Hier volg 'n bietjie bewonderaarspos. JC Kannemeyer se nuutste publikasie is omtrént 'n boek. Ek hoop dit bring vir hom baie tantième en akkolades in, want die werk verdien dit. Dis mooi uitgegee en hou lekker vas en dit lees soos 'n droom. Dis teen R375 oënskynlik 'n duur boek, maar 'n mens kry, wat volume betref, omtrent drie boeke, so die prys is nie sleg nie.
Leroux het 'n hengse voorbeeld gestel en sy skaduwee sal seker oor ons strek tot 'n volgende skrywersgeslag so sterk soos die Sestigers na vore kom en revolusionêre boeke skryf. Dis jammer dit het nog nie gebeur nie. Die Tagtigers het hulle merk gelaat, maar alle oë is nog steeds op Brink, Schoeman, Joubert en Leroux waar dit kom by groot reputasies.
Die boek bied 'n oorsig oor literêre gebeure van die afgelope vyftig of wat jaar. Bekende figure en instellings tree aan: die Louw-broers, Brink, die gedoemde Skrywersgilde, bevoegde en onbevoegde uitgewers, Nederlandse kundiges. Die blyke van binnegevegte is baie interessant. 'n Mens moet wonder oor die verklaring dat die Universiteit van die Vrystaat Leroux "opgeëis" het vir homself en 'n akademiese "industrie" van die man in swart gemaak het. Indien daar wel so 'n "industrie" bestaan, is dit hoegenaamd 'n slegte ding? 'n "Industrie" kan net bydra tot sy reputasie. Of bring dit 'n mens by 'n punt waar jy moet begin vra hoe groot literêre reputasies in alle redelikheid moet wees? Hoeveel van Leroux se reputasie spruit nie uit 'n (weliswaar bewonderenswaardige) lojaliteit teenoor 'n heengegane figuur uit 'n vervloë era nie? Jonger skrywers word nog gereeld met Leroux vergelyk en onvermydelik te lig bevind. Is dit met reg? Maar dit 'n eie bespiegeling.
Kannemeyer het self 'n lywige reputasie en 'n mens moet wonder wie anders sulke gehaltewerk as literêre navorser en optekenaar kan lewer. Intussen, as ek as upstart leser kan praat, moet ons ons verlustig in hierdie vertelling.
Gees


