My droom van as ek oud word is om so ʼn sexy ouma te wees soos Isabel Allende. Op haar ouer-wordende dag – in teenstelling met “oudag” – menende so om en by sestig, maar nog lank nie tagtig nie – het hierdie merkwaardige vrou ’n boek geskryf oor sinlikheid en kos wat sekerlik op my kortlys van die “tien beste boeke” sy ewige staanplekkie vasgeanker het.
Ek lees baie en my lysie van “tien beste boeke” bult maar op ’n magies multipliserende aard, maar by hierdie boek het ek ’n anker uitgegooi in die hawe van my leeswêreld. (En moet my liewer nie vra watter ander nege boeke nog op die kortlys is nie, want dan gaan ek vreeslik moet water trap! Ek dink darem ek sou definitief Tiziano Terzani en Doris Lessing op die lysie hê. Yogananda ook. Hannah Arendt. Orhan Pamuk. Breyten, onder meer.)
Soos by Marquez ontbreek by my ʼn innerlike toegang tot baie van Isabel Allende se ander boeke. Groot epiese dramas is nie my voorliefde in die letterkunde nie.
Ek hou meer van prosa as tydlose wysheid of sommer net tong-in-die kies prettigheid. (Wat my laat wonder waar Tom Sharpe en Alexander McCall-Smith op my lysie behoort te figureer! Ek is mal oor hul skuriele humor – nes dié van Eoin Colfer, al skryf hy kinderboeke. Ek het al die Artemis Fowl-boeke verslind, tot groot vermaak van my kinders.)
Nou ja, om ʼn lang storie kort te maak. Eendag het Oester 20 kilogram oesters (onvoorstelbaar!) by die LitNet-kantoor kom aflewer. Melt het “ongevoelig” ʼn foto daarvan op die internet uitgehang en my mond het behoorlik gekwyl toe ek die sak vol oesters sien. Ek het vol nyd – ja, die gees is ook maar swak – gewens ek kon myself in hulle kantoor beam om te help smul aan al daardie wonderlike oesters.
My beheptheid met oesters hang egter nie net saam met die herinneringe aan daardie legendariese oesterpiekniek van jong verliefdes by St Malo nie, maar ook met Isabel Allende. Ek glo mens kan eers werklik die volle omvang van die sinlikheid van oesters-eet ervaar as mens ook haar beskrywing daarvan gelees het in Aphrodite: A Memoir of the Senses. Ek brei liewer nie uit nie, maar diegene wie se nuuskierigheid geprikkel is, kan gerus bietjie loerlees in die boek oor wat sy skryf oor “oysters” ...
Maar dis nie net Allende wat my beheptheid met oesters geprikkel het nie. Marita van der Vyver ook. In Griet skryf ʼn sprokie is daar ʼn stukkie oor “angels on horseback” ... Dis gerookte mossels wat toegewikkel word in spek en dan vinnig in die oond onder die oondrooster brosgebraai word – die perfekte happie saam met sjampanje vir baldadige oomblikke in die lewe! Nou ja, hierdie engele verlei mens seker dan ook tot ander dinge ...
Daar is iets van sulke ervarings wat in mens se geheue bly vassteek, wat onvervangbaar en ongeëwenaar bly – juis omdat dit ook te doen het met herinneringe, met kleur, smaak en konteks.
Ek het jare lank vir my ma probeer verduidelik waarom my tannie se pampoenbredie beter as hare is, en waarom haar melksop beter as dié van enigiemand anders is. My tekortkoming, het ek eers baie later besef, was dat ek nie daaraan gedink het om te vertel dat dit ook met die atmosfeer saamgehang het nie.
My tannie het ʼn geel kombuis gehad en haar hare was altyd netjies ligpers gekleur en in ʼn stywe kapsel om die grys te verdoesel. In hierdie netjiese en vrolike kombuis het sy skaapvleis met uie, ʼn paar snysels witkool en boerpampoen tot ʼn ongelooflike dis omskep. Haar hand het dartelend en ruimskoots kruie oor die dis-in-wording gestrooi, en ek het met die oë gesteel. Natuurlik het dit my ma gegrief dat haar suster een van my lieflingsdisse beter kon berei as sy. Dit het vir haar ʼn innerlike wedstryd geword waar die trofee my goedkeurende taksering geword het. Natuurlik was haar bredie glad nie soveel slegter nie, maar die atmosfeer was anders.
Net soos by die melksop op ʼn koue wintersdag as ek van die koshuis af huis toe gekom het vir ʼn naweek ... Ons het ʼn groot houtstoof gehad, ʼn Sweedse model waarvan ek die naam al vergeet het. Ek weet dat dit nie ʼn Aga was nie, maar sien dit nog steeds in my geestesoog. Links agter in die hoek het daar ʼn swaar emalje-pot gestaan met melksop – so ʼn dik ryk sop met groot kaneelstukke in. Heerlik! Maar dit was ook die geur daarvan, die warmte van die stoof en die tuiskoms wat “huis” gesimboliseer het wat die melksop se lekkerte in my geheue ingegraveer het. Jare later het ek eendag vir haar gevra om tog weer ʼn slag melksop te kook, maar dit was net nie dieselfde op die elektriese stoof nie. Dit het anders gesmaak ...
Maar hoe verduidelik mens só iets vir iemand?
Pouveer


