Bokomo-brekfisbrief; 20/11/09: Op die pad

  • 0

Dawid is sy naam. Boesman is hy. Ek ontmoet hom eensaam en verlate naby die Brandberg, op pad na êrens. Hy vra nie, hy wink nie, hy kyk net. Ek stop.

"Mirrag, meneer. Meneer het nie dalkies water vir my?"

Hy ledig 'n twee liter kan, sy maag swel effens. Ek gee hom toebroodjies en met klappende hande ontvang en verslind hy.

"Niemand ry ooit hier nie. Meneer is die eerste in twee weke."

"Waarheen gaan jy?"

"Na my mense se plek, meneer", en hy beduie na die Brandberg.

"Daar is geen Boesman meer."

"Ek weet, meneer, maar dis waartoe ek gaan."

"Wil jy saamry?"

"Nee, meneer, ek moet stap. Terwyl ek stap moet ek dink en terwyl ek dink moet ek sing."

"Hoekom?"

"Die grootdorp van die witmense het my siek gemaak, meneer. ‘n Sleg vrou ook. Ek gaan soontoe om by my vaders te bid, meneer."

"En as jy nie gesond word?"

"Dan is ek by die huis, meneer."

Ek gee hom nog water en brood en neem 'n foto. Hy glimlag, draai om en stap verder. Agter hom volg sy skadu, 'n tekening van eens op 'n tyd.

Swerwer

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top