Bokomo-brekfisbrief; 21/12/2010: Grootfontein en Tsumeb in die ou Suidwes-herinneringe

  • 0

Hier volg ’n paar los gedagtes oor my herinneringe aan Grootfontein, maar ook enkele gedagtes oor Tsumeb.

In Desember 1979 verlaat ek Kaapstad, waar ek gebore is, en gaan vestig my in Pretoria.

Dit het so gebeur: Gedurende September van dieselfde jaar, tydens my tweede diensplig-jaar, kry ek en ’n vriend spesiale vergunning by die weermag om tien dae spesiale verlof te neem en met die trein na Orkney te reis om te gaan werk soek op die myn wanneer ons aan die einde van daardie jaar ons diensplig voltooi. Vandag kan ek met alle eerlikheid sê dat ek nooit rêrig op die myn wou gaan werk nie, maar ek het eerder saam met my vriend gegaan vir die joyride.

Op pad terug vanaf Orkney ontmoet ek die mooiste, beeldskoonste girl en ek is onmiddellik halsoorkop verlief. Ons het vir twee nagte lank, lank nadat die “saloon car” reeds gesluit was, in die gang van die treinwa sit en Quintreu drink. (Vandag gril ek steeds vir die goed en ek kan ook nie onthou waar ek die geld gekry het om so spandabelrig te wees nie).

Nietemin, sy kuier gedurende September vir ’n paar dae by haar grootouers in die Strand, maar gedurende Desember keer sy terug saam met haar familie vir die Kersvakansie en ons behou kontak met mekaar.

Toe ons mekaar weer ’n paar maande later sien, is ek weer van vooraf verlief en besluit daar en dan ek verlaat Kaapstad en ek trek soos ’n “lovestruck tiener”-laaitie agter die groot liefde aan.

(Net vir die rekord: ek kan nie presies onthou nie, maar die liefde het nie baie lank gehou nie. Dit was in die orde van omtrent vyftien maande as ek reg onthou, want agtien maande later was ek sak en pak terug in die Kaap. Dit was vir my gou duidelik dat ek nie baie goed aanvaar was deur haar ouers en groter familie nie. Daar was net te veel druk op my omdat ek ver van my eie familie was en ek ook nie op hulle voorstoep kon kompeteer met al die who’s who nie. Dit was Generaal die en Brigadier daai en die grootkop by staatsveiligheid en dan weer die direkteur-generaal in sus en so se presidensiële kantoor. Totaal uit my league sê ek jou. Later sou ek uitvind dat die hele spul aan die destydse Broederbond verbind was en nêrens in my nabye of verlangse familie was daar ’n neef van ’n oom van ’n broer wat met die broeders gemoeid was nie. So, heeltemal uit my league soos ek reeds gesê het.)

Binne dae nadat ek in Pretoria aankom, kry ek werk by Volkskas se hooftak op Strydomplein as ’n kassier. Op daardie stadium het die hooftak 22 afgeleë agentskappe bedryf wat gewissel het van Voortrekkerhoogte tot Pelindaba en Valindaba en dan was daar die twee “grens-agentskappe”, te wete Grootfontein en Katima Mulilo. (Ek het ongelukkig nooit die voorreg gehad om die agentskap op Katima Mulilo te doen nie. Niemand wou met my ruil nie. Veel later sou ek uitvind dat dit baie lekkerder was daar as in Grootfontein en daarom wou niemand met my ruil nie.)

Dit het as volg gewerk: twee amptenare was permanent toegedeel aan ’n agentskap, maar jy het nooit permanent daar gebly nie. Julle het met twee weeklikse intervalle die agentskap beman. Dus het elke lid vanaf Waterkloof-lughawe gevlieg (gewoonlik op ’n Donderdag) na Grootfontein-lugmagbasis en dan het die ander lid weer met dieselfde vliegtuig teruggevlieg “states” toe. Dus was elke lid vir twee weke van ’n maand in Grootfontein en vir die ander helfte van die maand by die tak in Pretoria en so het die roetine sy gang gegaan.

