Bokomo-brekfisbrief; 21/04/09: Haar naam is Ragel

  • 0

 

 

My oom At was 'n mooi man. Hy het in Gamka 'n stukkie grond in 'n vrugbare baarmoeder omskep. Saad wat eers in sy hande gelê het, het in hierdie baarmoeder van die aarde ontkiem en vrugte en groente gedra. Die ryp gawes van die grond het weer mense deur honger tye gedra.

Hy was bruingebrand en gespierd. Oom At het van my gehou. Hy het nooit gedink dat ek die stoutste kind was wat nog hier in Afrika se sand spore gemaak het nie. Hy het gedink ek is oulik. Ek het vakansietye sy spore my spore gemaak. As dit skemer was, het ek onder die bont koeitjie gaan lê. Ek het my mond wawyd oopgemaak. Oom At het sulke dun straaltjies baie vars, lou melk in my mond gespuit. Varser melk kon jy nêrens in 'n bottel kry nie.

Die wingerd het hulle klein, ronde kruikies vol soet sap getap. As die druiwe ryp was, het oom At dit op 'n sif uitgepak. Die water in die druiwe is weer vir die son geoffer. Die son het die suiker vir ons in verrimpelde druiweskilletjies gelos. Oom At het van die rosyne in 'n streepsak agter die kombuisdeur gesit. Stukkies hemel, sowel as stukkies aarde het soms op ons gewag.

Eendag het mense van die dorp 'n mooi, nuwe sementblad op Ouma se stoepie kom gooi. Net toe die sementblad kant en klaar was, het ek 'n stokkie geneem en so mooi soos ek kon op die stoep geskryf: "Oom At, oom At is mooi". Foutloos. Ouma het dit eers raakgesien toe die sement so droog soos die droë rivierlopie was. Haar wange het gelyk asof daar 'n appelkooslekker in elke kies was. Sy was kwaad. Oom At se oë was vol lag. Hy het my kop gestreel. Hy het net twee seuns gehad. Attie en Danie. Ma't altyd gesê dat hulle onbruikbaar is.

Ek was nege jaar toe ek die tyding hoor. Oom At en antie Rina het 'n dogtertjie ryker geword. Die baba se hare was spierwit. Die madampie het in haar pa se arms gelê. Oom At het my nie eens raakgesien nie. Haar naam was Ragel. Haar vel was so wit soos die klippies wat tussen die rooi randjies gelê het. Die kind het met die tyd groter geword. Haar pa het hand aan hand met haar geloop. Ek het hulle van my ouma se stoepie af dopgehou. Dit was net Ragie voor en Ragie agter. Vir my was dit te laat om die sementwoorde van Ouma se stoep dood te vee. Niks was meer dieselfde nie. Oom At het nou sy eie dogterjie gehad. My hoofrol het verskuif na 'n piepklein byrolletjie in oom At se verhaal. Sy wou nie eens haar kreupel hen met my deel nie.

Die jare het nooit opgehou loop nie. Soms het ek gewonder wat van Ragel geword het.

Toe, sommer so van nêrens kom lê die e-pos een aand hier op my skerm. Ragel het my spoor gekry en my tot hier gevolg. Luglangs. Sy borrel en sy bruis. Sy is 'n pragtige vrou. Binne 'n kwessie van drie dae en drie uur, weet ons alles van mekaar af. Kiekies vlieg luglangs en kom maak sagte landings op my skerm. Ragel bly my niggie. Oom At is lankal dood en ouma se stoep het lankal 'n nuwe blad. Ragel vertel dat sy altyd jaloers op my was. Oom At het baie van my gepraat. Ek het dit nooit geweet nie.

Ons begin van voor af. Ragel word vinnig deel van my lewe. As ek die dag nie woorde van haar af kry nie, is ek omgekrap. Ons kuier snags deur ons vingerpunte op toetse te laat rondspring.

Ongeveer ses weke nadat ons mekaar weer ontdek het, kom die nuus. Daar's 'n knop onder haar arm. Die uitslag dra 'n pienk lintjie. Borskanker. Ek huil die toetse saans sopnat. Sy begin elke toets in die boek met lof slaag. Ragel het besluit om die doodskleed van haar arm af te haal. Sy't dit gaan wegsluit in 'n diep, donker tas. Sy het kopdoeke gekoop. Ek het vir haar 'n blou hoed en 'n engel met blikvlerke gestuur. Die pakkie met die seëls en die bruinpapier het haar posbus se nommer opgespoor.

In Sarie se April-uitgawe was haar briefie die wenbrief. Sy het gekies om te lewe.

Verlede week het die oog wat alles sien weer kanker in 'n rugwerwel opgespoor. Ek vra vir die hoeveelste keer wat die anker in die woord kanker maak.

"Drink 'n wyntjie op my", laat sy weet. Ek soek 'n timmerman wat die vraagtekens kan omdraai en in stewige hakke verander. Ek wil hoop en lewe aan die hakke hang en 'n splinternuwe sementblad oor haar kanker gooi. Nes Ouma se stoepie ... Daar's 'n kan ook in die woord kanker. Ja, daar is ...

(Is dit toeval dat die enigste hennetjie wat op my werf rondloop kreupel is?)

Wini Esterhuizen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top