaties met sy soliede lyf kom buk wanneer die klas begin, want hy het geweet van haar eerste vrae sal aan hom wees en hy was nie ’n intellektuele reus nie. Hy kon geen verband tussen Adam, ’n appel en ’n adamsappel insien nie. Nie dat ek die stomme man vandag kwalik neem nie, want as Adam en Eva Sjinese was, het hulle bes moontlik na die boom geluister en die slang geëet.

Bok se grootste kragtoere ten spyt kon sy nooit ’n gesigbeweging of verduideliking uit Sors kry nie. Sy gesig en oë had minder uitdrukking as dié van ’n brulpadda. Een winteroggend kry sy na die derde plofslag hond se gedagte, want die dik koordfluweelbroek kon net soveel pyn afweer. Net daar pluk sy die broek af. Blou strepe, maar vertikaal. Sors het sy pajamabroek ter versterking aangehou. Bok was ordentlik genoeg om dit nie ook af te pluk voordat die volgende drie gekom het nie. Ek het nooit my vermoede oor Bok se sadistiese streep verloor nie. Maar daar was veel belangriker dinge om te onthou. Haar waardering en aanmoediging vir my opstelle en tekeninge. Haar besoeke by ons aan huis en haar ondersteuning van my ou tante wat my en my suster grootgemaak het nadat ons vroeg ons ouers verloor het. En ja, dan die einste Schweitzer se Zwischen Wasser und Urwald waarna Ellen verwys. Bok het dit so lewendig gemaak en sy waardes beklemtoon dat ek steeds onthou hoe hy saans suiker vir die miere gelos het. Ontsag vir die geringste lewende wese.

Bok het Duitse verbuigings en vervoegings by ons ingefoeter, maar ook groot Bybelse waarhede van sondeval en vergifnis. Lesse oor verantwoordelikheid en dissipline word die beste en vinnigste geleer wanneer hulle pynlik is. Agterna was ek spyt dat ek nooit ten spyte van haar huisbesoeke en belangstelling sover kon kom om meelewing te toon nadat ou Kool haar verlaat het om met sy gat tussen die engeltjies te gaan sit nie. Maar hoe kon ek destyds my vrees vir my Nemesis oorwin?

Ek kon ook eers agterna insien dat die onverdiende goeie geluk van Aristoteles was dat haar pad met myne gekruis het. Ek is nogtans bly ek is nie een van die ongeltjies vir wie sy sekerlik sal onderrig nie. ’n Engeltjie was ek nog nooit.

Charles Malan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top