Bokomo-brekfisbrief; 21/07/09: Die koffiesugtiges

  • 0

 

 

Dit is koud vroeg-vroeg vanoggend. Bitter koud hier in Jozie. Die koffiesugtiges, die oudstryders wat al jarre hier koffie slurp, is stiller as gewoonlik. Ons het almal daai eerste rillige sluk nodig voor ons selfs groet of bewus raak van waar ons is. Ons, die klompie "regulars" in die "agtervertrek" (Dis nou agter die kombuis buite oog van die "mense" wat later kom), het ons koffierituele al tot die been verfyn. Jy hou jou se bek tot na die eerste sluk. En as jy dan moet groet, doen jy dit sagkens. ʼn Kopknik of ʼn halwe wuif is goed genoeg. Selfone is AF!

Jy weet nooit wie nog slaap nie.

Selfs die kelnerinne, liewe goed, sit die stomende, na elk se smaak gemaakte koffies stil en woordeloos, amper gewyd voor ons neer. Hulle weet wie warm of koue melk "vat". Wie "pilletjies" of suiker wil hê. Wie katpiepiemelk of volroom bygooi. Elkeen se eerste sluk is ʼn klein ontwaking. ʼn Woordelose zen-agtige bewusword van omgewing, kleure, geure en koffiekroeggeluide.

Dus, "Saggies, broer, saggies".

Andries, die eienaar van die heilige plek, weet ook al dat hy homselwers maar moet skaars hou tot die spul hulself ingerig het. Die koffie is nou nie Blue Mountain-kwaliteit nie, maar is drinkbaar. En vir diegene in die agterkamer, barbaars sterk en "bodemloos." Ons ken mekaar se stories. Wie gister nog geld gehad het en nou met sente betaal. Wie waar oorsee was of wie se vrou gedros het. Wie ter helle is, of teen hulle eie spoed op pad daarheen is. Elk se ipekonders en ongedurigheid.

Ons ken mekaar.

Die plek is ʼn bymekaarkomplek van gelykes. Hier is jy veilig en, as jy jouselwers gedra, in volle harmonie met diegene om jou. Jy word verdra ten spyte van jou politiek, geloof - of afwesigheid daarvan -, jou status of die feit dat jy nie so ʼn ding het nie.

Moet net nie sukkel nie.

Vat nou maar vir Herr Horst. Klein, skraal en Duitsbedonderd. Hy is vanoggend glad nie gelukkig nie. Mens sien dit aan sy binnekom en sy sit. Aan sy grimmige staar na die koppie koffie voor hom. Hy is duidelik besig om die nodige moed bymekaar te skraap vir daai eerste sluk.

Ek wag tot na sy eerste koppie.

Hy praat net Duits. Afgetree. Laat sewentigs. Wie weet. As kind gedurende die oorlog SS Hitlerjugend. Vertel hy my in een van sy afdae dat hy as veertienjarige aan die grens tussen Pole en Rusland sy bes gedoen het om sy skraal gat uit die pad van Russiese kartetse te hou. Dat Panzer Meyer uit ʼn omsingelde front vir die jonges ʼn wegholpad oopgeskiet het. Loop hy hom later vas in ʼn Amerikaanse soldaat in die buitewyke van ʼn vrotgebombardeerde Berlyn. Hy en so ʼn swetterjoel ander kinders sit in ʼn kamp. Die Engelse neem die kamp oor. Op ʼn dag trek die Kampbevelvoerder, ʼn Engelse Majoor, hulle op ʼn knop en vertel dat die Russe op pad is en dat die deel van Berlyn nou aan daai ouens behoort. Die Engelse gee dus pad. So terloops vertel die Majoor dat hy vir ʼn uur lank die kamphekke gaan oop los en dat die kinders óf kan waai óf kan bly. Hy waai. So leef hy tussen treine en twee jaar later dros hy van ʼn skip in Kaapsehawe.

Hy het ʼn storie.

G'Tag, Herr Horst.

Tag', Herr HJ."

Wie gehts?

F#%# sleg! (Dis die eerste keer dat ek hom Afrikaans hoor praat!)

Nou hoe dan so?

Ek word sleg! Ek is met min klere deur die Russiese winter, die Poolse winter, die Duitse winter en nou kry ek koud in ʼn Suid-Afrikaanse winter wat nie eens ʼn tiende so koud is nie!

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top