Bokomo-brekfisbrief; 21/04/2010: Die saligheid van 'n Mauritius wittebrood ....

  • 0

Sand, son en see, wortelboomwoude, suikerriet en rum. Mauritius is ‘n paradys sinoniem met luilekker stranddae waarin pasgetroude paartjies tropiese gemarineerde drankies deur ‘n strooitjie opslurp terwyl die son kyk of hy deur die sonskermroom op die talle onbeskaamde (wit) lywe op die strand, kan dring. 

Met die eerste verskyning van ‘n wit strepie sand, swart rotse en die welige suikerriet groen plantasies, vanuit die vliegtuig, het die brosjures by die reisagent se beloftes meteens vir my en my Bruidegom ‘n werklikheid geword. Turkoois water en palmbome wat stervormige skaduwees op wit strand gooi, is alles waar! Ons hele wese was met die natuurskoon gemasseer.
 
Terwyl die vliegtuig nog op die aanloopbaan kreun om sy perfekte landing te maak, het ek vir ‘n oomblik met my gedagtes geworstel. Wat as die brosjures gejok het oor die hotelkamer? Sê nou ons wittebroodkamer het ‘n uitsig oor ‘n pakhuis en die badkamer ruik na ‘n visdam?  Met ons aankoms by Ambre Oord vervaag die gedagtes en word ons toe verwelkom met ‘n paar breë glimlagte, ‘n sterk vleiende Franse aksent, helpende hande wat die bagasie gewillig aandra, ‘n heerlike Buffet-ete en ons kamer kyk uit oor die see ...  Ons uitsig kon nie beter wees nie! 

Die Ambre Oord self het alles wat ons nodig gehad het vir sewe dae: Swembaddens, restaurante, ‘n spa, gratis cappuccino’s (ons pakket was baie gebruikersvriendelik), Buffet-etes drie maal per dag (met soveel kossoorte om van te kies en keur dat ek gewens het ek was Jimmy Abbot. Vier soorte vleis en vis op jou bord, waarom dan nie?), watersport-geriewe (as ek net nie so bang was vir diep onbekende water en vrees vir honger haaie nie, was hierdie my kans om agter ‘n motorboot te sweef asof ek in ‘n Stuyvesant-advertensie optree). Afgesien van die watersport het die Katamaran-reis opgemaak en gesorg dat dit steeds ‘n Liefdes-Wittebrood-pakkettoer-avontuur vir 'n fantastiese sewe dae is!  ‘n Lokval vir pasgetroudes!

Met behulp van ons gids (Binda) met sy luukse Toyota (met lugreëling) kon ons vir 'n hele dag die pad vat na die omliggende natuurbesienswaardighede. Ons het gesien hoe skepe ontwerp en gebou word, hoe diamante uitgestal en te duurste verkwansel word, hoedat Persiese matte geweef word, hoe water vanuit ‘n berg stroom, hoe ‘n ou vulkaan rus in die vorm van 'n hartwaterpoel,  waar die heidene aanbid en hoe die natuur mooi skilderye skilder so ver as jou oog kan kyk. Terwyl ek en my manlief agter in die Toyota ontspan en saam met Binda toer, het ek nogal besef dit is maklik vir Suid-Afrikaners om in Mauritius te bestuur, want hulle ry ook aan die linkerkant van die pad (as hulle te veel rum geknak het, dalk nie).

Mauritius se paaie het baie verkeersirkels, selfs op die enigste “snelweg”, wat rofweg van Noord na Suid deur die eiland loop. Dis dus die heeltyd amper soos om deur Welkom te ry, net met ‘n mooier landskap!  Behalwe vir al die mooi en lekker  was ons besoek aan die Eiland ook opvoedkundig. Ons toergids het my en manlief (alhoewel hy nog voel soos my Bruidegom) geleer dat Mauritius se geskiedenis verweef is met suiker(riet).  Die eerste suikerriet is blykbaar deur die Hollanders daar geplant (rofweg nadat hulle die laaste Dodo opgeëet het).  Geskiedenis vertel ook dat Indiese kontrakarbeiders van wie meer as 500 000 in die negentiende eeu na Mauritius verhuis het, om in die plantasies te werk.  Ek dink persoonlik  dit moes ‘n wilde wêreld gewees het vir die Hollanders. Hulle het glo hulleself getroos deur baie arakwyn (van ‘n plaaslike plant) te drink. Net jammer oor die dodo’s ...

Nietemin. Tydens ons katamaran-uitstappie (wat ‘n visbraai aan boort ingesluit het) kon ons kunssinnige inkopies doen, die eiland in fyner besonderhede besoek, sandale uitskop, die sand tussen ons tone afvee en kaalvoet onder ‘n grasdak by ‘n Eiland restaurantjie digby die strand ontspan en liefdevol vir mekaar oor dik wit skuime van ‘n Cappuccino loer, terwyl ons (waternat en droë) oomblikke met my nuwe Canon vaslê. Orals dwing die landskap elke toeris om stil te hou – die berg, die see wortelboomwoude, vissersbote, kinders wat met tuisgemaakte seilbootjies in die vlak water speel, ‘n man langs die pad wat pynappels met ‘n lang stok loswikkel, ‘n vrou wat op ‘n balkon staan en stadig haar hare losmaak ...
 
Die Gerber’s het natuurlik soos Adam en Eva (voor die sondeval) in Mauritius se paradys gekuier. Ons Eilandvakansie was alles behalwe stroopsoet.  Ons het nou wel nie aan die Mauritius se plaaslike Rum-proe ‘n kans gegee nie (want dit skop), tog sal die foto's geheime verklap en vertel dat die Liefde geblom het en ons Mauritius Wittebrood waarde vir geld en die sonbrand elke sent werd was ...

Dalk kan ek die hele Mauritius Wittebrood-ervaring in Jasmyntaal vergelyk met suiker: Sewe dae, sewe soorte smake. Sommige growwe kristalle, ander fyn, party pure melasse ander suiwer karamel wat smelt in die mond ...  

xxx

Kaalvoet Jasmyn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top