Of die ou met die hoed? Nie? Wel, Dolf het vir Oom Tas goed geken. Sover ek weet die enigste vyf liter glaskan steeds op die mark.
Baie goed om die waarheid te sê. Of moet ek sê: Te goed? En enigiets met 'n "te" aan buiten te voet en te perd en tevrede is gewoonlik nie goed nie. Of so het die ou mense mos beduie, en ek het 'n vermoede hulle was nie ver uit nie.
Nietemin, Dolf was een van ons ou manne gewees. Altyd gewillig al daag jy donker op 'n Sondag in die Winter by sy huis op om Blou Dam toe te gaan.
Maar nie oud soos in jare nie. Oud soos in 'n ander soort van oud.
Om een of ander vreemde rede was Dolf se duikpak altyd flenters. So, as dit by aantrekslag kom voor die waters dan sukkel Dolf altyd want hy trek twee flenter pakke oor mekaar aan. Asof dit sou help. Want ons het hom altoos beduie dat 'n flenter duikpak jou amper net so koud laat as geen duikpak nie, maar Dolf het ons afgelag. Mens stry mos later nie meer met iemand wat klaar sy gedagte opgemaak het nie, doen mens?
Maar Dolf het een groot liefde in die lewe gehad buiten die ene wat op twee bene loop: Nommer 7, of wel, Oom Tas, as jy wil. Ek het al probeer dink of ek vir Dolf een keer nugter gesien het en ek kon die paar kere op my een hand opnoem. Nie dat hy 'n probleem was soos dronkes gewoonlik is nie, want mens het hom mos so gekry, dan nie? Ek wetie en ek gee ook nie om waarom Dolf nooit nugter was nie, dit was sy probleem. Maar Dolf was nie soos ander dronkes nie. Hoe dronker hy was hoe meer besadig was hy gewees, en ek dink steeds dat die enigste mense wat die verskil kon agterkom was die mense wat hom goed geken het.
Soos Rita, Dok T se beter helfte (Jammer Dok, maar jy weet dis waar dat sy jou nog meer vervolmaak). Want Rita het altyd gesorg dat Dolf behoorlike kos inkry want by die huis het hy nie gebodder om enigiets wat nie in vloeistofvorm was in te neem nie. Eendag, as sy toestemming gee vertel ek vir jou hierdie besonderse vrou se verhaal. Sonder om te hoe-ha is sy een van die vrouens wat hierdie land maak werk.
Eendag het ek vir Dolf nugter gesien, en ek het hom nie herken nie. Mens leer mos 'n persoon ken aan hoe hy loop of staan of beduie of sy liggaam se staan. En die man wat aangeloop gekom het het nie hoog getrap nie. Dolf het 'n manier gehad om altyd hoog te trap as hy stap. Mens kan dit net fisies demonstreer want woorde sê tog mos net soveel, nè?
Dit was die dag wat Dolf nie meer wel gevoel het nie. En toe na die enigste betroubare dokter binne vyfduisend seemyle toe is. Ek was nie daar nie en dit is dokter-pasiënt geheime maar ek weet dat my geliefde Dok vir Dolfie beduie het dat sy lewer basies ingegee het. Ek het 'n vermoede (want ek het vir Dolf geken) dat hy die logiese vraag sou vra: "Moet ek ophou drink, dokter?"
Wat ou Dok vir Dolf beduie het is ook geheim, maar ons het jare later daaroor gesels sonder om geheime te verklap. Ek dink as Dolf aangehou drink het sou hy dalk 'n maand of wat langer geleef het. Ek is nie 'n dokter nie en my kennis van anatomie of geneeskunde is beperk tot dit waarmee ginekoloë hulself mee besig hou, so my opinie tel nie regtig nie. Die skade was reeds gedaan, so hy kon netsowel in sy laaste oomblikke uitgegaan het met sy glasie Nommer 7.
Of dalk het hy, want ons sal nooit weet nie, sal ons?
oester

