Bokomo-brekfisbrief; 21/10/2010: Kiekies (met erkenning aan Lucas Maree)

  • 0

Soek die naweek 'n spesifieke foto van 'n dol dag wat lank in die vergetelheid lê. En raak vasgevang tussen die hordes fotoalbums en die bokse vol "foto first" koeverte met stapels foto's in wat weggebêre is vir eendag. En soos die soektog na die spesifieke foto voortduur word die albums opgediep en word 'n soektog 'n terugtog na die goeie en slegte tye. En die albums word een vir een uitgepak en die onthou lê weer vlak.

Want soos Lucas inderdaad beduie, het mense lank voor ek hier was, die kiekies so met die vier hoeke ingesit. Goeie manier gewees, want die albums wat later gekom het se gom is nie meer gom nie, want die goed val nou almal uit en die plestiek is los. En so sit ons om die kombuistafel voor die kaggel en probeer ontsyfer wie nou weer wie is. En wat van die of daai geword het. En mens verwonder jou aan die manier hoe kiekies destyds gevat is. Die waar die voorsate op pryk, staan die mans op aandag. En die gesigte is strak. Hulle "Pose" behoorlik. Begrafnisse was groot gewees destyds, want soos ek deur die kiekies gaan is daar hordes foto’s van kiste wat in grafte afsak. En treurendes rondom die gat. En dan een waar die kis onder in lê.

Foto’s neem was dus eintlik ook 'n okkasie, was dit nie? Jy het nie durf iemand betrap in 'n netelige situasie nie. Ek sit hier met honderde negatiewe wat Foto First eenvoudig net nie wou druk nie en bloot op die koevert geskryf het: "Not printable" (wat dit ook al mag beteken. Dalk het hie ou of vrou wat moes ontwikkel gesien die Sedebewakers sal kom toeslaan, ek wetie. Nietemin, ek sit nou met die goed. En ons sal dit maar liewer so los.

Ek staan verstom oor die warrelwindgang wat die tegnologie bied. Hoe ek nou met my selfoon net so 'n goeie en beter foto kan neem as die beste amateur. Ek sit en dink aan die dae se studeer aan die regte hoeke en die chemikalieë en sluiterspoed en beligting terwyl die doodgewone selfoon deesdae presies dieselfde doen en beter. Ek sit en dink aan die tye voor mens jou eie donkerkamer gehad het. Hoe jy vier of vyf dae moes wag vir jou foto’s. Later het die 24 uur ontwikkeling gekom en toe maak die manne dit sommer 60 minute. Met so 'n groot masjien wat slimmer as 'n mens is en sommer weet wat die beligting moet wees.

Ek het nog steeds my heel eerste "kamera". 'n 100 mm plat Kodak gedoente waar die film op 'n spoeletjie aan die agterkant ingesit is. En jy gedraai het tot hy se: "Klik". Later meer "professioneel" geraak met jou eerste opregte 35mm en so met die tyd saam verbeter het tot jy die tasse vol lense en ligmeters en outomatiese rollers en al die megafters gehad het.

Die klogoete sit verstom en kyk na mense wat lankal dood en wat soms nog af en toe in Die Burger verskyn. En hulle vra oor hoe ons dan nou daar was en hoe het ons die of daai geken dat ons hom/haar kon afneem. "Nee, ons het nie oom P******** geken nie, ons was daar met die kamera."

Die slim mense sê die halfleeftyd van 'n goeie outydse foto is om en by 250 jaar. Dis die tyd wat nodig is, blykbaar vir die papier om te vergaan. Ja, maar die leeftyd van die ou op die kiekie was maar net 50 of 70 jaar, so die ou leef tog dan bietjie langer, nè? Die foto laat hom/haar tog bietjie langer vertoef, soort van.

En nou sit ons in die digitale era met al wat leef en beef wat 'n goeie foto kan "vat". Hoe 'n sekretaresse jou kan afneem sonder die "flash" en sonder dat Ta dit weet en oormôre is dit op die voorblad van die Son. Foto’s is deesdae vreemde goed. Deesdae iets wat jy in jou selfoon se geheue stoor om volgende week te "delete". My kameras wat oor jare heen sorgvuldig aangekoop en met liefde versorg is lê nou weggepak in opregte kamerasakke wat lê en stof vergaar. Want selfs goed so volop soos film destyds is nou versamelaarsitems. Die spasie in die yskas vir jou rolle en rolle films dien nou as stoorplek vir geprosesseerde kase en eiers wat nie meer behoorlik oranje gelê het nie maar nou inderdaad geel gelê het. Die lang lens is nou vervang met 'n Carl Zeiss lensie wat kleiner is as jou simkaart.

Die nuwe era het al so ver gevorder dat jy jou ou films na digitaal toe kan oorsit en ek sit en wonder: wat is volgende en gaan dit ook maar net 40 of 50 jaar hou voor dit ook uit die oude doos is? Gaan ons nie dalk eindig met 'n paar kwashale op 'n doek nie?

Of, wie weet, dalk met 'n paar haastige houtskoollyne teen 'n grotmuur?

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top