Die “tak” was in die biblioteek op die terrein van die basis en binne dieselfde biblioteek was daar ’n “tak” van Barclays, soos dit destyds bekend gestaan het. Barclays was egter ’n agentskap wat vanuit die takkantoor in Grootfontein bedryf was, so hul logistiek was baie makliker. Nodeloos om te sê het ek baie ure gewag en gewag op die lughawens van Grootfontein en Waterkloof vir die flossie om te vertrek. Dit was uit en uit ’n militêre vragvliegtuig waarmee ons gevlieg het, (gewoonlik ’n Hercules C160 of C130) en daar was geen vaste roetine nie. Dit was tipies army: “hurry up and wait.”

Wanneer dit dus jou beurt was om op te vlieg Grootfontein toe vir ’n twee weke-“stint”, het ’n onder-rekenmeester jou lughawe toe geneem met ’n bankvoertuig. Saam met jou was jou persoonlike “belongings” en n grys trommel, so groot soos ’n ordentlike skooltas, en binne in die trommel was ’n “float” wat gewissel het tussen R35 000 en R50 000 plus skryfbehoeftes. (Die trommel met die geld was sommer saam met al die ander bagasie en militêre voorraad agter in die vliegtuig gegooi. As ek vandag lees van die diefstal op vliegtuie en lughawens, dan sidder ek.)

Jy en jou kollega het om die beurt ’n kamer “gedeel” wat ons in die dorp gehuur het. Ons maatskappy-voertuig, waarmee ons die ongeveer twaalf kilometer tussen die dorp en die basis moes aflê, was ’n rooi 100cc Honda-motorfiets met ’n “full face helmet.” Ook ’n rooie. Ek moes baie spot verduur oor die klein motorfietsie en die GROOT helmet. Ek het later maar ophou verduidelik dat dit ’n gegewe perd was en nie my keuse nie.

Destyds het Grootfontein twee hotelle gehad. Die een, die Nord Hotel en was destyds “strictly whites only.” Die ander een, en met die beste wil op aarde kan ek nie die naam onthou nie, was “multi-racial.” Uiteraard het die “locals” slegs by die Nord gedrink en gekuier, maar ons inkommers het ook soms by die ander hotel gekuier. Daar was byvoorbeeld elke Sondagaand ’n fliek vertoon op die wit laken, wat die Nord nie gedoen het nie en boonop kon jy tot laat daar sit en bier drink ( Windhoek en Tafel Lager) terwyl jy die movie kyk. Hulle het ook die lekkerste wiener schnitzel en chips bedien teen ’n baie goeie prys. Destyds was die middagete vir banke in Suidwes nog twee ure lank en dit was niks ongewoon om, wanneer die finansies dit toegelaat het, daar te gaan sit vir die volle twee ure terwyl jy schnitzel eet en Tafel Lager drink nie. Daarna het jy maar weer op jou motorfiets geklim en die bank gaan oopsluit.

’n Ander onthou van Grootfontein was dat die bestuurder van PEP Stores op die dorp met ’n swart vrou getroud was en die orrelpypies was almal ’n koffierige kleur. Onthou, destyds het die ontugwet gegeld in die ou RSA en sulke dinge was ongehoord. Iets anders waaraan ek nie gewoond was nie, was dat die kroeë, Sondagoggende, net nadat die kerke verdaag het, toegelaat was om oop te maak. Dit was dus nie ongewoon dat baie broers direk van die konsistorie na die kroeg gestap het vir ’n paar trekke, voordat hy daarna in sy bakkie geklim het om terug te ry plaas toe nie. Die kroeë was ook anders as in die RSA waar dit streng “mens only” was. Vroue was slegs in die “lounge” toegelaat. In Grootfontein was die kroeg en die lounge eintlik een groot vertrek en pa en ma en kinders het heerlik saam gekuier en na die beste van my wete was daar nooit moeilikheid of onmin nie. Wanneer ek nou daaraan terugdink voel dit vir my of dit baie reg was dat dit so was. Daar was ’n anderste samesyn tussen die mense wat ek nie in die “states” onder sulke omstandighede ervaar het nie.

