Bokomo-brekfisbrief; 21/05/09: Shocking experience ...

  • 0

 

 

So ʼn ruk gelede het ons ʼn familiebyeenkoms duskant Kalkrand gehad. Nou ʼn familiesaamtrek in Namibië, nie noodwendig bedoel vir direkte familie nie; mense van heinde en ver, soms wildvreemd, kom saam met een doel voor oë: kuier ...

Daar ontmoet ek familie van oorle oom Jan Spies. Hy was goed bekend aan my.

Dit laat my toe dink aan ʼn storie wat aan hom toegedig word. Ek weet nie of dit die waarheid is nie; oom Jan was maar ʼn sedige ou siel. 😉 In elk geval, so loop die storie ...

Die twee manne van Springbok se wêreld besluit om vir die eerste keer in hul lewens die groot dorp, Upington, aan te durf. Plaasmense ken nie van die buitewêreld nie. Eenvoudige, sout van die aarde manne - geen donker kant van die siel by hulle nie.

Nou voor die manne die uitsonderlike ondervinding aangepak het, het hulle eers by Dominee ʼn draai gemaak ... vir die wis en die onwis.

Dominee was ʼn belese man en het hulle mooi van die groot dorp se gevare en verleidings verduidelik. Hulle vertel van diefstal, egbreuk, begeertes van die vlees ensovoorts. Die manne, Jan en Gert, was diep onder die indruk van hulle gevaarlike tog.

Vrydagoggend vroeg pak ons twee helde die stofpad aan. Arriveer op Upington met lywe lekkerder as gewoonlik, die stof veroorsaak dors en Jan het hoeka ʼn mampoertjie teen slangbyt ingepak; mens weet nooit wat kan gebeur op die pad nie.

Hulle boek by die enigste hotel doerie jare, Oasis, in. Heel uit plek, vreemd ongemaklik.

Voor by ontvangs wil die koddige mannetjie met die dik bril al die gegewens op die kaart invul. "Naam?" vra hy aan Gert.

"Neef, noem my sommer Gert," antwoord broeder Gert, en steek sy hand uit om blad te skud. Die mannetjie ignoreer die uitgesteekte hand en vra: "Gert, kort van wat?"

"Kort van Springbok, ons het nou net hier aangekom," sê Gert en bêre sy hand in sy broeksak. "Ongeskikte klomp donners dié," fluister hy onderlangs aan Jan.

Die mannetjie sien hier gaan hy lank staan en skryf Gert op die kaart.

"Van?" vra hy.

"Jong, is jy doof? Neef Gert sê mos ons is van Springbok," verduidelik Jan half ongeduldig.

Die mannetjie loer oor die dik brille. "Meneer ... Gert wie?" vra hy half moedeloos.

"Jinne, lyk my jy is heeltemal onnosel? Hierdie Gert, hy het mos gesê sy naam is Gert," en Jan beduie na Neef Gert. "Ek is Jan en dit is Gert, ons is vanaf Springbok en ons wil hier in die hotel oorbly vir ʼn dag of drie. Wat is nou so moeilik daaraan?"

Die mannetjie skud sy kop en skryf op die kaart Gert en Jan van Springbok.

"Menere, die vorige mense het nou net die kamer ontruim; ons wil dit eers skoonmaak, dan kan julle opgaan," verduidelik hy half versigtig. "As menere nie omgee nie, kan julle solank in die kroeg wag. Sodra die kamer gereed is, sal ek u laat weet."

Die woord kroeg is die magic woord vir Gert en Jan. Dadelik is alles vergewe en vergete.

"Waar is die plek?" wil Gert opgewonde weet.

"Deur daardie deur daar," beduie mannetjie na die teenoorgestelde kant, nou duidelik verlig.

"Dankie" kom aangesweef so in die spoed wat die manne die deur bestorm.

Gert maak die deur oop, en dit is asof hulle die paradys betree. ʼn Kroegtoonbank van hier tot in ewigheid; drank, rye en rye op die rakke. Orals fris boerseuns en manne wat aan die toonbank hang.

"Net soos Dominee beskryf het," kry Jan uit. "Gert, hierdie sonde moet ons in diepte ondersoek," lek hy sy lippe af.

"Nou laat ons vat, neef Jan, laat ons vat," en Gert wikkel sy groot lyf teen die toonbank vas.

Die manne kuier, die manne drink, die manne raak belustig, jukkerige gevoelens begin krap.

"Neef Gert, waar kry ons daai tweede groot sonde, die een wat Dominee so mooi verduidelik het?" wil Jan weet.

"Watter sonde sal die nou wees?" vra een van die hangers.

"Neef, daardie sonde van die vlees, die sonde van losse vrouens," verduidelik Jan, half onvas op sy voete.

"Man, vra net by die barman, hy het genoeg nommers van los vrouens," help mede-hanger.

So gevra, so gedoen. Die barman reël vir Gert en Jan elkeen ʼn vrou van baie losse sedes.

Jan besluit, met die hulp van mede-hangers, om syne op ʼn motorbootrit op die Oranjerivier te neem. Onse Jan was nog nooit op ʼn motorboot nie en dit klink vir hom sommer baie romanties. Dit word óp daad vir hom gereël, net hy en sy ... alleen op ʼn motorboat.

Die kamer is reg, die manne stort, spuit vlooie dood met moffie juice, en daar gaat hulle.

Gert se losse vrou het sommer ʼn self service kamertjie; hy trek in vir sy diens.

Jan se ‘gelukkie' is wragtig ʼn beeld van ʼn vrou. Hy kry rillings op en af teen sy lyf. Sekere dinge, deur die natuur beheer, wil-wil kop uitsteek. Jan beheer homself, vat die girl se hand en stap af rivier toe.

ʼn Klein maar doelgeboude bootjie wag op hulle. Jan klim in, help sy liefie baie angstig (hy), die bootjie in. Trek-trek die enjintou, en daar gaat hulle. Hy besluit om stroomop te vaar, dan gaan hy meer tyd hê om op sy girl te konsentreer. Die son begin aan die westerkim raak, die water kabbel saggies teen die boot heen. Jan is in sy element.

Soos hy self agterna vir Gert vertel:

"Man, ons vaar saggies stroomop, die Pop kom lê romanties in my arms, die sonnetjie gooi laaste strale oor haar gesig. Ek vat my se linkerhand en sit dit op haar regterbeen. Sy sug diep, haar bene val oop soos ʼn góéd gelese hoofstuk in ʼn boek, reg op die plek. Om nie die plek te verloor nie, plaas ek my hand daarop, Gertman, en daar het sy nie ʼn draad onderklere aan nie. Ek draai om om die boot se enjin af te skakel ...

"Gert, ek vertel jou, so sjoep-sjap en da lê die girl in die water ... gaat staat en vat ek mos mooitjies aan die sparkplug."

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top