Bokomo-brekfisbrief; 21/08/09: 'n Paar ou skoene

  • 0

Sit gister na werk op die agterstoep en vryf 'n paar baie spesiale skoene blink. My jongste meisiekind trou Saterdag. As ek haar die gangetjie afvat na die kansel van seker een van Pretoria se mooiste kerke, wil ek nie nét soos ’n koning voel nie, maar óók soos een lyk.

Skoene poets is ’n heerlike lekkerte wat ek aan my ma te danke het. Een oggend terwyl ek skool toe loop, het ’n groot lawaai van agter my laat omkyk. Tot my groot ontsteltenis sien ek dis Moeder wat só te kere gaan. Van ver af het sy aangestorm gekom en geskreeu:

“Stop. Stop! Jou skoene! Het jy jou skoene ge-“polish?”

In haar een hand was ’n blik Nugget, in die ander ’n skoenborsel en êrens het ’n oranje stoflap gefladder. Dis nou een van daardies met die rooi omboorsel wat, as dit nuut was, meer dons agtergelaat het as wat dit stof verwyder het.

Op straat moes ek my skoene uittrek en poets. Of ek laat kom of nie, was onbelangrik. Moeder het belangriker dinge op die hart gehad. Terwyl ek my skoene versorg, het sy vir my 'n paar dinge gesê. Was skaars agt jaar en het eers later besef my ma het nié daardie oggend vir my gepreek nie. Tog is dit omtrent die enigste “preek”, en daar was vele in my lewe, wat ek vandág nog onthou. Dis die enigste preek waarvan ek kan sê dit het my lewensopvatting, -uitkyk en -beskouing ten goede verander.

“Moet nooit wens vir iets wat jy nié het nie,” het Moeder gesê: “Om arm te wees, is nie ’n skande nie. Maar om arm te lýk, dis jou eie skuld. Dis hoekom jy nou daar op jou boudjies sit en jou skoene versorg. As daar eendag ’n ekstra geldjie is, sal Ma jou skoene laat versool. Tot dan moet jy die beste maak met dit wat jy het.”

Die skoene vir Saterdag het ek in 1978 gekoop vir R78. Dis 'n paar “oxblood” Florsheim Imperial pebble grain brogues. Destyds was R78 ’n fenomidabele bedrag vir ’n paar skoene. Een “wise crack” het selfs gesê met daardie tipe geld koop hy Grasshoppers se volledige reeks. Wat hy egter nié geweet het nie, is dat die skoene my niks gekos het nie. PW Botha het daarvoor betaal!

Ek het my verpligte militêre diens in 1972 voltooi. Dit was daardie jare vir enige jongman (en sekerlik sy ouers ook) lekker om te weet dat ál jou dienspligverpligtinge nagekom is en dat net ’n staat van totale oorlog jou moontlik weer ’n militêre uniform kon laat dra. Ewe skielik het ’n poephôl egter besluit om diensplig te verleng; ek is in 1978 opgeroep vir ’n vyfweekkamp. Waarom gepraat is van kamp, het ek gou uitgevind. Ek het my diensplig in die SA Vloot gedoen en matrose kamp nie - hulle gaan see toe. By die “kamp” is ons ingelig dat die land ekstra reserwes nodig het vir toekomstige binnelandse operasies en dat ons nie meer matrose was nie, maar dat die SAW van ons “marines” sou maak.

Die kamp was by die vlootbasis SAS Saldanha, seker een van die rustigste militêre basisse op die planeet. My ma se woorde van destyds het al die frustrasies weggevat. As mens toelaat dat die SAW die Weskus se rustigheid bederf, dan is dit jou éie skuld. Selfs daardie “pongo sergeant major” wat spesiaal afgevlieg is om ons op army-style te kom dril, kon ons nie onderkry nie. Sy tirades oor ons stupidity was eintlik komies. Dis hý - nie óns nie - wat stupid was. As hy “Halt” gebulder het, het ons onmiddellik gestop. Hy het nie besef dat as jy vir 'n matroos skreeu om te stop, daar nie tyd is om eers “skyt-een-twee” te gil voordat daar gestop word nie. Daardie ekstra paar steps kan mens op die golwe laat dryf. Moeder se woorde van soveel jare terug het 1978 se kamp ‘n lekker kamp gemaak. Op die laaste dag het elkeen boonop 'n bruin koevertjie ontvang. Daarin was R78 kontant.

Toe ek my skoene na baie terugflitse uiteindelik bêre, vra ek myself: “Hoekom word dinge deesdae só maklik vervang? Maak ons werklik die beste met dit wat ons het?”

Mooi loop.

Schnauz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top