Dan was daar ook die tipiese Duitse bakkery en deli. Daar het ek die lekkerste ham, salami’s en ander kouevleise gekoop. Hulle het ook ’n donker ovaalvormige broodjie verkoop wat omtrent pikswart van kleur was en waarvan die snye omtrent drie mm dik gesny was. Dit was verskriklik lekker saam met die kouevleise en baie vullend. Vandag is ek spyt dat ek dit nie kon bekostig om meer dikwels daar te koop nie, maar die finansies was maar karig.

My Barclays-kollega in die biblioteek was Etelle Maree wat getroud was met Jannie Maree. Jannie het ook vir Barclays gewerk, maar hy was ’n “adjustor.” Sy taak was om kliënte wat nie hul kar- en verbandpaaiemente betaal het nie en buitengewoon agterstallig geraak het, persoonlik te besoek. Hy het ’n geweldige groot area bedien en was dikwels vir ’n week lank weg van die huis af. Ek het vir Jannie en Estelle goed leer ken terwyl ek daar diens gedoen het en ek was dikwels by hulle aan huis. Dit was ’n swaar dag toe ek hulle vir die laaste maal gegroet het en ek het in die jare wat gevolg het dikwels oor hulle gewonder.

Omdat die bank (Volkskas) slegs van Maandag tot Vrydag oop was, was dit ook nie buitengewoon dat kliënte oor naweke by jou kom aanklop het vir geld nie.

(Dikwels moes hulle my op ’n Saterdagmiddag of Sondagoggend in die Nord Hotel se kroeg kom soek! Dan het jy saam met die kliënt gery tot by die bank, die kluis is oopgesluit en die verlangde bedrag kontant is aan die kliënt oorhandig. In ruil daarvoor het jy sy spaarboekie in die kluis toegesluit en op die eerste werksdag daarna is die transaksie aangeteken en gestempel. Sodoende het ek baie “goodwill” gewen onder die kliënte. Uiteraard was al my kliënte aan die weermag verbonde. So was daar ’n staf-sersant by die tiffies wat my gereeld, tydig en ontydig kom vra het om die kluis oop te sluit vir geld. Ek het dit amper as ’n soort diens gesien en het sonder om te twyfel daaroor, dit gedoen. In ruil daarvoor was ek dan ook dikwels genooi gewees vir ’n sop en sjerrie-, of ’n kerrie en KWV-aand of sommer net ’n lekker steakbraai.

My herinneringe aan Tsumeb is maar beperk tot die rustigheid en die andersheid. Anders as Grootfontein, omdat ek altyd die gevoel gehad het dat dit ’n groter en meer geordende dorp was. Die Minen Hotel het ons ook nooit verby gery tydens ’n besoek aan die dorp nie. Die lekkerste pub lunches en koudste bier. Ai, hoe verlang ek nou. As ek reg onthou dan staan die ou kopermyn se skag in die middel van ’n pad. Die geskiedenis daarvan is nie heeltemal aan my bekend nie.

Dan onthou ek ook die Hoba-meteoriet en die Otjikoto-meer en ek was bevoorreg om albei te kon besoek. Dit is alombekend dat die Otjikoto-meer blykbaar onmeetbaar diep is, maar, (ek weet nie of dit ’n urban legend is nie) daar word beweer dat wetenskaplikes ’n pers vloeistof in die meer gegooi het en dat sekere hoeveelhede daarvan ’n sekere tyd daarna aan die Natalse kus uitgespoel het. Ek gaan dit nie vir die waarheid verkondig nie. Sal dit later gaan navors.

Nou ja, dit dan die een en ander oor my herinneringe uit ’n grepie van my lewe dertig jaar gelede. Uiteraard is daar sekere dinge wat ek al vergeet het, maar ek dink bogenoemde is ’n redelike akkurate weerspieëling van dit wat ek wel onthou.

Ek dink dikwels na oor al die goed en ek wens dat ek eendag weer die geleentheid sal hê om te kan terugloop op my spore en te gaan kyk hoe dinge vandag daar uitsien.

Groete,

Kolonie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top